Ons beskou die wêreld
◼ In 2000 was daar wêreldwyd ongeveer 8,3 miljoen nuwe gevalle van tering (TB), en byna tweemiljoen TB-lyers het gesterf—feitlik almal in lande met ’n lae inkomste.—MEDICAL JOURNAL OF AUSTRALIA.
◼ “Tienmiljoen jongmense lewe tans met MIV, en meer as die helfte van die 4,9 miljoen mense wat elke jaar wêreldwyd die siekte opdoen, is tussen die ouderdomme van 15 en 24.”—VERENIGDE NASIES SE BEVOLKINGSFONDS.
◼ Grootalbatrosse se reise om die wêreld is deur middel van satellietopsporing waargeneem. Die vinnigste albatros het in slegs 46 dae om die aarde gevlieg.—DIE TYDSKRIF SCIENCE, VSA.
◼ “Elke uur van elke dag bestee die wêreld meer as $100 miljoen [R635 miljoen] aan soldate, wapens en ammunisie.”—VITAL SIGNS 2005, WORLDWATCH-INSTITUUT.
Toenemende geweld teen geestelikes?
“Om ’n priester te wees, is een van die gevaarlikste beroepe in [Brittanje]”, het die Londense koerant Daily Telegraph in 2005 berig. ’n Opname deur die regering in 2001 het aan die lig gebring dat byna driekwart van die geestelikes waarmee ’n onderhoud gevoer is, gedurende die afgelope twee jaar sleg behandel of aangerand is. Sedert 1996 is ten minste sewe geestelikes vermoor. In een stedelike gebied, Merseyside, was daar “elke dag gemiddeld een aanranding, roof of geval van brandstigting in een van sy 1 400 plekke van aanbidding”.
Buitengewone biologiese diversiteit
Al word sy reënwoude vernietig, “het die eiland Borneo nog steeds ’n buitengewone biologiese diversiteit in sy binneland”, sê The New York Times. Volgens die Wêreld-natuurfonds het bioloë 361 nuwe plant- en diersoorte tussen 1994 en 2004 op die eiland ontdek, wat aan Brunei, Indonesië en Maleisië behoort. Die ontdekkings het 260 insekte, 50 plante, 30 visse, 7 paddas, 6 akkedisse, 5 krappe, 2 slange en ’n skurwepadda ingesluit. Maar die reënwoude van die binneland kan egter deur toenemende ontbossing bedreig word, wat deur die aanvraag na tropiese hardehout, rubber en palmolie aangedryf word.
Toename in bygelowigheid
“Selfs in ’n tyd wat deur tegnologie en wetenskap gekenmerk word, het bygelowigheid nie sy aantrekkingskrag verloor nie”, berig die Duitse meningspeilinginstituut Allensbach. ’n Langtermynstudie het getoon dat “irrasionele geloof in goeie of slegte voortekens onder die bevolking voortduur en in werklikheid vandag gewilder is as wat dit ’n kwarteeu gelede was”. In die 1970’s het 22 persent gemeen dat verskietende sterre ’n invloed op hulle lewe uitoefen. Nou glo 40 persent dit. Vandag verwerp slegs 1 uit 3 volwassenes alle vorme van bygelowigheid. ’n Ander studie onder 1 000 Duitse universiteitstudente het getoon dat ’n derde van hulle op gelukbringertjies vertrou wat hulle in hulle motor of aan hulle sleutelring hou.
Suidpoolgletsers word kleiner
“Gedurende die afgelope 50 jaar het 87 persent van die 244 gletsers op die Suidpoolskiereiland kleiner geword”, en dit het vinniger gebeur as wat deskundiges verwag het, berig die koerant Clarin van Buenos Aires. Die eerste uitgebreide ontleding van gletsers in die gebied het ook getoon dat lugtemperature gedurende die afgelope 50 jaar met meer as 2,5 grade Celsius gestyg het. Die feit dat gletsers oor die algemeen kleiner geword het, is hoofsaaklik die gevolg van klimaatsverandering, sê David Vaughan van die Britse Suidpoolopname. “Is mense hiervoor verantwoordelik?” vra hy. “Ons kan nie met sekerheid sê nie, maar ons is een stap nader aan die antwoord op hierdie belangrike vraag.”