“Ek is as ’n ateïs grootgemaak”
PROFESSOR František Vyskočil van die Charles-universiteit, Praag, is wêreldwyd bekend vir sy navorsing in neurofisiologie. Hy was voorheen ’n ateïs, maar glo nou vas in God. Professor Vyskočil verduidelik in ’n onderhoud met Ontwaak! waarom hy van sienswyse verander het.
Hoe het jy godsdiens beskou voordat jy met jou loopbaan in die wetenskap begin het?
Ek is as ’n ateïs grootgemaak, en my pa het die geestelikes dikwels bespot. Toe ek in 1963 my universiteitsopleiding voltooi het, het ek grade in biologie en chemie ontvang. Terwyl ek gestudeer het, het ek geglo dat die evolusieteorie ’n verduideliking bied vir die diversiteit van lewe.
Vertel ons ’n bietjie omtrent jou loopbaan in die wetenskap.
In my nadoktorale navorsing het ek die chemiese en elektriese eienskappe van sinapse bestudeer. Ek het ook ’n studie gemaak van neurone, membraanpompe en oorplantings asook metodes om sensitiwiteit vir geneesmiddels te verminder. Baie van die resultate is al gepubliseer, en party artikels is as naslaanwerke gekies. Ek het later lid geword van die Tsjeggiese Republiek se Vereniging van Geleerdes, ’n groep wetenskaplikes wat deur hulle portuurs gekies word. Ná die “Fluweelrevolusie” van Desember 1989 het ek ’n professor aan die Charles-universiteit geword en is ek toegelaat om na die Weste te reis om vakgenote te ontmoet, van wie party Nobelpryswenners was.
Het jy ooit oor God gewonder?
Ja, in sekere sin. Ek het soms gewonder waarom talle hooggeleerde mense, insluitende party van my professors, in God geglo het—al was dit in die geheim weens die Kommunistiese regime. Maar vir my was God iets wat die mens geskep het. Ek was ook hoogs verontwaardig weens die gruweldade wat in die naam van godsdiens gepleeg is.
Waarom het jy jou beskouing van evolusie verander?
Ek het oor evolusie begin twyfel terwyl ek sinapse bestudeer het. Ek was diep beïndruk deur die verstommende kompleksiteit van hierdie skynbaar eenvoudige verbindings tussen senuselle. ‘Hoe’, het ek gewonder, ‘kan sinapse en die genetiese programme wat dit beheer, die produk van blinde toeval wees?’ Dit het werklik nie sin gemaak nie.
Toe het ek in die vroeë 1970’s ’n lesing deur ’n welbekende Russiese wetenskaplike en professor bygewoon. Hy het gesê dat lewende organismes nie weens toevallige mutasies en natuurlike seleksie kon ontstaan het nie. Iemand in die gehoor het toe gevra waar die antwoord gevind kan word. Die professor het ’n klein Russiese Bybel uit sy baadjiesak gehaal, dit omhoog gehou en gesê: “Lees die Bybel—veral die skeppingsverhaal in Genesis.”
Later het ek die professor in die voorportaal gevra of hy ernstig is oor die Bybel. Hy het basies gesê: “Eenvoudige bakterieë kan sowat elke 20 minute verdeel en kan uit honderde verskillende proteïene bestaan. En elke proteïen bevat 20 soorte aminosure, wat in kettings van ’n paar honderd aminosure gerangskik kan wees. Die tyd wat nodig sou wees vir bakterieë om deur middel van opeenvolgende gunstige mutasies te evolueer, sou baie, baie langer wees as die drie- of viermiljard jaar wat wetenskaplikes meen lewe al op aarde bestaan.” Die Bybelboek Genesis het volgens hom baie meer sin gemaak.
Watter uitwerking het die professor se kommentare op jou gehad?
Sy opmerkings, tesame met my eie knaende twyfelgedagtes, het my beweeg om die onderwerp met verskeie godsdienstige kollegas en vriende te bespreek, maar hulle beskouings was onoortuigend. Toe het ek met ’n farmakoloog gepraat wat een van Jehovah se Getuies is. Hy het die Bybel oor ’n tydperk van drie jaar aan my en my vrou, Ema, verduidelik. Twee dinge het ons verbaas. Eerstens, die godsdiens van tradisionele “Christene” het in werklikheid min in gemeen met die Bybel. Tweedens, hoewel die Bybel nie ’n wetenskaphandboek is nie, strook dit eintlik met bewese wetenskap.
Het jou nuwe beskouing jou wetenskaplike navorsing belemmer?
Glad nie. Elke goeie wetenskaplike moet, ongeag sy oortuigings, so objektief moontlik wees. Maar my geloof het my verander. Om maar een ding te noem, ek is nie meer selfvoldaan, uiters mededingend en uitermate trots op my wetenskaplike vermoëns nie, maar is nou eerder dankbaar teenoor God vir enige vermoëns wat ek het. Pleks van die verstommende ontwerp in die natuur ten onregte aan blinde toeval toe te skryf, vra ek en baie ander wetenskaplikes ons af: ‘Hoe het God dit ontwerp?’
[Lokteks op bladsy 9]
Ek en baie ander wetenskaplikes vra ons af: ‘Hoe het God dit ontwerp?’