‘Ek wil God dien voordat ek sterf’
DIE VERHAAL VAN MAMIE FREE
IN 1990 het ’n burgeroorlog in Liberië uitgebreek. Terwyl die gevegte hewiger geword het, was Mamie, ’n 12-jarige Krahn-meisie en haar familie in hulle huis in die hoofstad Monrovia vasgekeer. “Ons het ’n ontploffing by die huis langsaan gehoor”, sê Mamie. “’n Missiel het ons bure se huis getref, wat dit aan die brand laat slaan het. Die vlamme het na ons huis versprei en dit ook aan die brand laat slaan.” Te midde van hewige gevegte het Mamie, haar ma en haar ma se jonger broer gevlug.
“Skielik het iets my getref”, vertel Mamie.
“My ma het toe gevra: ‘Wat’s fout?’”
“Iets het my getref! Ek dink dis ’n koeël”, het ek gesê.
Mamie het in pyn inmekaar gesak en gebid: “Hoor my asseblief, o God. Ek dink ek gaan sterf, maar ek wil u dien voordat ek sterf.” Toe het sy flou geword.
Van die bure het gedink dat Mamie dood is en wou haar by ’n nabygeleë strand begrawe. Haar ma het egter daarop aangedring dat sy na die plaaslike hospitaal geneem word. Ongelukkig was die hospitaal nie behoorlik toegerus om die toestroming van gewonde mans, vroue en kinders te hanteer nie. Mamie se oom, wat ook gewond is, het daardie nag gesterf, maar Mamie het die dood vrygespring, hoewel sy verlam was in haar onderlyf.
Sy het steeds inwendig gebloei en verskriklike pyn verduur. Vier maande later het die dokters uiteindelik X-strale geneem om die koeël op te spoor. Dit het tussen haar hart en haar longe vasgesit. Dit sou gevaarlik wees om ’n operasie uit te voer, gevolglik het Mamie se ma haar na ’n tradisionele kruiedokter geneem. “Hy het my met ’n lemmetjie gesny”, vertel Mamie, “waarna hy sy mond teen die wond gesit en die koeël probeer uitsuig het. ‘Hier is dit’, het hy gesê, toe hy ’n koeël uit sy mond haal. Ons het hom betaal en is toe daar weg.”
Maar dit was ’n leuen. Verdere X-strale het aan die lig gebring dat die koeël nie verwyder is nie. Mamie en haar ma is dus weer na die kruiedokter toe, wat hulle daarvan oortuig het dat die X-strale eers oor nege maande sou aandui dat die koeël verwyder is. Hulle het teruggekeer huis toe en geduldig gewag. Intussen het Mamie verskeie middels gebruik om haar te help om die pyn te verduur. Nog X-strale is nege maande later geneem. Die koeël was nog steeds daar. Die kruiedokter het die hasepad gekies.
Die koeël was nou al 18 maande in Mamie se liggaam. ’n Familielid het haar na ’n vroulike toordokter geneem. In plaas daarvan om te help, het sy gesê dat Mamie of haar ma op ’n sekere dag sou sterf. Mamie was toe 13 jaar oud. “Ek het net gehuil en gehuil”, sê Mamie. “Maar toe daardie dag kom, is niemand dood nie.”
Daarna het een van Mamie se ooms haar na ’n kerkleier geneem wat glo in ’n visioen gesien het dat Mamie se lamheid deur ’n towerspreuk veroorsaak is en nie deur ’n koeël nie. Hy het belowe dat Mamie binne ’n week weer sou kon loop as sy die ritusse volg wat hy voorskryf. Mamie verduidelik: “Ek het baie heilige baddens met seewater geneem en ook gevas en elke aand om middernag ure lank op die grond gerol. Maar dit was alles verniet, en my toestand het dieselfde gebly.”
Mettertyd was daar meer mediese fasiliteite beskikbaar, en Mamie kon uiteindelik die koeël laat verwyder. Sy het meer as twee jaar lank voortdurend pyn gehad. “Ná die operasie”, vertel sy, “het die pyn amper heeltemal verdwyn en het dit makliker geword om asem te haal. Hoewel ek gedeeltelik verlam gebly het, kon ek met die hulp van ’n loopraam staan.”
Mamie ontmoet Jehovah se Getuies
’n Paar weke ná die operasie, het Mamie se ma twee van Jehovah se Getuies ontmoet. Sy het die Getuies na haar huis genooi, aangesien sy geweet het dat haar dogter dit geniet om die Bybel te lees. Mamie het onmiddellik ’n Bybelstudie aanvaar. Etlike maande later het sy egter na die hospitaal teruggekeer en kontak met die Getuies verloor.
Maar Mamie het nog steeds na Bybelkennis gedors. Toe ’n godsdiensleier van ’n kerk aangebied het om haar te help, het sy die aanbod aanvaar. Tydens ’n Sondagskoolklas het ’n medeleerling die onderwyser gevra: “Is Jesus en God gelyk?”
“Ja”, het die onderwyser gesê. “Hulle is gelyk. Maar Jesus en God is nie in gelyke mate gelyk nie.”
‘Nie in gelyke mate gelyk nie?’ het Mamie gedink. ‘Dit maak nie sin nie. Hier is iets verkeerd.’ Omdat Mamie nie daarvan oortuig was dat sy Bybelwaarhede geleer word nie, het sy uiteindelik opgehou om daardie kerk by te woon.
In 1996 het geweld weer in Monrovia losgebars. Mamie het nóg twee familielede verloor, en haar huis is ’n tweede keer aan die brand gesteek. ’n Paar maande later het twee Getuies Mamie ontmoet terwyl hulle van huis tot huis getuig het. Mamie het haar Bybelstudie hervat. Toe sy haar eerste vergadering bywoon, was sy verbaas om te sien dat almal—insluitende die gemeentelike ouer manne—gehelp het om die Koninkryksaal skoon te maak. Later daardie jaar was sy verheug om een van die “Boodskappers van Goddelike Vrede”-streekbyeenkomste by te woon, die heel eerste groot samekoms van Jehovah se Getuies wat sy bygewoon het.
“Ek was baie beïndruk”, sê Mamie. “Die Getuies het opregte liefde vir mekaar, hoewel hulle van verskillende stamme is. En alles was goed georganiseer.”
Sy verwesenlik haar begeerte om God te dien
In 1998 het hernieude gevegte Mamie en haar ma gedwing om na die naburige Côte d’Ivoire te vlug, waar hulle in die Peace Town-vlugtelingkamp saam met sowat 6 000 ander Liberiërs gebly het. Mamie het aangehou om die Bybel saam met die Getuies te studeer en het vinnig vooruitgang gemaak. Weldra wou sy met ander oor haar geloof praat. Haar geestelike broers en susters het haar gehelp om aan die openbare bediening deel te neem deur haar rolstoel te stoot. Op hierdie manier kon Mamie vir baie ander vlugtelinge ’n goeie getuienis gee.
Hoewel haar fisiese beperkings dit vir haar moeilik gemaak het om by die Koninkryksaal te kom, wat ses kilometer van haar blyplek af was, het Mamie al die vergaderinge bygewoon. Op 14 Mei 2000 het sy meer as 190 kilometer afgelê om ’n spesiale byeenkomsdag by te woon en haar toewyding aan God deur waterdoop te simboliseer (Matteus 28:19, 20). Baie het trane in hulle oë gehad toe Mamie in ’n riviertjie ingedra en ondergedompel is. Haar gesig het gestraal toe sy uit die water opkom.
Mamie is tans in ’n vlugtelingkamp in Ghana, en haar doel is om ’n gewone pionier, of voltydse evangeliedienaar, te word. Haar ma het ook die Bybel saam met Jehovah se Getuies begin studeer, en sy vertel nou vir ander wat sy leer. Albei sien gretig uit na die tyd wat in God se Woord belowe word, wanneer ‘die kreupele net soos ’n takbok sal klim en die tong van die stomme van vreugde sal uitroep’.—Jesaja 35:5-7.
[Prent op bladsy 22]
Die koeël wat uit Mamie se liggaam verwyder is
[Prent op bladsy 23]
Mamie word in ’n riviertjie ingedra om gedoop te word
[Prent op bladsy 23]
Besig om ’n Bybelstudie met haar ma, Emma, te hou