Wat hou die toekoms in vir die geneeskunde?
VRAE oor die toekoms van geneeshere lei dikwels tot bespiegeling oor tegnologiese vooruitgang en of dit geneeshere van roetinetake sal vrystel sodat hulle meer tyd saam met elke pasiënt kan deurbring. Die toekoms van geneeshere hang natuurlik ten nouste saam met die omvattender vraag oor die toekoms van die mensdom. Twee Bybelboeke wat lig werp op daardie toekoms, vertel die geskiedenis van Jesus en sy apostels. Albei is deur ’n geneesheer geskryf.
Waarom is dit veral van belang om te sien wat ’n geneesheer se beskouing van hierdie geskiedenis is? Hoe hou dit verband met die toekoms van geneeshere en pasiënte? Waarom sien sommige geneeshere uit na ’n tyd wanneer hulle beroep nie meer nodig sal wees nie?
Talle geneeshere is baie oplettend. Lukas, wat “die geliefde geneesheer” genoem is, het die twee Bybelboeke geskryf en het party van die siek mense wat deur Jesus en ook die apostels genees is, in detail beskryf (Kolossense 4:14). Lukas help ons dus om na te dink oor die vrae: Het hierdie dinge werklik gebeur? En indien wel, wat beteken dit vandag vir dokters en pasiënte?
Mediese getuienis word ondersoek
Lukas het die geleentheid gehad om die wonderdadige aard van daardie genesings te bevestig deur ooggetuies te ondervra. Daarbenewens het hy dikwels saam met die apostel Paulus gereis. Blykbaar het Paulus ’n aantal mense genees terwyl Lukas teenwoordig was. Let op hoeveel besonderhede hy insluit terwyl ons die geneesheer se verslae oor twee van daardie genesings ondersoek.
Lukas meld die tyd, datum en plek van die volgende gebeurtenis: Dit was middernag op die eerste dag van die week, en ’n groep Christene was bymekaar in ’n kamer op die derde verdieping van ’n huis in Troas, in die Romeinse provinsie Asië (Handelinge 20:4-8). Ons lees die besonderhede: “’n Sekere jong man met die naam Eutigus . . . het in ’n diep slaap geval terwyl Paulus aangehou praat het, en toe hy in die slaap inmekaarsak, het hy van die derde verdieping afgeval en is hy dood opgetel.” Met God se krag het Paulus toe die jong man se beserings genees en hom opgewek. Ná ’n maaltyd ‘het hulle die seun lewend weggeneem en was hulle uitermate vertroos’.—Handelinge 20:9-12.
Lukas sê ook dat hy saam met Paulus in Malta was. Terwyl hulle deur Publius, “die vernaamste man” van die eiland, gasvry gehuisves is, het Paulus nog ’n wonderwerk verrig. Hy het ’n man gehelp wie se toestand, in daardie dae voor moderne antibiotika, heel moontlik lewensgevaarlik was. Lukas skryf: “Die vader van Publius het siek gelê aan koors en diarree, en Paulus het na hom toe ingegaan en gebid, hom die hande opgelê en hom gesond gemaak. Nadat dit plaasgevind het, het die res van die mense op die eiland wat siektes gehad het, ook na hom toe begin kom en is hulle genees.”—Handelinge 28:7-9.
Wat het die geneesheer oortuig?
Lukas het daardie verslae in die boek Handelinge neergeskryf terwyl sy lesers die feite nog kon bevestig deur met die betrokkenes te praat. Lukas het aangaande dit wat hy opgeteken het in die Bybelboek wat sy naam dra, geskryf: “Ek [het] alles van die begin af noukeurig nagespeur . . . sodat u ten volle kan weet hoe seker die dinge is” (Lukas 1:3, 4). Wat hierdie geneesheer gesien en nagevors het, het hom oortuig dat Jesus se leringe waar is. Die wonderdadige genesings het deel uitgemaak van daardie leringe en het ’n grondslag gelê vir geloof in die Bybelprofesie dat siekte uiteindelik deur God oorwin sal word (Jesaja 35:5, 6). As ’n mediese praktisyn wat daaraan gewoond was om lyding te sien, moes dit vir Lukas baie hartverblydend gewees het om te dink dat daar ’n tyd sal kom wanneer sy beroep nie meer nodig sal wees nie. Is so ’n vooruitsig vir jou aantreklik?
Interessant genoeg, dit is wat die toekoms inhou vir diegene wat God liefhet, ongeag waar hulle op die aarde woon. Die Bybel belowe dat onder God se Koninkryk “geen inwoner sal sê: ‘Ek is siek’ nie” (Jesaja 33:24). Talle hedendaagse geneeshere het tot die slotsom gekom dat daar ’n logiese grondslag is vir geloof in die Bybel se beloftes.
‘Dit was vir my baie aantreklik’
“Soos die meeste mense het ek ’n dokter geword om mense te help wat weens siekte ly”, sê dr. Jon Schiller, ’n huisdokter in Noord-Amerika. “Die hoop op ’n wêreld sonder siekte was vir my baie aantreklik. Ek het die vergaderinge van Jehovah se Getuies begin bywoon nadat ek ’n universiteitskursus gevolg het oor die geskiedenis van die Westerse beskawing. Daardie kursus het getoon dat godsdiens die oorsaak was van baie probleme, en dit het ook vir my gelyk asof godsdiens die Bybel op ’n geveinsde manier gebruik. Ek het dus gewonder: ‘Wat sê die Bybel nou eintlik?’
“By die Koninkryksaal van Jehovah se Getuies is ek aanvanklik aangetrek deur die vriendelike mense, wat ’n aangename kontras gevorm het met baie van my kennisse. ’n Getuie het my genader en aangebied om my te besoek om die Bybel met my te bespreek. Wat my beïndruk het, was die feit dat hy my elke keer die antwoord in die Bybel gewys het, ongeag wat ek gevra het.
“Hoe ouer ek word, hoe meer waardeer ek dit om een van Jehovah se Getuies te wees. Wanneer jy nog ’n jong dokter is, hoop jy om iets te vermag wat die moeite werd sal wees. Maar ek sien dikwels ontnugterde mense wat voel dat hulle nie veel bereik het nie. Ek dink dat een van die grootste voordele om ’n Getuie van Jehovah te wees, is dat ons ’n hoop vir die toekoms en ’n doel in die lewe het. Of ons nou dokters, werktuigkundiges of skoonmakers is, ons weet dat alles wat ons in God se diens doen, die moeite werd is; ons doen iets vir Jehovah. En dit gee ons bevrediging.”
“Die toepassing van Bybelbeginsels het ons gesinslewe verbeter”
Dr. Krister Renvall is ’n dokter in Finland, en hy geniet dit altyd om met kinders te gesels. “Ek het eendag met ’n 12-jarige meisie gesels wat terminale kanker gehad het”, sê hy. “Sy het vir my die boek Ware vrede en veiligheid—Uit watter bron?a gegee. Haar woorde van geloof terwyl sy terminaal siek was, het my beïndruk, maar ek het nie tyd gehad om die boek te lees nie. Trouens, op daardie stadium was ek so besig by ’n kliniek in Helsinki dat my gesin daaronder gely het.
“’n Ruk later het my vrou egter die boek van die rak afgehaal en dit begin lees. Sy was onmiddellik daarvan oortuig dat wat sy gelees het, die waarheid is. Een van Jehovah se Getuies het haar besoek en die Bybel met haar begin studeer. Aanvanklik was my vrou ’n bietjie skrikkerig om my daarvan te sê. Maar toe sy my vertel, het ek gesê: ‘Enigiets wat ons gesin sal help, is goed.’ Ek het die studie begin bywoon. Die toepassing van Bybelbeginsels het ons gesinslewe verbeter en ons ’n nuwe lewensbeskouing gegee. Ek was verheug om van die hoop op ’n wêreld sonder siekte te leer; dit het vir my sin gemaak dat God so ’n voorneme vir die mens sou hê. Nie lank daarna nie is ek en my vrou, en later ons hele gesin, gedoop. Daardie dogtertjie wat aanvanklik met my gesels het, het gesterf, maar haar geloof lewe in werklikheid voort.”
In ons vinnig veranderende wêreld word die lewe vir dokters al hoe stresvoller, en dit maak hulle opofferinge om siekes te help beslis prysenswaardig. Maar die heel grootste veranderinge wat die mensdom sal raak, sal binnekort plaasvind. Baie geneeshere sien vandag met vertroue uit na die toekoms wat God se Woord belowe—’n wêreld sonder siekte! (Openbaring 21:1-4). Dit is ’n onderwerp wat jy gerus persoonlik kan ondersoek.
[Voetnoot]
a Uitgegee deur Jehovah se Getuies.
[Venster/Prente op bladsy 10, 11]
“EK HET BESEF DAT DIE LEWE ’N DOEL HET”
“Terwyl ek met gestremde skoolkinders gewerk het, het ek opgelet dat ouers wat Jehovah se Getuies is, opvallend anders is. Dit het gelyk of hulle die feit dat hulle ’n gestremde kind het beter kon verwerk as ander ouers in dieselfde situasie. Ek het ook opgelet dat hulle beter ingelig was as wat ’n mens van persone met hulle geleerdheid sou verwag. Ek het hulle geloof bewonder. My geloof is feitlik vernietig deur mense wat die evolusieteorie geleer het. Maar weens my mediese studies het die wonder van die lewe my gefassineer.
“Ek het toe ook begin besef dat ek nie weet hoe om my kinders groot te maak nie. Wat moet ek verbied? Wat moet ek aanmoedig? Wat kan ek vir hulle as ’n doel in die lewe voorhou? My eie lewe het betekenisloos geword. Ek het selfs vir hulp gebid.
“Dit was toe dat Jehovah se Getuies vir my ’n tydskrif gebring het oor hoe om kinders met liefde reg te help en tereg te wys. Die Bybelbeginsels wat daarin verduidelik is, het my werklik gehelp, en ek het dus hulle aanbod aanvaar om ’n Bybelstudie te hê. Toe ek leer waarom Jehovah lewe geskep het en waarom Jesus gesterf het, het ek besef dat die lewe ’n doel het (Johannes 3:16; Romeine 5:12, 18, 19). Evolusie het my denke verwronge gemaak. Hoe verlig was ek tog om te leer dat siekte en die dood nie deel van God se oorspronklike voorneme was nie! Vandag put ek nog steeds ware bevrediging daaruit om opregte mense te leer hoe God binnekort alle siektes sal genees.”
[Prente]
Helena Bouwhuis was ’n mediese praktisyn vir skoolkinders in Nederland
[Prente op bladsy 9]
Die geneesheer en Bybelskrywer Lukas was Paulus se reisgenoot toe die apostel die vader van Publius genees het en Eutigus opgewek het
[Prente op bladsy 10]
Dr. Jon Schiller, Verenigde State
[Prente op bladsy 10]
Dr. Krister Renvall, Finland