“Onthou jou sambreel!”
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN BRITTANJE
OP ’N gewone dag in Brittanje dra baie mense ’n sambreel. Jy kan nooit seker wees dat dit nie gaan reën nie. “Onthou jou sambreel!” roep ons vir mekaar terwyl ons uit die huis loop—en dan vergeet ons dit dalk ingedagte op die bus of trein of in ’n winkel. Ja, ons is geneig om ons draagbare skerms as vanselfsprekend aan te neem, aangesien ons altyd nog een kan koop. Maar die sambreel is nie altyd as iets alledaags beskou nie.
’n Eervolle geskiedenis
Die eerste sambrele het blykbaar niks met reën te doen gehad nie. Dit was simbole van status en eer, wat net vir belangrike mense bedoel was. Beeldhouwerk en skilderye wat duisende jare oud is en uit Assirië, Egipte, Persië en Indië kom, beeld knegte uit wat sonskerms oor heersers hou om hulle teen die son te beskerm. In Assirië is slegs die koning toegelaat om ’n sambreel te hê.
Deur die geskiedenis heen het die sambreel nog altyd mag verteenwoordig, veral in Asië. Hoe meer sambrele ’n heerser besit het, hoe meer aansien het hy geniet, soos die voorbeeld van die Birmaanse koning toon wat Heer van die vier-en-twintig sambrele genoem is. Soms was dit belangrik hoeveel skerms daar bo-op mekaar was. Die keiser van China se sambreel het vier skerms gehad en die koning van Siam s’n het sewe of nege gehad. Die sambreel is vandag nog ’n simbool van gesag in party Oosterse en Afrikalande.
Sambrele in godsdiens
Die sambreel is vroeg in sy geskiedenis met godsdiens verbind. Die eertydse Egiptenare het geglo dat die godin Nut die hele aarde met haar liggaam beskerm, net soos ’n sambreel. Mense het dus onder hulle eie draagbare “dakke” geloop om haar beskerming te verkry. In Indië en China het mense geglo dat ’n oop sambreel die hemelgewelf voorstel. Vroeë Boeddhiste het dit as ’n simbool vir die Boeddha gebruik, en die koepels van hulle monumente het dikwels sambrele bo-op. Sambrele speel ook ’n rol in Hindoeïsme.
Sambrele het teen 500 v.G.J. na Griekeland versprei, waar dit by godsdiensvierings oor die beelde van gode en godinne gehou is. Ateense vroue het hulle knegte ’n sonskerm oor hulle laat hou, maar min mans sou so ’n voorwerp gebruik. Die gebruik het van Griekeland na Rome versprei.
Die Rooms-Katolieke Kerk het die sambreel by sy seremoniële ampsierade ingesluit. Die pous het onder ’n sysambreel met geel en rooi strepe begin verskyn, terwyl kardinale en biskoppe s’n pers of groen was. Tot vandag toe het basilikas ’n stoel vir die pous met ’n ombrellone, of sambreel, daaroor in die pous se kleure. Die kardinaal wat tussen die dood van een pous en die verkiesing van die volgende pous as hoof van die kerk dien, het in daardie tyd ook ’n ombrellone as sy persoonlike embleem.
Van sonskerm tot reënskerm
Vandag onderskei ons tussen die sambreel vir wanneer dit reën en die parasol om ons teen die son te beskerm, maar oorspronklik het nie een van die woorde met reën verband gehou nie. Die woord “sambreel” kom van die Latynse woord umbra, wat “skaduwee” beteken, en die uitdrukking “parasol” kom van woorde wat “beskerm” en “son” beteken. Dit was die Chinese of moontlik die vroue van eertydse Rome wat begin het om hulle papierskerms met olie of was te smeer as beskerming teen die reën. Maar die idee van ’n son- of reënskerm het in Europa verdwyn tot die 16de eeu, toe die Italianers en later die Franse dit weer begin gebruik het.
Teen die 18de eeu het vroue in Brittanje sambrele begin gebruik, maar mans het nog steeds geweier om iets te dra wat hulle as vroulike tierlantyntjies beskou het. Die uitsonderings was koffiehuiseienaars, wat besef het hoe voordelig dit is om ’n sambreel byderhand te hê om hulle klante teen die weer te beskerm wanneer hulle uitgeloop het na hulle koetse toe. Geestelikes het dit ook baie nuttig gevind wanneer hulle in die gietende reën begrafnisdienste in kerkhowe moes hou.
Die reisiger en weldoener Jonas Hanway het die geskiedenis van die sambreel in Engeland verander. Hy was glo die eerste man wat die moed gehad het om in Londen ’n sambreel in die openbaar te dra. Tydens sy oorsese reise het hy gesien dat mans dit gebruik, en hy was vasbeslote om die kwaai gespot van die huurkoetsiers te trotseer wat hom doelbewus met modderwater uit die straatvore natgespat het wanneer hulle verbygery het. Hanway is 30 jaar lank gereeld met ’n sambreel in die hand gesien, en toe hy in 1786 oorlede is, was mans sowel as vroue op hulle gemak met ’n sambreel.
In daardie dae was dit ’n ware uitdaging om ’n reënsambreel te gebruik. Hierdie sambrele was groot, swaar en lomp. Met oliegesmeerde sy- of seiloortreksels, speke en stele van rottang of walvisbeen was dit moeilik om oop te maak, en dit het gelek. Dit het nietemin gewilder geword, veral omdat dit goedkoper was om ’n sambreel te koop as om ’n koets te huur wanneer dit gereën het. Sambreelmakers en -winkels het vermenigvuldig, en uitvinders het hulle daarop toegespits om die ontwerp te verbeter. In die middel van die 19de eeu het Samuel Fox die Paragon-model gepatenteer wat ’n ligte maar sterk staalraam gehad het. Ligter materiale soos sy, katoen en linne met ’n waslagie het die ou dik oortreksels vervang. Die moderne sambreel het sy opwagting gemaak.
Modebykomstigheid
Die parasol het toe baie gewild geword as ’n elegante modebykomstigheid vir die stylvolle dame in Engeland. Haar fyn parasol het die veranderende modes weerspieël en al hoe groter geword met allerhande helderkleurige oortreksels van sy en satyn. Dit het dikwels by haar uitrusting gepas en is met kant, fraiings, linte, strikke en selfs vere versier. Tot diep in die 20ste eeu sou geen ordentlike dame wat haar delikate vel wou beskerm, sonder haar parasol gesien word nie.
In die 1920’s het ’n bruingebrande vel die mode geword, en die parasol het feitlik verdwyn. Toe het die era aangebreek van die stedelike gentleman in sy nie-amptelike uniform met ’n hardebolkeil en ’n swart, toegevoude sambreel wat ook as ’n stylvolle kierie gebruik kon word.
Ná die Tweede Wêreldoorlog het nuwe tegnologie verbeterde sambreelontwerpe op die mark gebring, soos die inskuifsambreel, asook waterdigte nylon-, poliëster- en plastiekoortreksels. Daar is nog ’n paar winkels wat fyn, handafgewerkte, duur sambrele vervaardig. Maar deesdae vervaardig fabrieke sambrele goedkoop in massa en in alle kleure en groottes, van die groot gholf- en tuinsambrele tot die opvousambreel van 15 sentimeter wat gerieflik in ’n handsak pas.
Hoewel die sambreel vroeër as ’n luuksheid en ’n statussimbool beskou is, is dit deesdae bekostigbaar en is dit gereeld amper bo-aan die lys van verlore goedere. Dit is ’n baie nuttige bykomstigheid om jou teen die weer te beskerm waar jy ook al in die wêreld is, en sy oorspronklike gebruik as ’n sonskerm is weer in die mode in party lande omdat mense al hoe meer teen die gevare van blootstelling aan die son gewaarsku word. As jy vandag uit jou huis loop, hoor jy dalk ook die herinnering: “Onthou jou sambreel!”
[Venster/Prent op bladsy 20]
Aankoop en versorging van jou sambreel
Kies tussen gerief en sterkte. Die goedkoper inskuifsambreel wat maklik in ’n baadjiesak glip, het waarskynlik minder speke maar is nie so sterk in kwaai winde nie. Aan die ander kant is die gewone sambreel dalk duurder, maar dit is gewoonlik meer teen die weer bestand en hou langer. Trouens, ’n goeie sambreel kan baie jare lank gebruik word. Watter soort jy ook al kies, beskerm dit teen muf en roeskolle deur dit oop te los om heeltemal droog te word voordat jy dit toevou. As dit in sy sakkie gebêre word, sal dit skoon en stofvry bly.
[Prente op bladsy 19]
’n Kneg hou ’n sambreel oor ’n Assiriese koning
’n Vrou in eertydse Griekeland wat ’n sambreel vashou
[Erkenning]
Tekeninge: The Complete Encyclopedia of Illustration/J. G. Heck
[Prent op bladsy 20]
’n Parasol, omstreeks 1900
[Erkenning]
Culver Pictures