Van ons lesers
Teistering by die werk Ek is diep geraak deur die reeks “Teistering by die werk—Wat kan jy doen?” (8 Mei 2004). Ek het alles wat daarin beskryf is, self ondervind. Weens my godsdiens is daar teen my gediskrimineer by die hospitaal waar ek gewerk het, en dit het ’n nadelige uitwerking op my emosionele en geestelike gesondheid gehad. Dit is goed om te weet dat ek nie die enigste een is wat hierdie uiters onaangename ondervinding gehad het nie.
J. C., Puerto Rico
Ek het etlike jare lank teistering ondervind en was na aan ’n senu-ineenstorting. Ek sal my bes doen om julle voorstelle toe te pas.
C. H., Verenigde State
Dankie dat julle ons wat geteister word, ondersteun en help om nader te kom aan ons medelydende God, wat bewus is van ons moeilike omstandighede.
L. W., Verenigde State
Ons plaaslike gemeente van Jehovah se Getuies het hierdie nommer by sakeondernemings aangebied en die eienaars aangemoedig om die artikel op lêer te hou. Baie het waardering vir die materiaal uitgespreek.
V. S., Verenigde State
Ek moes weens mondelinge teistering my werk opgee. Hou asseblief aan om artikels te publiseer wat ons wys hoe om probleme die hoof te bied.
T. J., Japan
Ek het die nommer vir my dokter aangebied en gesê: “Miskien sal jy eendag ’n pasiënt hê wat oor maagprobleme kla weens teistering.” Hy het gesê: “Nie miskien nie. Ek het op die oomblik so ’n pasiënt!” Hy het belowe om die artikels te lees.
E. S., Duitsland
Aangesien ek nie my eie woonstel het nie, moet ek by my suster bly en haar mondelinge teistering verduur. Dit het my moedeloos gemaak. Maar hierdie nommer van Ontwaak! was vir my bedoel! Jehovah het my waarlik vertroos.
S. A., Rusland
Vleisetende plante Dankie vir die artikel “Gevaar—Vleisetende plante!” (8 Mei 2004). Ek versamel en kweek al meer as 12 jaar lank vleisetende plante. Julle het dit reggekry om die artikel wetenskaplik akkuraat en tog verbasend eenvoudig te maak.
T. K., Duitsland
Ek is 11 jaar oud, en my onderwyser het gesê dat ons oor die venusvlieëvanger moet skryf. Daardie selfde week het hierdie artikel uitgekom—net betyds!
R. S., Rusland
Ek het vroeër vleisetende plante gekweek en het die artikel werklik geniet. Maar die titel was vir my ’n bietjie moeilik om te aanvaar. Hierdie plante hou wel vir party insekte gevaar in, maar hulle is ook skoon plante wat nie baie gehard is nie. Party is selfs bedreigde spesies.
H. K., Japan
“Ontwaak!” antwoord: Dankie vir die herinnering. Die doel van ons titel was om lesers se aandag te trek, maar die artikel het lesers geleer om respek te hê vir hierdie plante en daarvoor om te gee.
Geloof ondanks beproewing Ek het die artikel “’n Gesin se geloof ondanks beproewing” (8 Mei 2004) geniet. Ek is tien jaar oud en het Crohn se siekte. Ek was die grootste deel van verlede winter in en uit die hospitaal totdat my probleem uiteindelik gediagnoseer is. Hierdie artikel het my regtig meer vertroue gegee en my gehelp om met my siekte te kan saamleef. Ek sien uit daarna om in die Paradys te lewe, waar ons nie meer hierdie probleme sal hê nie.
M. H., Verenigde State