Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g05 1/8 bl. 20-22
  • Die land van groot geld

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die land van groot geld
  • Ontwaak!—2005
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Moeilike taak
  • Hoeveel is dit werd?
  • Groter is nie altyd beter nie
  • ’n Gebalanseerde beskouing van geld
    Ontwaak!—2015
  • Nierstene—Hoe ’n ou kwaal behandel word
    Ontwaak!—1993
  • Is geld die wortel van alle kwaad?
    Antwoorde op Bybelvrae
  • Baie eilande is bly
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1985
Sien nog
Ontwaak!—2005
g05 1/8 bl. 20-22

Die land van groot geld

Deur Ontwaak!-medewerker in Guam

IN DIE uitgestrekte Stille Oseaan sal jy Yap vind. Tropiese natuurskoon en ’n aangename klimaat maak hierdie eilandgroep ’n aanloklike bestemming vir reisigers wat van alles wil wegkom. Maar besoekers is dikwels baie verbaas omdat mense hulle spaargeld buite op straat laat. En dit is groot geld!

Jy sal oral op die eilande klipskywe voor geboue en langs paaie sien staan. Hierdie skywe, wat in die plaaslike taal rai genoem word, is die geldeenheid van Yap. Hoewel party mense hulle klipgeld by die huis hou, gebruik die meeste die dorp se “banke”. By hierdie instellings is daar nie veiligheidswagte wat waghou en kassiere wat kliënte help nie. Jy sal dalk nie eers ’n gebou vind nie. Hierdie “banke” bewaar nie geld in kluise nie, maar hou hulle bates buitekant. Daar, teen klapperbome en mure, staan nog klipskywe, wat elkeen ’n gat in die middel het. Hierdie skywe is tot vier meter in deursnee en kan meer as vyf ton weeg.

Waar jy woon, hou mense miskien kleingeld in hulle sak, maar hier is die muntstukke so groot dat dit nie in ’n motor kan pas nie. Sedert 1931 is daar nie meer van hierdie klipgeld gemaak nie. En tog is dit nog steeds ’n wettige betaalmiddel op die eilande. Hoe het hierdie eienaardige geldeenheid ontstaan?

’n Moeilike taak

Volgens oorlewering het ’n groep seereisigers van Yap lank gelede op die eiland Palau aan wal gegaan en ’n paar pragtige klippe bekom. Hulle het dit na Yap teruggeneem, en daar het die mense besluit om dit as betaalmiddel te gebruik. Hulle het die klippe met beitels begin verwerk tot skywe in die vorm van die volmaan, maar met ’n gat in die middel.

Die mense van Yap was baie kieskeurig met die materiaal wat hulle gebruik het. Hulle het minerale verkies wat ons nou as aragoniet en kalsiet ken. Aragoniet, wat in afsettings in die grond gevind word, word ook in pêrels aangetref, en kalsiet is die hoofbestanddeel van marmer. Albei is baie mooi wanneer dit met vaardigheid verwerk is, maar dit word glad nie op Yap aangetref nie. Hulle het dus aangehou om na Palau te gaan om klippe te bekom. Palau lê ongeveer 400 kilometer suidwes van Yap, ’n gevaarlike seereis van vyf dae in vlerkkano’s.

Op Palau het die mense van Yap die plaaslike hoofman se toestemming gekry en toe begin met die werk om soliede rots uit te breek. Met behulp van primitiewe handgereedskap het hulle plat stukke klip in ondergrondse grotte uitgekap en dit met ’n beitel verwerk tot ’n skyf. Dit het hulle maande, en soms selfs jare, geneem om net een geldstuk met ’n hamer en beitel te maak!

Gate is in die rotse gekap waardeur stewige pale gesit kon word om die klippe na die strand te dra. Daar is die pas verwerkte geld op kano’s of bamboesvlotte gelaai. Wanneer ’n groot skyf vervoer moes word, het die werkers dit in die water regop laat staan en dan ’n groot vlot daarom gebou. Met wind in die seile en sterk roeiers het hulle dan die vlot met die nuwe geldstuk daarop na Yap teruggeneem.

Al hierdie werk is met die hand gedoen, en dit was gevaarlik. Trouens, baie is beseer of het gesterf terwyl hulle ontsaglike stukke rots op die land uitgekap en verskuif het. Die seereis terug na Yap het ook gevare ingehou. Klipgeld wat op die seebodem om Yap en Palau gesien kan word, is bewys dat nie al die skatte of almal wat dit vervoer het, veilig by Yap aangekom het nie. Maar daardie geld onder die water behoort aan iemand op Yap. Dit het waarde net soos die klipskywe op die land.

Hoeveel is dit werd?

Nadat ’n saketransaksie aangegaan is waarin rai van eienaar verwissel het, los die nuwe eienaar gewoonlik die klippe waar dit is. Baie is al dekades lank op dieselfde plek en is ver van hulle huidige eienaars se huis af. Diefstal is nie ’n probleem nie.

As ’n dief sy oog op ’n klipmuntstuk het, moet hy eerstens sterk genoeg wees om dit te neem en tweedens vermetel genoeg raak om dit te doen. Laasgenoemde sal nie sommer gebeur nie, want die bure weet aan wie elke klipskyf behoort, en hulle het groot respek vir eiendomsregte.

Hoe bepaal jy die waarde van ’n klipmuntstuk? Jy kyk eers na die grootte en natuurlike prag daarvan sowel as die gehalte van die beeldhouwerk. Dan neem jy die geskiedenis daarvan in ag. Hoe oud is dit? Was dit baie moeilik om dit uit te kap en te verwerk? Is lewens in gevaar gestel of was daar lewensverlies toe dit na Yap vervoer is? Laastens, wat is die sosiale stand van diegene wat by die transaksie betrokke is? Klipgeld wat aan ’n hoofman behoort, het meer waarde as dié wat aan ’n burger behoort.

Toe ’n buitelandse bank in 1960 ’n klipmuntstuk van een en ’n half meter in deursnee gekoop het, het die geskiedenis daarvan aan die buitewêreld bekend geword. Dit was blykbaar sedert die 1880’s in omloop. Dit is een keer gebruik om werkers te betaal wat ’n huis gebou het. By ’n ander geleentheid het mense van een dorp dit vir die bewoners van ’n buurdorp gegee omdat hulle ’n spesiale dans uitgevoer het. En later het ’n huiseienaar dit vir ’n klomp sinkdakplate verruil. Al hierdie transaksies is aangegaan sonder dat die klip van sy oorspronklike plek verskuif is, en geen geskrewe verslae is gehou nie. Die eienaarskap en geskiedenis van die muntstuk was algemeen bekend op Yap.

Groter is nie altyd beter nie

Toe die rai honderde jare gelede in gebruik geneem is, was klipmuntstukke so skaars en waardevol dat net hoofmanne dit kon besit. Maar laat in die 19de eeu het ystergereedskap en vragskepe dit moontlik gemaak om baie meer van hierdie muntstukke, met inbegrip van die grotes, uit te kap en te vervoer. Hoewel die nuwer muntstukke groter as die oueres is, is dit nie so waardevol nie, aangesien dit nie op die tradisionele, moeiliker manier vervaardig is nie.

In 1929 was daar volgens ’n amptelike telling 13 281 klippe—meer as die bevolking van die eilande! Die Tweede Wêreldoorlog het dit verander. Troepe het op baie van die klipgeld beslag gelê en party daarvan opgebreek om landingstroke en verskansings op te rig. Net die helfte van die klipskywe het oorgebly. Toe het soewenierjagters en private versamelaars baie van die skywe weggedra. Die regering beskou vandag die klipgeld as ’n kulturele skat, en dit word deur die wet beskerm.

Op Yap is geld nie so volop soos bossies nie, en ’n mens tel ook nie goud in die strate op nie. Maar die mense laat nog steeds hulle rykdom op straat waar almal dit kan sien!

[Kaarte op bladsy 20]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

Japan

STILLE OSEAAN

Filippyne

Saipan

Guam

Yap

Palau

[Erkenning]

Aardbol: Mountain High Maps® Copyright © 1997 Digital Wisdom, Inc.

[Prent op bladsy 21]

“Bank” vir klipgeld

[Prent op bladsy 22]

Muntstukke op Yap kan meer as vyf ton weeg

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel