Winkeldiefstal—Onskadelike pret of ernstige misdaad?
STEL jou die volgende situasie voor. Die deure van ’n afdelingswinkel gaan oop en twee stylvol geklede tienermeisies kom ingestap. Hulle loop na die rak met die skoonheidsmiddels. ’n Sekuriteitswag in uniform volg hulle, maar gaan staan sowat tien meter van hulle af met sy arms agter sy rug. Hy hou die meisies dop terwyl hulle ongeërg die lipstiffies en maskaras optel en bekyk.
Hulle loer skrams na die wag, wat ’n oog op hulle hou. Die spanning in hulle bou op. Een van die meisies beweeg na die naellak en tel ’n paar botteltjies op. Sy frons terwyl sy kamstig op een van twee eenderse skakerings van rooi probeer besluit. Sy sit een botteltjie neer en tel ’n ander een op wat effens donkerder is.
Die sekuriteitswag laat sy blik sak, draai om en kyk in die teenoorgestelde rigting. Dadelik druk die meisies lipstiffies en botteltjies naellak in hulle handsakke. Hulle lyk kalm, maar die bloed bruis deur hulle are. Hulle staan nog ’n paar minute daar rond, terwyl die een na naelvyltjies kyk en die ander een se aandag deur oogpotlode in beslag geneem word.
Die twee kyk vir mekaar, knik en begin na die voorkant van die winkel stap. Die sekuriteitswag staan opsy, en hulle glimlag vir hom terwyl hulle verbyloop. By die selfoontoebehore, reg oorkant die kassier, gaan staan hulle en kyk na die uitstalling. Hulle praat saggies oor die leeromhulsels. Dan stap hulle na die uitgang.
Met elke tree neem die spanning, angs en opwinding in hulle toe. Wanneer die meisies by die deur uitstap, voel hulle lus om te gil, maar hulle lippe bly saamgepers. Wanneer hulle eers buite is, is hulle rooi in die gesig van opwinding, rooier as wat enige grimering hulle sou kon maak. Die innerlike storm bedaar, en hulle slaak ’n sug van verligting. Die meisies stap vinnig weg, maar hulle kan nie ophou giggel nie. Al wat deur hulle gedagtes gaan, is: ‘Ons het daarmee weggekom!’
Die twee meisies is net denkbeeldig, maar die situasie wat geskets is, is baie werklik. Winkeldiefstal vind elke dag ongeveer eenmiljoen keer in die Verenigde State alleen plaas, maar dit is ’n wêreldwye probleem. Soos ons sal sien, veroorsaak dit baie groot skade. Die meeste winkeldiewe steur hulle egter nie veel aan die ontsaglike skade wat hulle aanrig nie. Selfs baie wat kán betaal, verkies om te steel. Waarom?