Die wêreld smag na goeie gesondheid!
MEER as 2 700 jaar gelede het ’n profeet gepraat van ’n toekomstige tyd wanneer daar nie meer siekte sal wees nie. Hierdie profesie is tot in ons dag bewaar en kan in die antieke geskrifte van Jesaja gevind word. Hy het geskryf van ’n tyd wanneer “geen inwoner sal sê: ‘Ek is siek’ nie” en het bygevoeg: “Dan sal die oë van die blindes geopen word, en die ore van die dowes sal ontsluit word. Dan sal die kreupele net soos ’n takbok klim, en die tong van die stomme sal van vreugde uitroep” (Jesaja 33:24; 35:5, 6). Ander Bybelprofesieë praat ook van so ’n toekoms. Die laaste boek van die Bybel, Openbaring, beskryf byvoorbeeld ’n tyd wanneer God alle pyn sal verwyder.—Openbaring 21:4.
Sal hierdie beloftes vervul word? Sal daar ooit ’n tyd wees wanneer die menseras goeie gesondheid sal geniet en siekte iets van die verlede sal wees? ’n Groot deel van die mensdom geniet vandag weliswaar beter gesondheid as in vorige geslagte. Maar beter gesondheid beteken nie die beste gesondheid nie. Siekte eis nog steeds ’n swaar tol. Selfs net die vrees om siek te word, veroorsaak groot angstigheid. En die wrede werklikheid is dat niemand, selfs in hierdie moderne tyd, die aanslag van fisiese en geesteskwale heeltemal kan vryspring nie.
Die prys wat jy betaal
Die las van swak gesondheid het baie gedaantes. Een hiervan wat vandag baie kommerwekkend is, is die vinnig stygende finansiële koste van siekte. Gedurende ’n onlangse jaar is 500 miljoen werksdae in Europa verloor weens gesondheidsprobleme. Op ander plekke is die situasie soortgelyk. Verminderde produktiwiteit in die werksplek, tesame met die toenemende koste van gesondheidsorg, skep ’n finansiële las wat almal raak. Maatskappye en regerings betaal ’n prys. Om hierdie koste te dek, verhoog sakeondernemings die pryse van hulle produkte, en regerings verhoog belasting. Wie betaal hiervoor? Op die ou end is dit jy!
Ongelukkig vind die armes dit gewoonlik moeilik om voldoende, indien enige, gesondheidsorg te kry. In ontwikkelende lande is dit die tragiese situasie van miljoene wat óf beperkte toegang óf geen toegang tot professionele gesondheidsdienste het nie. Selfs in ryk lande sukkel party om baat te vind by die goeie mediese sorg wat beskikbaar is. Dit is dikwels die geval met baie van die 46 miljoen mense in die Verenigde State wat nie mediese versekering het nie.
Siekte veroorsaak nie net ’n finansiële las nie. Ons betaal ’n baie hoër prys aan die angstigheid wat ’n terminale siekte meebring, die lyding wat deur chroniese pyn veroorsaak word, die hartseer wanneer ons ander sien wat ernstig siek is en die wanhoop wanneer ons ’n geliefde aan die dood afstaan.
Die hoop om eendag in ’n wêreld sonder siekte te lewe, is baie aantreklik. Die wêreld smag na goeie gesondheid! Baie glo dat so ’n hoop ’n werklikheid is, al klink dit te goed om waar te wees. Daar is party wat daarvan oortuig is dat feitlik alle siektes en kwale mettertyd deur middel van mensgemaakte tegnologie uitgewis sal word. Aan die ander kant glo diegene wat geloof in die Bybel stel, dat God die eeue oue profesieë daarin oor ’n wêreld sonder siekte sal vervul. Sal die mens dit regkry om siekte iets van die verlede te maak? Sal God dit doen? Wat hou die toekoms in?