Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g 10/08 bl. 14-17
  • Puerto Rico—rykdom in die son

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Puerto Rico—rykdom in die son
  • Ontwaak!—2008
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Besoek aan die Ou San Juan
  • Vier kosbare ekosisteme wat beskerm moet word
  • Jehovah se Getuies in alle wêrelddele—Puerto Rico
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
  • Hulle verskuif na Puerto Rico
    Ontwaak!—1993
  • Hoe ek geluk gevind het deur te gee
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe)—2016
  • Hoe lank kan mense lewe?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2004
Sien nog
Ontwaak!—2008
g 10/08 bl. 14-17

Puerto Rico—rykdom in die son

OP 19 November 1493 het Christophorus Columbus met ’n flottielje Spaanse skepe in die baai van ’n welige Karibiese eiland aangekom. Terwyl hy daar was, het hy die eiland San Juan Bautista (st. Johannes die Doper) genoem. Nadat hy sy voorrade vinnig aangevul het, het hy weggevaar en sy tweede ontdekkingsreis voortgesit.

Goue strande, omsoom met palmbome en geil tropiese plantegroei, was nie waarna hierdie ontdekkingsreisiger gesoek het nie. Columbus het sy oog gehad op groter eilande en die rykdom wat hy vasbeslote was om te ontdek.

Ponce de León, ’n Spanjaard wat Columbus volgens party op daardie reis vergesel het, het hom voorgeneem om terug te keer na die eiland wat onder die boorlinge as Borinquén bekend gestaan het. Hy het gehoor dat die boorlinge goue ornamente dra en het geglo dat daar goud in die eiland se heuwels is. Vyftien jaar later het hy teruggekeer om daaruit munt te slaan. In 1521 het die Spanjaarde hulle vernaamste nedersetting op die noordelike kus van die eiland gevestig. Ponce de León het die nuwe dorp Puerto Rico genoem, wat “Ryk hawe” beteken, omdat hy verwag het dat dit ’n ryk vonds sou oplewer.a

Ponce de León se optimisme was ongegrond. Die klein hoeveelheid goud wat in Puerto Rico gevind is, was gou uitgeput, en politieke probleme het vermenigvuldig. Ponce de León het Puerto Rico uiteindelik verlaat en na wat vandag as die staat Florida, VSA, bekend staan, gegaan.

Hoewel die eiland self min mineralerykdom gehad het, het die Spanjaarde gou besef dat Puerto Rico se vernaamste hawe ’n waardevolle bate is. Gedurende die 16de eeu het hulle die eiland se hoofstad in ’n veilige hawe omskep om die seilskepe te beskerm wat goud van die Amerikas na Spanje vervoer het. Kort voor lank het San Juan bekend geword as “die stewigste vastrapplek van Spanje in Amerika”.

Sterk mure, 13 meter hoog en tot 6 meter dik—asook twee massiewe vestings—getuig nog steeds van die groot moeite wat die mense van San Juan gedoen het om hulle stad te beskerm. Vandag is San Juan nog steeds baie gewild onder mense wat die Karibiese Eilande besoek. Terwyl besoekers langs die stadsmure loop en die eertydse geboue verken, kan hulle hulle voorstel hoe dit was om in koloniale tye te lewe.

’n Besoek aan die Ou San Juan

Die ommuurde stad staan bekend as die Ou San Juan, wat ’n teenstelling vorm met die bedrywige moderne metropool waardeur dit omring word. Die Ou San Juan lyk amper soos ’n skip wat op die see dryf. Dit is so te sê omring deur die see, en sy landhoof, of “boeg”, strek uitdagend tot in die Atlantiese Oseaan uit. Op hierdie strategiese wig staan El Morro, die Spaanse fort wat die hawe se ingang beskerm het. Agter El Morro loop skansmure al langs die kuslyn van die smal landengte, wat amper soos die boeg van ’n skip lyk. Omtrent een en ’n half kilometer ooswaarts is daar nog ’n ontsaglike vesting genaamd San Cristóbal, wat die “agterstewe” teen enige moontlike aanval van die land af beskerm het. Tussen hierdie twee forte is die Ou San Juan geleë, wat in 1983 deur UNESCO tot ’n Wêrelderfenisgebied verklaar is.

Die ou stad is met groot sorg opgeknap. Die inwoners verf hulle huise met vrolike pastelkleure, drapeer hulle smeeysterbalkonne met kleurvolle blomme en vul hulle binneplase met tropiese plante. Die blougrys straatklippe wat gebruik is om die strate van San Juan te plavei, kom uit die ystermyne van Spanje. Hierdie klippe, wat gemaak is van oorblyfsels van gesmelte metaalerts, is as ballas gebruik deur Spaanse skepe wat na Puerto Rico gereis het.

Op die skansmure van San Cristóbal hou antieke Spaanse kanonne nog steeds wag oor die hawe. Deesdae word die hawe nie meer deur Spaanse seilskepe vol goud besoek nie, maar deur reuseplesierbote vol toeriste. Die ontspanne atmosfeer en die vriendelikheid van die eiland se inwoners dra by tot die stad se gewildheid as toeristebestemming. Voetgangers geniet nog steeds voorrang in die ou stad, en daarom sit bestuurders baie keer doodluiters geduldig en wag terwyl fotograwe op straat vakansiefoto’s neem.

Vier kosbare ekosisteme wat beskerm moet word

Hoewel ’n derde van die eiland se bevolking in die omgewing van San Juan woon, het Puerto Rico baie ander aanloklikhede. Die eiland is dalk relatief klein, maar die verskeidenheid in sy klimaat en topografie maak dit ideaal vir fauna en flora. Hieronder word net vier van die unieke ekosisteme beskryf wat die owerheid van Puerto Rico probeer bewaar.

El Yunque- Nasionale Woud is ’n reservaat waarin een van die min tropiese reënwoude op die Karibiese Eilande beskerm word. Watervalle versier sy hange. Die groen plantegroei van sy wolkwoud word deur oranje bromeliablomme opgehelder, terwyl ontsaglike boomvarings om spasie meeding met liane en palmbome. Hoewel die Puerto Ricaanse papegaai ’n bedreigde spesie is, het hulle darem ’n kans op oorlewing in hierdie veilige hawe, en die coqui—die klein boompadda wat Puerto Rico se nasionale embleem is—se aanhoudende, musikale geroep gee ritme aan die woud.

Op ’n afstand lyk dit asof El Yunque se hange ’n silwer sluier dra. Die kleur is as gevolg van die blare van die yagrumo-boom, ’n spesie wat floreer het nadat die orkaan Hugo etlike jare gelede verwoesting daar gesaai het. Die nuwe groei is ’n goeie teken. “Die woud kan met min hulp van natuurrampe herstel”, het een parkbioloog verduidelik. “Die werklike gevaar is indringing deur die mens.” Daar is ongeveer 225 boomsoorte, 100 varingsoorte en 50 orgideesoorte in die park. Weens die wye verskeidenheid flora is dit tot ’n Verenigde Nasies-biosfeerreservaat verklaar.

Guánica-biosfeerreservaat. Net 1 persent van die wêreld se tropiese droëwoude bestaan moontlik nog. ’n Treffende voorbeeld hiervan is egter net ’n paar uur se ry van El Yunque af te sien. Sommige plantkundiges sê dat Guánica “moontlik die beste voorbeeld van ’n subtropiese droëwoud ter wêreld” is. Dit is die tuiste van die meeste van Puerto Rico se inheemse voëls, asook 750 plantspesies, waarvan 7 persent bedreig is. Die ongewone blomme lok kolibries en ’n groot aantal skoenlappers. Langs die droëwoud is daar ’n ongerepte strook kuslyn, waarheen groen seeskilpaaie en leerskilpaaie kom om hulle eiers te lê.

Wortelbome en koraalriwwe. In die Guánica-reservaat is daar ook ’n strook wortelboomwoud wat al langs die kus strek. “Ons reservaat help om die wortelbome gesond te hou omdat daar geen nywerheids- of landbouafvalwater is nie”, het een van die park se veldwagters verduidelik. “En die wortelboommoeras verskaf ’n ideale broeiplek vir baie van die visse in die koraalriwwe.” Ander unieke toeriste-aantreklikhede wat van ongeskonde wortelboommoerasse afhanklik is, is die luminessensiebaaie waarvan ’n hele paar in Puerto Rico gevind kan word.—Sien die venster “Soos om in sterre te baai”.

Die riwwe naby die kus het intensiewe visvangs vrygespring, en etlike seebanke en onderwaterriwwe is as nasionale parke opsygesit. Hierdie onderwatertuine voorsien ’n wonderlike skouspel vir duikers, wat van aangesig tot aangesig kan kom met skilpaaie en manatees, asook ’n ontsaglike verskeidenheid kleurvolle visse.

Hoewel Puerto Rico nie vir Columbus beïndruk het nie en die gierige Spaanse veroweraars teleurgestel het, verskaf dit genot aan hedendaagse besoekers. Vir hulle is Puerto Rico propvol natuurlike rykdom.

[Voetnoot]

a Kort daarna het ’n misverstand onder kartograwe daartoe gelei dat die eiland se naam verwar is met dié van die vernaamste nedersetting. Van toe af staan die eiland—in plaas van die hoofstad, San Juan—bekend as Puerto Rico.

[Venster/Prent op bladsy 16]

’N UNIEKE STERREWAG

Dit is die moeite werd om die Arecibo-sterrewag, omtrent 80 kilometer wes van San Juan, te besoek. Dit spog met die wêreld se grootste radioteleskoop, met ’n skottel, of komvormige reflektor, wat 305 meter in deursnee is. Die grootte van hierdie teleskoop stel sterrekundiges in staat om voorwerpe waar te neem wat nie deur ander teleskope gesien kan word nie.

[Erkenning]

Courtesy Arecibo Observatory/David Parker/Science Photo Library

[Venster/Prent op bladsy 17]

“SOOS OM IN STERRE TE BAAI”

Op die eiland Vieques—wat naby die kus van Puerto Rico is—is ’n klein inham wat as Bioluminessensiebaai bekend staan. Die baai doen sy naam gestand omdat dit na bewering die hoogste konsentrasie fosforessente waterorganismes ter wêreld het. Wanneer hierdie klein organismes—wat as dinoflagellate bekend staan—versteur word, gee hulle ’n groenblou skynsel af. Hierdie eienskap gee aanleiding tot een van die ongewoonste natuurverskynsels.

Besoekers wat snags na die strandmeer gaan, let eers die luminessensie op wanneer verskrikte visse vinnig van hulle boot af wegswem. Die ligspoor van die visse verlig die donker water soos groen verskietende sterre. Wanneer mense in hierdie water swem, kan elke beweging wat hulle maak, in die donker gesien word. Wanneer hulle hulle arms uit die water oplig, val waterdruppels soos skitterende sterre van hulle af. “Hierdie ondervinding is soos om in sterre te baai”, het een besoeker gesê.

[Prent op bladsy 15]

El Morro

[Prent op bladsy 15]

’n Uitsig op die ou stad vanaf San Cristóbal

[Prent op bladsy 15]

Die Ou San Juan

[Prent op bladsy 16]

’n Boomvaring in die El Yunque-reënwoud

[Prent op bladsy 16, 17]

Die kuslyn in Guánica

[Erkenning]

© Heeb Christian/age fotostock

[Prent op bladsy 17]

Puerto Ricaanse papegaaie

[Prent op bladsy 17]

’n Koraalrif

[Foto-erkenning op bladsy 14]

Passport Stock/age fotostock

[Foto-erkenning op bladsy 15]

Al die foto’s: Passport Stock/age fotostock

[Foto-erkennings op bladsy 17]

Papegaaie: U.S. Geological Survey/Photo by James W. Wiley; rif: © Stuart Westmorland 2005; swemmer: Steve Simonsen

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel