Ons beskou die wêreld
Verhoogde produktiwiteit?
“Een uit vier Kanadese werk nou meer as 50 uur per week, in vergelyking met een uit 10 ’n dekade gelede”, berig die koerant Vancouver Sun. Volgens ’n federale studie waarby 31 500 werkende Kanadese betrokke was, het “die helfte van die respondente gesê dat hulle by die huis of oor naweke werk en dus ’n ekstra 27 uur per maand aan hulle werkgewer gee”. ’n Vername rede hiervoor is tegnologie. “Die opname het gevind dat feitlik al die onbetaalde oortyd wat by die huis gedoen word . . . ‘rekenaargesteunde’ werk is”, sê die koerant. Tegnologie het dus nie tot ’n vierdaagse werksweek gelei met meer tyd vir ontspanning nie, maar “is ’n vername oorsaak van spanning, siekte, uitbranding, afwesigheid en alle ander faktore wat produktiwiteit verminder”. Die koerant voeg by: “Die meeste respondente stem saam dat tegnologie hulle groter belangstelling in hulle werk gegee en hulle produktiwiteit verhoog het. Terselfdertyd het amper niemand gesê dat tegnologie hulle werklas of spanning by die werk verminder het nie.”
Besoedeling in groot stede
“Mexikostad, Caracas, Bogota en Havana is van die mees besoedelde stede in die wêreld”, berig die koerant El Universal van Mexikostad. Dit is die gevolgtrekking van ’n studie deur die Mercer- Raadgewende Vereniging vir Menslike Hulpbronne, wat in Londen uitgegee is. Die studie wat die uitwerking van besoedeling op stede regoor die wêreld ondersoek het, het faktore soos luggehalte, afvalverwerking, veiligheid, behuising, opvoeding, vervoer en openbare dienste in ag geneem. Van die Europese stede bied Zürich en Wene oor die algemeen die hoogste lewensgehalte. Calgary en Honolulu is boaan die lys van die skoonste stede in die wêreld. Van al die Latyns-Amerikaanse lande word San Juan, Puerto Rico, as die aangenaamste stad beskou om in te woon, sê die verslag.
Die koste van huweliksverbrokkeling
Nadat Rebecca O’Neill, projekbestuurder van Civitas se Eenheid vir Gesinstudies, ’n ontleding gedoen het van meer as 100 navorsingstukke wat oor ’n tydperk van meer as twee dekades gestrek het, het sy berig dat “die ‘vaderlose gesin’ vir baie moeders, vaders en kinders armoede, emosionele pyn, swak gesondheid, verlore geleenthede en onstabiliteit beteken het”. Volgens O’Neill is die moontlikheid dat kinders uit gebroke gesinne “gesondheidsprobleme sal hê 50 persent groter, van die huis af sal wegloop twee keer groter en mishandel sal word vyf keer groter”, berig The Sunday Telegraph van Londen. Die koerant voeg by: “Die moontlikheid dat kinders wat sonder hulle biologiese vader grootword, probleme sal hê om met ander mense oor die weg te kom en op skool sal sukkel, is drie keer groter. As tieners is die moontlikheid twee keer groter dat hulle drank sal misbruik, sal rook, dwelms sal neem, . . . misdade sal pleeg, vroeg seks sal hê en . . . ouers sal word.” Selfs waar egpare so arm en minderbevoorreg soos enkelouers was, was die moontlikheid kleiner dat hulle kinders sulke probleme sou hê, sê die verslag.
Selfmoord boaan die lys van gewelddadige sterftes
“Selfmoord is wêreldwyd die grootste enkele oorsaak van gewelddadige sterftes”, berig die Londense koerant The Independent. Die artikel, wat op ’n verslag van die Wêreldgesondheidsorganisasie gebaseer is, voeg by dat 1,6 miljoen mense in 2000 ’n gewelddadige dood gesterf het. Selfmoord het daardie jaar 815 000 lewens geëis, terwyl 520 000 vermoor en 310 000 in oorloë en konflikte dood is. Die oorgrote meerderheid van die sterftes in 2000 “was in ontwikkelende lande, met minder as 10 persent in die ontwikkelde wêreld”, sê die koerant. Belaroes, Estland en Litaue se selfmoordsyfer was vier keer hoër as Brittanje s’n. In Afrika sowel as in Noord- en Suid-Amerika is die moordsyfer meer as twee keer soveel as die selfmoordsyfer, maar in Australië, Europa en die Verre-Ooste is dit net omgekeerd.
Kinders wat te min slaap
Volgens die tydskrif U.S.News & World Report het ’n gebrek aan slaap ’n rampspoedige uitwerking op kinders se gesondheid. Kinders wat te min slaap, vaar sleg op skool en vind dit dalk moeilik om vriende te maak. “Kinders met slaapskuld kan dikwels nie lank konsentreer nie en is prikkelbaar, hiperaktief en ongeduldig”, sê die tydskrif. Dokters is bekommerd dat ouers dikwels vir hierdie probleme verantwoordelik is. Die kinderpsigoterapeut Barbara Braun-McDonald sê: “As jy jou kind tot 11 nm. wakker hou om dinge as ’n gesin saam te doen, moet jy jou lewe herevalueer.” Ouers word aangemoedig om ’n spesifieke slaaptyd en opstaantyd, selfs oor naweke, vas te stel sodat hulle kinders gesonde slaappatrone kan ontwikkel. Die volgende wenke word ook gegee: Volg ’n vaste roetine voor slaaptyd, soos om hulle te laat bad, hulle te vertroetel en vir jonger kinders ’n storie te lees en om toegang tot die televisie of rekenaar ’n uur voor slaaptyd te beperk.
“Speletjies, peuselhappies en bloed”
“Ruim, lugverkoelde vertrekke met gratis video’s, rekenaarspeletjies, peuselhappies en selfs voetmasseerders” het ’n gewilde uithangplek vir Japannese jongmense geword, berig IHT Asahi Sjimboen. “Daar is net een voorwaarde: bloed moet vloei”, want die fasiliteite is bloedskenkingsentrums van die Japannese Rooikruisvereniging. “Mense skenk bloed in ’n partytjie-atmosfeer”, sê die koerant. “Nadat hulle bloed geskenk het, hang baie jongmense hier rond terwyl hulle oliebolle en vrugtesap geniet en ook rekenaarspeletjies speel, sonder dat hulle daarvoor hoef te betaal. Nog iets wat hulle lok, is die gratis fortuinvertellery wat ’n paar keer per week gehou word.” Daar is ook grimeerlesse, sjiatsoe (drukpuntterapie), konserte, masseersessies en rommelverkopings. As gevolg van ’n skerp afname in bloedskenkings is die Rooi Kruis besig om hulle sentrums regoor die land te verander. Waar die sentrums vantevore as “somber en spookagtig” beskou is, word dit nou “gewilde uithangplekke vir tieners en mense in hulle twintigerjare”, sê die koerant.
Plesierbote en besoedeling
“Luukseplesierbote wat miljoene passasiers elke jaar na die wêreld se mees afgeleë toeristebestemmings neem, bedreig die seelewe met ’n spoor van besoedeling”, berig The Sunday Times van Londen. ’n Groot passasiersboot met byna 4 000 mense aan boord, insluitende passasiers en bemanning, stort daagliks tienduisende liters olierige ruimwater, rioolvullis en afvalwater van stortbaddens en wasserye in die see, asook 60 liter giftige chemikalieë en sewe ton vullis. Op see produseer passasiers baie meer afval as wat hulle sou geproduseer het as hulle op land vakansie gehou het. In 2000 het sowat 240 plesierbote tienmiljoen mense na ekologies sensitiewe gebiede geneem, soos Alaska se Glacier-baai, die koraalriwwe en eilande in die Karibiese See, geskiedkundige Mediterreense kuslyne en selfs Antarktika. Volgens skatting sal nog 50 skepe teen 2005 in gebruik wees. Roger Rufe, van Ocean Conservancy, sê: “Hierdie plesierboot[vakansies] word al hoe gewilder, maar die skepe is soos drywende stede sonder enige reëls wat riool- en afvalverwerking reguleer.”
Verkope van pouslike gedenkwaardighede neem af
Jare lank “was die verkope van godsdiensvoorwerpe [in Pole] ’n gewaarborgde bron van inkomste”, berig die Poolse uitgawe van Newsweek. Maar in onlangse tye was daar “’n krisis” in die verkope van heilige afgodsvoorwerpe. Ten spyte van die feit dat die Pous se besoek aan Pole in 2002 baie publisiteit geniet het, was daar ’n klein vraag na tradisionele godsdiensvoorwerpe, soos kettinkies en skilderye. “Die mark is oorstroom met miljoene gips- en metaalborsbeeldjies, matte, skilderye en beelde” van die pous, sê die tydskrif, maar “kopers het kieskeurig geword”. Daar is egter een artikel wat gewilder geword het. Dit is ’n plastiekkaartjie met “heilige afbeeldings” op die een kant en “goue kraletjies wat in die plastiek gesmelt is” op die ander kant. Hierdie “rosekranskaartjies” is “die jongste en gewildste pouslike” gedenkwaardigheid, sê die Poolse weekblad Wprost.