Ons beskou die wêreld
◼ Oor ’n tydperk van 15 maande is 82 pasgebore babas op die strate van Mexikostad gevind, en 27 van hulle was dood.—EL UNIVERSAL, MEXIKO.
◼ Studies van grotte in twee nasionale parke in Kalifornië, VSA, het daartoe gelei dat 27 nuwe diersoorte ontdek is. “Dit bevestig net hoe min ons van die wêreld om ons weet”, sê Joel Despain, ’n grotkundige vir die Nasionale Parkediens.—SMITHSONIAN, VSA.
◼ Twintig persent van die wêreldbevolking het nie genoeg drinkwater nie. Veertig persent het nie basiese sanitêre geriewe nie.—MILENIO, MEXIKO.
◼ In die Serengeti- Nasionale Park alleen maak wilddiewe elke jaar tussen 20 000 en 30 000 diere dood.—THE DAILY NEWS, TANZANIË.
◼ In studies wat in Barcelona, Spanje, gedoen is, is bevind dat 1 uit elke 3 studente van 16-jarige ouderdom gereeld dagga rook.—LA VANGUARDIA, SPANJE.
Kieme in die kantoor
Mikrobioloë van die Universiteit van Arizona het vasgestel hoeveel bakterieë daar in kantore in ’n aantal Amerikaanse stede is. Hulle het gevind dat “die vyf plekke (in volgorde) waar die meeste kieme voorkom, telefone, oppervlakke van lessenaars, krane van waterfonteintjies, deurhandvatsels van mikrogolfoonde en toetsborde is”, sê die koerant Globe and Mail. Volgens die berig “is daar 100 keer meer bakterieë op die gemiddelde lessenaar as op ’n kombuistafel en 400 keer meer as op die gemiddelde toiletsitplek”.
“Christene slegs in woord”
Daar is al na die Filippyne verwys as die enigste “Christen”-nasie in Asië. Maar biskop Efraim Tendero van die Filippynse Raad van Evangeliese Kerke het gesê: “Die meeste van ons is Christene slegs in woord, maar nie in daad nie.” Volgens die Manila Bulletin is kerkleiers, wat nie “’n bewustheid van en waardering vir die Bybel bevorder” nie, gedeeltelik hiervoor verantwoordelik. Sommige preke in die kerk vestig glo die aandag op die politiek eerder as op die Skrif.
Mense en diere veg vir voedsel
“Berigte van bobbejane en hiënas wat gemeenskappe in die droogtegeteisterde Somalië aanval, word nou algemeen”, sê die Nairobiese koerant The East African. In een geveg oor water is etlike bobbejane dood en ’n paar veeboere gewond. Troppe ape gaan sit en wag glo by “strategiese kruispaaie of op brûe” om vragmotors te beroof wat voedsel na die plaaslike marke toe aanry. “Dit is iets alledaags om diere te sien wat weghardloop met trosse piesangs of [groot] waatlemoene”, voeg die koerant by.
Skepe beïnvloed die weer by die kus
Seeverkeer op besige seeroetes kan die weer by die kus beïnvloed, berig die Duitse koerant Kölner Stadt-Anzeiger. Navorsers by die Max Planck-instituut vir Meteorologie, Hamburg, het wolkvorming oor die Engelse Kanaal noukeurig ondersoek. Hulle het gevind dat wolke oor kusgebiede minder dig geword het, terwyl dié oor seeroetes digter geword het. Die verskynsel word toegeskryf aan die uitlaatgasse van skepe. Rookdeeltjies wat deur die skepe vrygestel word, tree glo as kondensasiekerne op, wat meer waterdruppels laat vorm. “Oor die afgelope 50 jaar”, sê die koerant, “het die brandstof wat in skeepvaart verbruik word, meer as vervierdubbel.”