My klein pienk boekie
Soos vertel deur Cynthia Newell
TOE ek sewe jaar oud was, het ’n meisie op die skoolbus in Shreveport, Louisiana, VSA, my ’n pienk boekie aangebied met die titel Luister na die Groot Onderwyser. Sy het gesê dat ek dit vir 50 sent kon kry. Sy het toe na ons huis toe gekom, en ons het die 50 sent saam afgetel.
Ek was baie lief vir daardie pienk boekie. Kort nadat ek dit gekry het, het ek siek geword en in die hospitaal beland. Om my te troos, het my gesin vir my uit my geliefde boekie voorgelees. Maar namate ek ouer geword het, het ek die pienk boekie al hoe minder gelees, aangesien dit hoofsaaklik vir kinders bedoel is. Dit het my belangrike lesse geleer, maar ek het ’n dieper begrip nodig gehad. Ek het besluit om elke week na ’n ander kerk te gaan op soek na Bybelse antwoorde op my vrae. Maar ek het nie bevredigende verduidelikings gevind nie.
Teen die tyd dat ek hoërskool toe is, was godsdiens vir my minder belangrik, hoewel ek nog steeds gesmag het na Bybelkennis en my Bybel gereeld gelees het. Eendag het ek opgemerk dat ’n klasmaat nie die eed van getrouheid aflê nie. Ek het haar daaroor uitgevra, en sy het gesê: “Ek het reeds my getrouheid aan Jehovah belowe; hoe kan ek dit dan terselfdertyd aan God sowel as die vlag gee?” Dit was so logies! ‘Maar wie is Jehovah?’ het ek gewonder.
Op elke vraag wat ek gevra het, het my klasmaat ’n antwoord uit die Bybel gegee. Ek het gewonder: ‘Hoe het sy dit alles geleer? Ons is ewe oud; tog weet sy alles van die Bybel!’ Sy het verduidelik: “Ek leer by die Koninkryksaal omtrent die Bybel.” Ek het haar uitnodiging om daardie Sondag ’n vergadering by te woon, gretig aanvaar. Ek was al by elke kerk in die dorp, maar het die Koninkryksaal van Jehovah se Getuies op die een of ander manier oorgeslaan. Daardie Sondag het ek besef dat ek ’n plek gevind het waar mense Bybelwaarheid geleer word.
Ná die vergadering het ek na die lektuurtoonbank gegaan, en daar, op die boonste rak, was my pienk boekie! Tien jaar het verloop sedert ek die boekie by die meisie op die bus gekry het, en ek het dus vergeet wie dit vir my gegee het. Maar toe onthou ek—dit was Nancy, dieselfde meisie wat my na hierdie vergadering genooi het!
Daarna het ek ’n weeklikse Bybelstudie gehad en vinnig vooruitgang gemaak. Ek het soveel uit my pienk boekie geleer dat die kennis wat ek tydens die Bybelstudie opgedoen het, dadelik sin gemaak het. Kort voor lank het ek my lewe aan Jehovah toegewy, en ek is in 1985 op 18-jarige ouderdom gedoop. Intussen het Nancy na Florida getrek, en ons het kontak verloor.
Ná ’n paar jaar is ek getroud. In 1991 het ek en my man, Drew, die voltydse diens betree en in ’n klein dorpie in Oos-Texas as pioniers gaan dien. Maar wat het van Nancy geword? Ek het geen idee gehad nie. Een aand, toe ek Die Wagtoring van 1 Desember 1992 gelees het, het ek uitgeroep: “Kyk! Hier’s Nancy!” Sy was op die foto van die jongste Gileadklas. Sy en haar man, Nick Simonelli, het ’n toewysing ontvang om in Ecuador, Suid-Amerika, te gaan dien.
In 2006 het ek en my man aansoek gedoen om as vrywilligers op internasionale bouprojekte van Jehovah se Getuies te dien. Hoe opgewonde was ons tog toe ons uitvind dat ons eerste toewysing die takuitbreidingsprojek in Ecuador sou wees! Op my eerste dag by die takkantoor in Ecuador, het ek Nancy raakgeloop! Sy het toevallig daardie dag die tak besoek. Ons het mekaar gesien en omhels—weer saam, 32 jaar nadat ek my pienk boekie gekry het! Hoe dankbaar is ek tog teenoor Jehovah vir daardie boekie en vir die jong meisie wat dit vir my aangebied het!
[Venster/Prente op bladsy 23]
DIT HET MILJOENE LEWENS GERAAK
In 2003, nadat Luister na die Groot Onderwyser al 32 jaar lank in druk was, is ’n hersiene uitgawe uitgegee. Die titel daarvan is Leer by die Groot Onderwyser. Tot op hede is daar altesaam meer as 65 miljoen eksemplare van hierdie boeke oor Jesus se leringe in meer as 100 tale gedruk. Jy kan ’n eksemplaar van Leer by die Groot Onderwyser by een van Jehovah se Getuies in jou omgewing kry.
[Prente op bladsy 23]
Inlasfoto’s: Toe ons mekaar as kinders geken het
Cynthia
Nancy
Agtergrond: Jare later, by die tak in Ecuador