Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g 8/11 bl. 4-6
  • Hoe word ’n liedjie ’n treffer?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hoe word ’n liedjie ’n treffer?
  • Ontwaak!—2011
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die lirieke
  • In die ateljee
  • Bemarking
  • Hoe kan ek musiek op sy plek hou?
    Vrae wat jongmense vra—Antwoorde wat werk, Deel 2
  • Hoe kan ek musiek op sy plek hou?
    Ontwaak!—1993
  • Pas op vir musiek wat verderf!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
  • Sal jy wyse keuses maak?
    Ontwaak!—2011
Sien nog
Ontwaak!—2011
g 8/11 bl. 4-6

Hoe word ’n liedjie ’n treffer?

DIE musiekbedryf beweeg teen ’n vinnige pas, is wispelturig en uiters mededingend. Musieksmaak verander, treffers verloor hulle gewildheid en bestaande smaak en tegnologie word deur nuwe smaak en tegnologie vervang. Promotors “is altyd op soek na die beste nuwe klanke”, sê Kelli S. Burns, ’n deskundige op die gebied van sosiale media. Maar dit is nie maklik om daardie “klanke” in ’n treffer te verander nie. “Baie kinders droom daarvan om musieksterre te word, . . . maar daar is dikwels ’n lang, moeilike pad tussen die droom en die musiekkontrak”, sê ’n handboek oor die bedryf.—Sien die venster “Veranderinge in die musiekbedryf”, op bladsy 6. 

Die lirieke

Liedjieskrywers (1) probeer lirieke skryf wat mense se emosies raak—wat weerklank vind in hulle drome en diepste gevoelens. Wat is die gewildste tema? Jy het reg geraai—liefde. Liedjieskrywers probeer ook om aansteeklike liedjies te skryf—liedjies met ’n treffende musikale frase wat die luisteraar se aandag trek en in sy kop vassteek.

Hierna maak die liedjieskrywer gewoonlik ’n proefopname, of demo, van die liedjie. As die bestuur van die platemaatskappy dink dat die liedjie sal verkoop, sal hulle moontlik vir die kunstenaar ’n musiekkontrak (2) aanbied. Maar as hulle bedenkinge het oor die sanger (dalk is hy of sy onbekend), sal hulle moontlik die liedjie koop sodat ’n bekende kunstenaar dit kan sing.

In die ateljee

Platemaatskappye stel gewoonlik ’n ervare produksieleier aan om oor die opneemproses (3) toesig te hou. Hy besluit oor die lied en die styl. Hy huur en hou toesig oor die ateljee, musiekbewerkers, kopieerders, musikante, agtergrondsangers, opname-ingenieurs en die toerusting wat nodig is om ’n professionele en bemarkbare produk te vervaardig.

Die meeste opnames word stap vir stap saamgestel—die tromme, kitaar, baskitaar en klawerbord word dikwels eerste opgeneem. Later word die hoofsangers, ander stemme, instrumentele solo’s en enige spesiale klankeffekte bygevoeg en vermeng om ’n digitale meesteropname (4) te maak.

Bemarking

Platemaatskappye maak dikwels musiekvideo’s (5) om hulle produkte te bemark. Hierdie films van drie tot vyf minute kan die opwinding van ’n lewende optrede weergee en publisiteit aan die kunstenaars verleen. Dit kan ook self ’n redelike bedraggie inbring.

Kunstenaars verkoop altyd meer albums in plekke waar hulle lewende optredes (6) doen. Hulle bemark dus dikwels ’n nuwe album deur te toer en konserte te hou. Die meeste kunstenaars skep ook ’n persoonlike webwerf (7) met uittreksels uit liedjies, foto’s, video’s, ’n persoonlike blog en nuus oor komende konserte sowel as skakels na bewonderaarsklubs en, nog belangriker, na aanlyn musiekwinkels.

Wie bepaal of ’n liedjie ’n treffer sal wees? Op die ou end is dit jy—die luisteraar. Op grond waarvan kies jy dus jou musiek? Is dit net die klank of die kunstenaar, of word jou keuses ook deur jou waardes beïnvloed? Hierdie vrae is belangrik, want musiek is kragtig en kan ’n diepgaande uitwerking op ons hê. Dié feit laat ’n mens dink aan belangrike raad wat ons Skepper ons gee: “Bewaak jou hart meer as enigiets anders wat bewaar moet word, want daaruit is die oorspronge van die lewe.”—Spreuke 4:23.

Hoe kan jy hierdie wyse raad toepas wanneer dit by musiek kom? En hoe kan jy, as jy ’n ouer is, jou verantwoordelikheid nakom om jou kinders teen geestelike, verstandelike en emosionele skade te beskerm?

[Venster op bladsy 6]

Veranderinge in die musiekbedryf

Die Internet en die beskikbaarheid van goedkoop harde- en sagteware waarmee opnames gemaak kan word, dra by tot ’n omwenteling in die musiekbedryf. Deesdae kan musikante musiek van professionele gehalte by die huis opneem en dit wêreldwyd versprei. Volgens ’n verslag in die tydskrif The Economist “het etlike bekende kunstenaars glad nie van platemaatskappye gebruik gemaak nie”.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel