Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g 1/06 bl. 16-17
  • Daar gaan hulle!

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Daar gaan hulle!
  • Ontwaak!—2006
  • Soortgelyke materiaal
  • Die indrukwekkende wildeswaan
    Ontwaak!—1994
  • Ons beskou die wêreld
    Ontwaak!—2002
  • ’n Delikate dog geharde reisiger
    Ontwaak!—1996
  • Instink—aangebore wysheid
    Lewe—Hoe het dit hier gekom? Deur evolusie of deur die skepping?
Sien nog
Ontwaak!—2006
g 1/06 bl. 16-17

Daar gaan hulle!

DIT was amper skemer, en die herfsluggie was koel. Die rustige stilte is egter kort voor lank verbreek deur die lawaai van ’n trop ganse. Skielik was hulle bokant my—ongeveer 20 van hulle het in ’n reuse-V-formasie met sierlike, kragtige vlerkslae gevlieg. Een gans het grasieus na links geswenk en agter die groep ingeval. Die indrukwekkende gesig het my nuuskierigheid geprikkel. Waarom vlieg ganse in formasie? En waarheen is hulle op pad?

Die gans is ’n watervoël en is nou verwant aan die eend en die swaan. Wêreldwyd is daar sowat 40 gansspesies, en hulle kom die algemeenste in Asië, Europa en Noord-Amerika voor. Die Kanadese gans is een van die bekendste spesies, met sy kenmerkende lang nek en wit vlek om die keel. Volwasse mannetjies van die reuse- Kanadese gans, wat ’n subspesie is, kan tot agt kilogram weeg en het ’n vlerkspan van twee meter. Hierdie gans bring die somer so ver noord as Alaska en Noord-Kanada deur en migreer dan so ver suid as Mexiko vir die wintermaande.

Die tydsberekening van ganse se migrasie is van die allergrootste belang. As hulle te vroeg in die noorde aankom, sal die water nog gevries en die plantegroei skaars wees. Daarom trek Kanadese ganse gewoonlik verder noord namate dit warmer word. Wanneer die ganse hulle bestemming bereik, paar hulle af, en elke paar vind dan sy eie broeiplek.

Wanneer ganse in formasie vlieg, kan hulle mekaar in die oog hou en vinnig reageer wanneer die voël voor hulle van rigting, spoed of hoogte verander. Daarbenewens meen party deskundiges dat die lugstroom wat deur die voorste gans veroorsaak word, dit vir die res van die trop makliker maak om te vlieg, aangesien dit turbulensie verminder. Hoe dit ook al sy, dit lyk of ’n migrerende trop gewoonlik uit ’n paar families bestaan, met die volwassenes wat om die beurt voor vlieg.

Kanadese ganse gebruik dikwels jaar ná jaar dieselfde broeiplek. Die nes word gewoonlik van eenvoudige materiaal, soos stokkies, gras en mos, gemaak. Ganse is monogamies—dit wil sê, hulle het hulle hele lewe lank net een maat. As een van die twee doodgaan, sal die gans wat agterbly, dalk ’n ander maat neem. Maar gewoonlik bly hy alleen.

Die wyfie lê tussen vier en agt eiers, waarop sy ongeveer 28 dae broei. Die ouers is dapper beskermers. Wanneer hulle of hulle kleintjies bedreig word, raak die paar nogal aggressief. Hulle kan roofdiere kragtige houe met hulle vlerke toedien.

Ganskuikens begin al kommunikeer wanneer hulle nog in die eier is. Hulle maak geluide wat wissel van hoë trilgeluide (wat sê dat hulle tevrede is) tot noodroepe. Wanneer volwassenes met hulle kleintjies en met mekaar kommunikeer, gebruik hulle ook ’n verskeidenheid geluide. Trouens, navorsers het ten minste 13 verskillende geluide onder Kanadese ganse geïdentifiseer.

Ganse lewer beslis bewys van die feit dat hulle “instinktief wys” is (Spreuke 30:24). Jehovah God, die een wat alles—ook die voëls van die hemel—gemaak het, verdien natuurlik al die eer hiervoor.—Psalm 104:24.

[Venster/Prente op bladsy 17]

Het jy geweet?

● Sodra die ganskuikens uitbroei, verlaat hulle vir altyd die nes saam met ma en pa. Families bly gewoonlik bymekaar.

● Indiese ganse migreer blykbaar oor Everest, wat byna 8 900 meter hoog is.

● Party ganssoorte kan tot 1 600 kilometer ver vlieg sonder om te rus.

● Wanneer ganse in formasie teen dieselfde spoed vlieg as ganse wat alleen vlieg, klap hulle hulle vlerke minder, en hulle hartklop daal gevolglik.

[Erkenning]

Bo links: U.S. Fish & Wildlife Service, Washington, D.C./Duane C. Anderson

[Foto-erkenning op bladsy 16]

Ganse in vlug: © Tom Brakefield/CORBIS

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel