Kookkos op wiele in Moembaai
ELKE dag vertrek jy vroeg werk toe, dalk al vyfuur die oggend. Teen etenstyd sal jy graag ’n tuisgemaakte ete wil geniet wat gegeur is net soos jy daarvan hou. Vir duisende wat in Moembaai, Indië, werk, is dit ’n werklikheid, danksy die dabbawalas, wat tuisgemaakte etes in Indië aflewer.a
’n Geleentheid word raakgesien
Teen die einde van die 19de eeu was Moembaai, destyds Bombaai, ’n groeiende handelsentrum met Britse sowel as Indiese sakemanne wat ver na hulle kantore moes reis. Vervoer was stadig, en restaurante was maar skaars. Baie mense het ’n tuisgemaakte middagete verkies, en daarom is knegte gebruik om gekookte etes van hulle werkgewer se huis na sy kantoor te neem. ’n Versiende entrepreneur het ’n sakegeleentheid raakgesien en toe werklose jongmense uit dorpies in diens geneem en ’n gereelde afleweringsdiens tussen huis en kantoor op die been gebring. Dit was die klein begin van ’n florerende onderneming.
Mense geniet vandag nog steeds tuisgemaakte etes. Daar is nou wel meer restaurante, maar tuisgemaakte kos bly goedkoop en gewild. Wat meer is, baie mense het gesondheidsprobleme en moet ’n spesiale dieet volg. Ander moet by godsdiensvoorskrifte bly. En party mense eet byvoorbeeld nie uie nie, terwyl ander nie van knoffel hou nie. Baie van hierdie items word by restaurantkos gevoeg, en daarom is die huis-na-kantoor-afleweringsdiens ’n ideale oplossing.
’n Uiters betroubare diens
Die betreklik eenvoudige afleweringstelsel het oor die jare min verander, behalwe dat dit baie uitgebrei het. Deesdae is daar meer as 5 000 mans, sowel as ’n paar vroue, wat elke dag meer as 200 000 middagetes vervoer van huise in die gebied waar hulle woon, na kantore oral in hierdie stedelike gebied wat meer as 20 miljoen inwoners het. Dabbawalas dek ’n gebied met ’n radius van sowat 60 kilometer. Party loop met stootkarretjies, waarin hulle moontlik 30 tot 40 houers vervoer, terwyl ander fietse of treine gebruik. Hoe dit ook al sy, hulle lewer die regte kos af by die regte persoon op die regte tyd. Trouens, hulle lewer glo net 1 uit elke 6 miljoen etes verkeerd af! Hoe handhaaf hulle so ’n uitsonderlike rekord?
Die dabbawalas is in 1956 as ’n liefdadigheidstrust geregistreer, met ’n uitvoerende komitee en ander beamptes. Groepe werkers, tesame met ’n toesighouer, funksioneer as afsonderlike eenhede. Maar almal is vennote en aandeelhouers in die organisasie—en dít, sê hulle, is waarom die diens so suksesvol is. Trouens, hulle het nog nooit ’n staking gehad sedert die diens meer as 100 jaar gelede begin het nie.
Dabbawalas dra ’n identiteitskaart en word maklik uitgeken aan hulle kenmerkende wit hemp, lospassende broek en wit hoedjie. As hulle nie die hoedjie dra nie, sonder goeie rede laat of afwesig is of tydens werksure drink, kan hulle beboet word.
Die daaglikse roetine
Teen 08:30 het iemand by die kliënt se huis, dalk sy vrou, reeds ’n ete voorberei en in ’n kosblik, oftewel ’n dabba, gepak. Dabbas bestaan uit ’n hele paar dele wat bo-op mekaar pas en deur metaalknippe bymekaargehou word. Die dabbawala laai ’n hele paar houers in ’n gebied op, sit dit op sy fiets of stootkarretjie en neem dit vinnig na die treinstasie, waar hy ander in sy groep ontmoet. Daar sorteer hulle die houers volgens bestemming, soos posmanne pos sorteer.
Elke houer het ’n kode wat uit letters, syfers en kleure bestaan en aandui uit watter buurt die kos kom, wat die naaste treinstasie is, wat die stasie van bestemming is, wat die naam van die gebou is sowel as op watter vloer dit afgelewer moet word. Houers wat na dieselfde gebied moet gaan, word saam op lang houtrame gesit waarop tot 48 houers kan pas. Wanneer die trein kom, word die houers in ’n spesiale kompartement langs die treindrywer se kajuit gelaai. Dan, wanneer die trein by ’n groot stasie stop, word die houers weer eens gesorteer sodat dit die stasie van bestemming kan bereik. Dan word dit nog ’n keer gesorteer, waarna dit uiteindelik per fiets of stootkarretjie by die kliënt afgelewer word.
Hierdie vervoermiddels is nie net doeltreffend nie, maar ook goedkoop. Wat meer is, die dabbawala beland nie in verkeersknope nie, want hy kan systrate gebruik of tussen rye motors deurvleg. Gevolglik word die kos teen 12:30 by die regte kantoor afgelewer. Dan, nadat die hardwerkende dabbawala sy eie middagete geëet het, laai hy die leë houers tussen 13:15 en 14:00 op sodat dit na die eienaar se huis teruggeneem kan word, waar ’n gesinslid dit was en vir die volgende dag gereed kry. Die hele proses is van die begin tot die einde vinnig en doeltreffend, soos ’n afloswedloop!
’n Nederige diens wat hoog aangeskryf word
Die uitstekende rekord van die dabbawalas het nie ongemerk gebly nie. Ander organisasies het die afleweringstelsel ontleed om die beginsels wat hulle by die dabbawalas geleer het, op ander sakegebiede toe te pas. Dokumentêre films is al oor die dabbawalas gemaak. Die Forbes Global Magazine het hulle ’n Six Sigma-sertifisering toegeken weens hulle byna foutlose rekord. Hulle is al gemeld in The Guinness Book of World Records asook in gevallestudies by die Harvard-sakeskool in die Verenigde State. Die dabbawalas is selfs al besoek deur hooggeplaastes, insluitende ’n lid van die Britse koninklike familie wat so beïndruk was met hulle werk dat hy party na sy troue in Engeland genooi het.
Vandag gebruik dabbawalas rekenaars en selfone vir bestellings en boekhouding. Maar hulle afleweringsmetode bly dieselfde. Wanneer dit amper tyd is vir middagete, weet talle honger kantoorwerkers in Moembaai dat ’n warm tuisgemaakte ete kort voor lank by hulle lessenaar afgelewer sal word—en presies op tyd!
[Voetnoot]
a Dabba beteken “houer”; wala verwys na die persoon wat die diens verrig. Dit word op verskillende maniere gespel.
[Prent op bladsy 11]
“Dabbas” word op ’n trein gelaai sodat dit afgelewer kan word
[Prent op bladsy 11]
’n “Dabba” bestaan uit afsonderlike dele wat bo-op mekaar pas sodat dit maklik gedra en vervoer kan word
[Prent op bladsy 12]
Baie ondernemings het by die “dabbawalas” se doeltreffende afleweringstelsel geleer