Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g 3/06 bl. 24-25
  • Op soek na die moeflon

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Op soek na die moeflon
  • Ontwaak!—2006
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Ons eerste ontmoeting
  • ’n Ram in die natuur!
  • Die verkragting van die reënwoude
    Ontwaak!—1998
  • Inhoudsopgawe
    Ontwaak!—2006
  • Skaduwees oor die reënwoud
    Ontwaak!—1997
  • “Die bome van Jehovah word versadig”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2004
Sien nog
Ontwaak!—2006
g 3/06 bl. 24-25

Op soek na die moeflon

Toegerus met kaarte, kameras, hoede en goeie stewels klim ons vroeg een pragtige lenteoggend in ons veldvoertuig. Ons bestemming is die Pafos-woud, hoog in die Troödos-bergreeks van Siprus, waar ons hoop om die sku moeflon te vind. Wat is hierdie dier?

DIE moeflon is ’n soort wildeskaap, waarvan verwante spesies in die hele Mediterreense streek voorkom. Maar die spesifieke moeflon wat ons belangstelling geprikkel het, is inheems in Siprus, en daar word gesê dat dit nie net so mooi soos ’n hert is nie, maar ook so rats soos ’n bok. Dierkundiges noem dit Ovis gmelini ophion, terwyl Sipriote dit agrinó noem. Dit kan slegs in afgeleë bergstreke gevind word.

Ons draai van die snelweg af, ry deur die voetheuwels en daarna deur ’n pragtige vallei. Daar is dorpies teen die heuwelhange en vrugteboorde aan weerskante van die vallei. Maar kort voor lank word die pad sleg, en op party plekke kom ons voertuig gevaarlik naby die rante van steil skuinstes. Uiteindelik bereik ons ons bestemming—die bosboustasie. Ons is nou diep in die Pafos-woud met sy 60 000 hektaar denne- en sederbome. Ons bestel koffie en gesels met Andreas, ’n boswagter in ’n groen uniform wat geesdriftig oor die moeflon praat.

Die moeflon, sê hy, is die grootste wilde soogdier in Siprus. In die verlede het groot getalle die eiland bewoon. Talle Grieks-Romeinse mosaïeke beeld hierdie wildeskaap uit, en Middeleeuse werke beskryf hoe die hoër stand dit geniet het om moeflons in die Pafos-woud te jag.

Terwyl Andreas ons na ’n afgekampte gebied lei, vertel hy ons meer omtrent die moeflon se geskiedenis. Ons leer byvoorbeeld dat hierdie dier se getalle ná die koms van die jaggeweer drasties afgeneem het. Eers in 1938 is die jagwette van Siprus hersien om hierdie dier te beskerm. Boswagters en die polisie het saamgewerk om wilddiefstal te bekamp. ’n Jaar later is jagters nie meer in die woud toegelaat nie. Hierdie veranderinge, tesame met addisionele maatreëls wat sedert die 1960’s geld, het gesorg vir ’n groot toename in die moeflonbevolking.

Ons eerste ontmoeting

Ons volg Andreas na die afgekampte gebied en loer tussen die bosse en bome deur. Hy beduie vir ons om stil te bly en lei ons ’n entjie teen ’n skuinste op. Daar sien ons twee volwasse ooie en twee lammetjies wat in ’n sonnige oopte wei. Die ooie staan omtrent 90 sentimeter hoog. Hulle pels is ligbruin en word ligter op die pens.

Die wilde plante wat hulle vreet, is hierdie tyd van die jaar volop, en die ooie is te besig om te wei om hulle veel aan ons te steur. Die lammetjies hou egter op met baljaar en gee ’n paar huiwerige treetjies na ons toe. Ons is in ons noppies! Maar net die kliek van een van ons kameras laat hulle skrik en in ’n oogwink verdwyn hulle almal in die woud.

Ons is heel in ons skik omdat ons hulle gesien het en maak planne om die res van die woud te voet te verken, in die hoop om moeflons in die natuur te sien. Andreas stel voor dat ons dit met dagbreek probeer, wanneer die diere dit soms tot aan die rand van die woud waag wanneer hulle kos soek. Aangesien ons beplan om vir die nag in die vallei te kampeer, is die berg wat oor die vallei uitkyk, dalk ’n goeie plek om na hulle te soek. Ons vind uit dat die moeflons tydens die warmer maande die hoër hange verkies, maar dat hulle gedurende die winter, wanneer die pieke met sneeu bedek is, laer af na eetbare plante soek en dit dan selfs in die ooptes waag.

Paring vind in die herfs plaas. Gedurende die winter beweeg moeflons rond in kuddes van tussen 10 en 20 diere. Wanneer die lamtyd in April of Mei begin, verdeel die kudde in kleiner groepies, soos die groep wat ons in die afgekampte gebied gesien het. Volwasse ramme wei gewoonlik op hulle eie.

’n Ram in die natuur!

Vroeg die volgende oggend ry ons weer hoër op, parkeer die voertuig in ’n oopte en stap in die woud in voor die son te hoog is. Die woud is nog stil, en mis dryf tussen die bome. Toe ons gaan staan om die stilte te geniet, sien ons hom—’n pragtige, gespierde ram, wat al die meeste van sy dik winterpels verloor het. Donker hare bedek die onderste gedeelte van sy keel. Met sy kop trots gekantel, staar hy ons deur donker ooghare aan en toets die lug vir ons reuk. Elkeen van sy dik, gekrulde horings is seker ten minste 40 sentimeter lank! Hy is swaarder as die ooie wat ons gister gesien het, en weeg seker omtrent 35 kilogram.

Ons gaan staan doodstil en waag dit amper nie eers om asem te haal nie. Nietemin lyk dit asof hierdie skugter dier ons geruik het, want hy skud sy kop op en af en vlug. Wat ons gedurende die afgelope twee dae gesien en geleer het, het ons waarlik beïndruk. Ons het ook groter waardering vir die Skepper gekry, wat gesê het: “Aan my behoort al die wilde diere van die woud, die diere op ’n duisend berge.”—Psalm 50:10.

[Prente op bladsy 24, 25]

’n Siprus-moeflon (agtergrond) en ’n Europese moeflon

[Foto-erkennings op bladsy 25]

Regs bo: Oxford Scientific/photolibrary/Niall Benvie; Europese moeflon: Oxford Scientific/photolibrary

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel