“Ons onthou nog . . . die knoffel!”
Deur Ontwaak!- medewerker in die Dominikaanse Republiek
WATTER kos sou jy wou eet as jy met ’n leë maag ver van die huis af is? Die vars vrugte en groente wat in jou vaderland gekweek word, kom dalk in jou gedagtes op, of miskien dink jy aan die smaaklike vleis- of visbredie wat jou ma altyd gemaak het. Maar sou knoffel jou mond laat water?
Sowat 3 500 jaar gelede, terwyl die volk Israel deur die wildernis Sinai getrek het, het hulle gesê: “Ons onthou nog die vis wat ons verniet in Egipte geëet het, die komkommers en die waatlemoene en die preie en die uie en die knoffel!” (Numeri 11:4, 5). Ja, hulle het na knoffel verlang. Die Jode het soveel daarvan gehou dat hulle hulleself volgens oorlewering knoffel-eters genoem het.
Hoe het die Israeliete hulle voorliefde vir knoffel ontwikkel? Gedurende hulle lang verblyf van 215 jaar in Egipte was knoffel ’n deel van hulle dieet. Argeologiese bewyse dui aan dat die Egiptenaars lank voor die koms van Jakob en sy familie knoffel gekweek het. Die Griekse geskiedkundige Herodotus vertel dat die Egiptiese owerheid enorme hoeveelhede uie, radyse en knoffel aangekoop het om hulle slawe wat die piramides gebou het, van kos te voorsien. Hierdie dieet, wat baie knoffel ingesluit het, het die werkers blykbaar meer krag en stamina gegee. Toe die Egiptenaars farao Toetankamen begrawe het, het hulle talle waardevolle dinge in sy graf gelaat, insluitende knoffel. Knoffel was natuurlik van geen nut vir die dooies nie, maar dit is baie nuttig vir die lewendes.
Kragtige geneesmiddel
Dokters gebruik al lank knoffel om hulle pasiënte te behandel. Baie eeue gelede het die Griekse geneeskundiges Hippokrates en Dioscorides dit aanbeveel vir spysverteringsprobleme, melaatsheid, kanker, wonde, infeksies en hartkwale. In die 19de eeu het die Franse chemikus Louis Pasteur knoffel bestudeer en die antiseptiese eienskappe daarvan beskryf. Albert Schweitzer, ’n beroemde sendeling-dokter, het gedurende die 20ste eeu knoffel gebruik om amebedisenterie en ander siektes in Afrika te behandel. Toe Russiese militêre dokters tydens die Tweede Wêreldoorlog nie genoeg moderne geneesmiddels gehad het nie, het hulle knoffel gebruik om beseerde soldate te behandel. Daarom het knoffel bekend geword as Russiese penisillien. In onlangser tye het wetenskaplikes ’n studie gedoen oor die voordelige uitwerking wat knoffel op die bloedsomloopstelsel het.
Knoffel het dus uitstekende voedings- en geneeskundige waarde, en die smaak en geur daarvan is werklik uniek. Waar is knoffel eerste gekweek? Sommige plantkundiges meen dat dit sy oorsprong in Sentraal-Asië gehad het en van daar af regoor die wêreld versprei het. Kom ons kyk na ’n pragtige plek in die Westelike Halfrond waar knoffel baie gewild is.
Knoffel word in Constanza gekweek
Die Constanza-vallei in die Dominikaanse Republiek het ’n matige klimaat. Die vallei is omring deur berge, het vrugbare grond en kry baie reën. Constanza is ’n ideale plek om knoffel te kweek.
In September of Oktober maak die boere van Constanza hulle lande skoon en ploeg hulle diep vore daarin wat geskei word deur grondwalle van ongeveer ’n meter wyd. Op elke wal maak hulle drie of vier vlakker vore waarin hulle knoffel sal plant. Intussen breek werkers heel knoffelbolle op in afsonderlike knoffelhuisies. Nadat die huisies 30 minute lank in water geweek is, plant die werkers dit in die vore wat daarvoor gemaak is. Die knoffel groei gedurende die matige Dominikaanse winter.
In Maart of April begin die oesinsameling. Werkers trek die volwasse knoffelplante uit die grond en laat dit vyf of ses dae lank op die lande lê. Hulle samel dan die knoffel in, sny die wortels en toppe af en sit die skoon bolle in oop houers wat cribas genoem word. Hulle los die vol cribas ’n dag lank in die son om die geoeste knoffel te droog. Daarna is dit reg om verkoop te word.
Bietjie knoffel, baie geur
Wanneer jy by ’n tafel aansit om ’n smaaklike bredie of slaai te eet, sal jou neus jou gou laat weet as daar knoffel in die kos is. Maar waarom het knoffel geen reuk wanneer die bol nog heel is nie? Knoffel bevat kragtige chemikalieë wat van mekaar geskei is totdat ’n huisie gekneus, gesny of fyngestamp word. Wanneer ’n mens ’n knoffelhuisie maal, kom ’n ensiem, allinase, in aanraking met ’n stof wat alliien genoem word. ’n Oombliklike reaksie volg, wat allisin, die bron van knoffel se geur en smaak, voortbring.
Wanneer ’n mens ’n stukkie vars knoffel byt, is dit asof die allisin in jou mond ontplof. Of jy daarvan hou of nie, jy sal gou deur die geur van knoffel omring wees. Kan jy enigiets omtrent ’n sterk knoffelasem doen? Jy kan vars pietersielie of naeltjies kou om die reuk te probeer verberg.
Maar hou in gedagte dat die knoffelreuk hoofsaaklik uit jou longe kom. Wanneer jy knoffel eet, gaan dit van jou spysverteringstelsel na jou bloedstroom, wat dit na jou longe toe neem. Jy asem dan die skerp reuk uit. Mondspoelmiddels en pietersielie raak dus nie ontslae van ’n knoffelasem nie. Is daar ’n oplossing vir hierdie probleem? Nie werklik nie. Maar as jy almal om jou ook knoffel laat eet, sal niemand dit dalk agterkom nie!
In baie lande is kos sonder knoffel byna ondenkbaar. En selfs in lande waar knoffel gewoonlik minder gebruik word, meen baie knoffel-eters dat die voordele wat dit inhou, enige nadele ver oortref.
[Prent op bladsy 23]
Geoeste knoffel wat gedroog word
[Prent op bladsy 23]
Die Constanza-vallei
[Prent op bladsy 23]
Waarom het knoffel net ’n reuk wanneer dit fyngestamp is?