Die Bybel se beskouing
Moet daar ’n onderskeid bestaan tussen geestelikes en leke?
Hoogeerwaarde, Weleerwaarde, Vader, Allerheiligste Vader, Rabbi, Sy Eminensie, Sy Eksellensie, Sy Heiligheid, Sy Alheiligheid—dit is ’n paar van die titels wat die geestelikes in verskeie godsdienste van die leke onderskei. In baie godsdienste is daar ’n skeiding tussen die geestelikes en die leke, maar kom hierdie reëling van God af of is dit ’n mensgemaakte tradisie? Nog belangriker, dra dit God se goedkeuring weg?
“IN DIE Nuwe Testament en gedurende die vroeë apostoliese tye word daar geen melding gemaak van geestelikes of leke nie”, het die teologieprofessor Cletus Wessels geskryf. Die Encyclopedia of Christianity sê: “Met verloop van tyd is daar ’n onderskeid getref tussen geestelikes as die ampsbekleërs en leke as die res . . . ‘Gewone’ kerklidmate is toe beskou as die onbevoegde massa.” Hierdie onderskeid het baie duidelik geword in die derde eeu HJa—meer as twee honderd jaar ná Jesus Christus!
As die onderskeid tussen geestelikes en leke nie gegrond is op die voorbeeld wat Jesus se apostels en ander vroeë Christene gestel het nie, is dit dan verkeerd? Volgens die Bybel, ja. Kom ons kyk waarom dit so is.
“Julle [is] almal broers”
God se Woord sê vir ons dat alle Christene bedienaars van God is en dat niemand meer of minder belangrik as ’n ander is nie (2 Korintiërs 3:5, 6). Vroeë Christene “het sterk daarop aangedring dat daar geen klasseverskille onder hulle moes wees nie”, sê die godsdiensskrywer Alexandre Faivre. Die feit dat daar “geen klasseverskille” was nie, stem ooreen met Jesus se woorde aan sy volgelinge: “Julle [is] almal broers.”—Matteus 23:8.
Geestelik volwasse manne het natuurlik as opsieners gedien, wat behels het dat hulle herders en onderrigters moes wees (Handelinge 20:28). Maar hierdie manne was nie betaalde geestelikes nie. In die meeste gevalle was hulle gewone werkende mans—eggenote en vaders. Daarbenewens het hulle nie gekwalifiseer om as opsieners te dien omdat hulle aan kweekskole gestudeer het nie, maar omdat hulle ywerige studente van God se Woord was en die geestelike eienskappe aangekweek het wat God vereis. Hierdie eienskappe sluit in om “matig in gewoontes, gesond van verstand, ordelik, gasvry, bekwaam om te onderrig [te wees, asook] redelik, nie strydlustig nie, nie ’n liefhebber van geld nie, ’n man wat aan sy eie huisgesin goeie leiding gee”.—1 Timoteus 3:1-7.
Waarom dit verstandig is om by die Bybel te bly
“Moenie verder gaan as die dinge wat geskrywe staan nie”, sê die Bybel (1 Korintiërs 4:6). Ongelukkig veroorsaak dit gewoonlik geestelike skade wanneer mense hierdie goddelik geïnspireerde riglyn verontagsaam, en dit is ook die geval met die reëling van geestelikes en leke. Hoe so? Kyk asseblief na die volgende ses punte.
1. Die uitsondering van ’n geestelikeklas gee te kenne dat ’n mens ’n spesiale roeping moet hê om ’n bedienaar van God te wees. Die Bybel sê egter dat alle ware Christene God moet dien en sy naam moet loof (Romeine 10:9, 10). Wat die bediening in die gemeente betref, word Christenmans in die algemeen aangemoedig om hierdie voorreg na te streef, en dit is ook die gebruik onder Jehovah se Getuies.—1 Timoteus 3:1.
2. Die onderskeid tussen geestelikes en leke verhef die geestelikeklas, en vleiende godsdienstitels is ’n bewys daarvan. Maar Jesus het gesê: “Wie hom as ’n mindere onder julle almal gedra, dié is groot” (Lukas 9:48). In ooreenstemming met hierdie gees van nederigheid het hy vir sy volgelinge gesê om nie godsdienstitels aan te neem nie.—Matteus 23:8-12.
3. ’n Betaalde geestelikeklas kan ’n swaar finansiële las op die lekedom plaas, veral wanneer eersgenoemde ’n buitensporige lewenstyl het. Daarenteen voorsien Christenopsieners in hulle finansiële behoeftes deur gewone sekulêre werk te doen en stel hulle sodoende ’n goeie voorbeeld vir ander.b—Handelinge 18:1-3; 20:33, 34; 2 Tessalonisense 3:7-10.
4. Omdat ’n geestelike moontlik van ander afhanklik is vir finansiële ondersteuning, kan hy in die versoeking kom om die Bybel se boodskap af te water om sy gemeentelede tevrede te stel. Trouens, die Skrif het voorspel dat dit presies is wat sou gebeur. “Daar sal ’n tyd wees wanneer hulle nie die gesonde leer sal verdra nie, maar ooreenkomstig hulle eie begeertes vir hulle onderrigters sal versamel sodat hulle ore gestreel kan word.”—2 Timoteus 4:3.
5. As gevolg van die onderskeid tussen geestelikes en leke is leke geneig om godsdiens aan die geestelikes oor te laat, terwyl hulle net vir weeklikse kerkdienste opdaag. Maar alle Christene moet van hulle geestelike behoefte bewus wees en goeie studente van die Bybel wees.—Matteus 4:4; 5:3.
6. Wanneer leke nie weet wat die Bybel sê nie, kan hulle maklik deur geestelikes mislei en selfs uitgebuit word. Trouens, die geskiedenis bevat baie voorbeelde van sulke magsmisbruik.c—Handelinge 20:29, 30.
Aangesien Jehovah se Getuies streng bly by die riglyne wat in die Bybel uiteengesit word, het hulle nie ’n geestelikeklas nie, maar onbetaalde geestelike herders en onderrigters wat God se kudde gewillig dien. Besoek gerus ’n Koninkryksaal in jou omgewing en sien self.
[Voetnote]
a Daar is verskeie maniere om jaartalle aan te dui. In hierdie tydskrif staan HJ vir “huidige jaartelling”, en VHJ beteken “voor die huidige jaartelling”. Na aanleiding van die gebruik in die jongste Afrikaanse woordeboeke sal hierdie terme voortaan gebruik word in plaas van G.J. (“Gewone Jaartelling”) en v.G.J. (“voor die Gewone Jaartelling”).
b In die eerste eeu het party reisende opsieners soms wel ‘deur middel van die goeie nuus gelewe’ deur gasvryheid en bydraes te aanvaar wat vrywillig aangebied is.—1 Korintiërs 9:14.
c Voorbeelde sluit die verkoop van aflate in, asook die Katolieke Inkwisisie en selfs die verbranding van Bybels deur geestelikes wat nie wou hê dat God se Woord in die hande van hulle kuddes moet beland nie.—Sien ons medetydskrif, Die Wagtoring, se nommer van 15 November 2002, bladsy 27.
HET JY AL GEWONDER?
◼ Hoe moet al God se knegte mekaar beskou?—Matteus 23:8.
◼ Hoe kwalifiseer Christenmans om as opsieners in die gemeente te dien?—1 Timoteus 3:1-7.
◼ Waarom dra die reëling van geestelikes en leke nie God se seën weg nie?—1 Korintiërs 4:6.
[Lokteks op bladsy 23]
In teenstelling met die geestelikes het Jesus hom as “’n mindere” gedra