Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g05 2/8 bl. 28-29
  • Ons beskou die wêreld

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ons beskou die wêreld
  • Ontwaak!—2005
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Tegnologie plaas ’n demper op gesprekke
  • Duur gewoonte
  • Maklik verkrygbare dwelms
  • Latynse mis herleef
  • ’n Eeu van oorlog
  • Hoe alligators jag
  • Lewende vullisblikke
  • Internetgebaretaal
  • Ons beskou die wêreld
    Ontwaak!—2003
  • Die Internet—Maak wyse gebruik van ’n wêreldwye kommunikasiemiddel
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2011
  • Kan ’n Internetverhouding regtig gevaarlik wees?
    Ontwaak!—2005
  • Ons beskou die wêreld
    Ontwaak!—2003
Sien nog
Ontwaak!—2005
g05 2/8 bl. 28-29

Ons beskou die wêreld

Tegnologie plaas ’n demper op gesprekke

“Die gedagte daaraan om van aangesig tot aangesig met iemand te praat, skrik baie Britte af omdat hulle al hoe afhankliker raak van moderne tegnologie”, berig The Times van Londen. In ’n opname wat British Gas onder 1 000 volwassenes gedoen het, is gevind dat mense gemiddeld byna vier uur per dag daaraan bestee “om tegnologie te gebruik wat oorspronklik bedoel was om mense meer tyd vir hulleself te gee”. Volgens die berig “bestee die gemiddelde Brit 88 minute per dag aan landlyntelefoonoproepe, ’n verdere 62 minute aan selfoonoproepe, 53 minute aan e-pos en 22 minute aan SMS’e”. Uit die opname is afgelei dat kommunikasievaardighede, soos om van aangesig tot aangesig met iemand te praat, daaronder ly. Baie van diegene wat ondervra is, het erken dat hulle SMS’e stuur “om onnodige gepraat uit te skakel of gesprekke heeltemal te vermy”.

Duur gewoonte

Rook is ’n duur gewoonte, nie net vir rokers nie, maar ook vir hulle werkgewers en vir nierokers, sê professor Kari Reijula van die Finse Instituut vir Beroepsgesondheid. Werktyd wat weens rookpouses verlore gaan, “kos die landsekonomie bykans 16,6 miljoen euro’s [R133,6 miljoen] per jaar”, berig die webwerf van die Finse Uitsaaikorporasie. Volgens skatting “bly werkers wat een pakkie sigarette per dag rook, elke jaar die ekwivalent van 17 werksdae van die werk af”. Siekteverlof dra hiertoe by. Reijula sê verder: “Studies toon dat werkers wat rook, ook meer ongelukke het.” Verder sê die berig dat rook skoonmaak- sowel as elektrisiteitskostes verhoog, “aangesien die lugreëling altyd volstoom moet werk”. Nog erger is die feit dat “tot 250 nierokende Finne jaarliks aan siektes sterf wat verband hou met blootstelling aan tweedehandse rook by die werk of in hulle vrye tyd”.

Maklik verkrygbare dwelms

In Pole is ontspanningsdwelms makliker verkrygbaar as bier, berig die tydskrif Wprost. “Dit is beskikbaar in elke disko; in klubs, kroeë en koshuise en by kolleges, hoërskole [en] junior hoërskole.” Wat meer is, in groter stede kan dwelms “telefonies bestel en gouer as ’n pizza afgelewer word”, sê die tydskrif. Lae pryse, algemene beskikbaarheid en die feit dat “sintetiese dwelms as skadeloos beskou word”, sê Wprost, het daartoe gelei dat meer as die helfte van al die Poolse tieners “ten minste eenkeer” daarmee geëksperimenteer het. Volgens Katarzyna Puławska-Popielarz, die hoof van ’n rehabilitasiesentrum vir jongmense, het die langtermyngebruik van een so ’n dwelm, speed, al “selfmoorde, hartaanvalle, geestesversteuring en ernstige uittering” tot gevolg gehad.

Latynse mis herleef

In Duitsland “word Latynse kerkdienste al hoe gewilder”, berig die nuustydskrif Focus. “Hoewel bywoningsyfers oor die algemeen daal, het [priesters in] stede soos Frankfurt, Düsseldorf en Münster gesien dat hulle kerke vol is wanneer hulle dienste in Latyn hou”, sê die tydskrif. Weens die gewildheid van die Latynse mis hou een kerk in München die mis waartydens Latynse liturgie gebruik word, nie meer twee keer per maand nie, maar twee keer per week, en op openbare vakansiedae.

’n Eeu van oorlog

“Volksmoord het daartoe bygedra dat die 20ste eeu die bloedigste in die geskiedenis was”, berig die Buenos Aires Herald. Volksmoord word gedefinieer as die stelselmatige en beplande uitwissing van ’n ganse volks-, rasse-, politieke of etniese groep. Volgens skatting is meer as 41 miljoen mense gedurende die 20ste eeu doodgemaak. ’n Onlangse voorbeeld is Rwanda, waar sowat 800 000 mense in 1994 doodgemaak is, hoofsaaklik deur “burgerlikes wat deur haatpropaganda aangevuur is”. Geleerdes sê dat daar oor ’n tydperk van 100 dae gemiddeld 8 000 mense per dag doodgemaak is. Dit is “vyf keer meer as wat daar [elke dag] in die Tweede Wêreldoorlog in die Nazi’s se gaskamers” gesterf het, sê die Herald.

Hoe alligators jag

’n Student aan die Universiteit van Maryland wat besig was met haar doktorsgraad, het iets ontdek wat die kenners vroeër ontwyk het—drukreseptore op die snoet van alligators, wat hulle in staat stel om die beweging van prooi in die water waar te neem. Die kake van alligators en ander krokodilagtiges is vol klein knoppies wat so groot soos speldepunte is. Die bioloog Daphne Soares het ontdek dat dit in werklikheid klein hobbeltjies is wat gevoelig is vir druk en wat hierdie reptiele in staat stel om geringe steurings op die wateroppervlak om hulle waar te neem. “Krokodilagtiges jag snags, en hulle lê half onder die water terwyl hulle wag dat prooi die wateroppervlak versteur. Hulle kaak lê op die skeidingsvlak tussen lug en water”, verduidelik Soares. “Wanneer hulle honger is, val hulle vinnig enigiets aan wat daardie skeidingsvlak versteur.” Die koepelvormige drukreseptore, soos sy dit noem, is so sensitief dat dit kan waarneem as ’n enkele druppel in die water val.

Lewende vullisblikke

’n Internasionale studie oor die uitwerking wat vullis op die seelewe het, toon dat die gemiddelde Noordse stormvoël, ’n seevoël in die Noordsee, 30 stukke plastiek in sy maag het. Dit is “twee keer soveel as wat in die vroeë 1980’s in stormvoëls gevind is”, berig die Londense koerant The Guardian. Stormvoëls is bestudeer omdat “hulle feitlik enigiets eet en nie opbring wat hulle inneem nie”. Van die plastiese voorwerpe wat al in die maag van dooie stormvoëls gevind is, was speelgoed, gereedskap, toue, polistireenkoppies, matrasskuimrubber, plastiekbottels en sigaretaanstekers. Dr. Dan Barlow, hoof van navorsing by Vriende van die Aarde in Skotland, sê: “Hierdie navorsing het getoon dat seediere om die kus van Skotland in lewende vullisblikke verander word.” Die koerant sê verder: “Dit is bekend dat meer as 100 van die wêreld se 300 seevoëlsoorte al per ongeluk plastiek geëet het.”

Internetgebaretaal

Dowe mense gebruik al jare lank teledrukkers en, in onlangser tyd, e-pos om met vriende te kommunikeer. Die toename in webkameras, of Internetrekenaarkameras, stel dowes nou in staat om gebaretaal oor die Internet te gebruik. Maar, sê Kanada se National Post, “as gevolg van die webkamera se nou gesigsveld en tweedimensionele perspektief gaan sekere nuanses verlore, net soos ’n geligte wenkbrou of ’n gemaakte glimlag oor die telefoon verlore gaan”. Stadige Internetverbindings en ander tegniese probleme kan dit moeiliker maak om gebaretaal oor webkameras te gebruik. Hoe oorkom dowes hierdie hindernisse? Gebaretaalsprekers verleng en herhaal gebare en het geleer “om hulle bewegings of liggaamsposisie aan te pas om vir probleme met perspektief te vergoed”, sê die Post. Gebaretaalsprekers het ook gevind dat hulle kan beklemtoon wat hulle sê, deur hulle hande nader na die kamera te bring sodat dit groter lyk.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel