Ons beskou die wêreld
Van die 5 296 sogenaamde groen produkte wat in Kanada en die Verenigde State ondersoek is, was 95 persent se “bewering dat hulle omgewingsvriendelik is, ongegrond”.—TIME, VSA.
Die sekuriteitspersoneel by Bangkok se internasionale lughawe “het snuf in die neus gekry” toe hulle ’n vroulike passasier se bagasie deur ’n X-straalmasjien gestuur het. Toe die beamptes een sak oopgemaak het om dit te ondersoek, het hulle ’n lewendige, verdoofde tierwelpie daarin gevind.—WÊRELD-NATUURFONDS, THAILAND.
Biodiversiteit in Amasonië
Die Amasonebekken is een van die gebiede in die wêreld met die grootste bekende biodiversiteit. Oor die afgelope dekade is meer as 1 200 plant- en dierspesies—vis, amfibieë, reptiele, voëls en soogdiere—daar ontdek en geklassifiseer, sê ’n verslag van die Wêreld-natuurfonds (WWF). Dit beteken dat daar gemiddeld elke drie dae ’n nuwe spesie in Amasonië ontdek word. “Die aantal nuwe spesies wat ontdek word, is eenvoudig verstommend”, sê Sarah Hutchison, die WWF-koördineerder in Brasilië, “en dit sluit nie al die insekgroepe in wat ontdek word nie.”
Stres by die werk
’n Vyfde van die Finse bevolking meen dat konsentrasie- en geheueprobleme hulle werkverrigting beïnvloed. Volgens ’n verslag deur die Finse Instituut vir Beroepsgesondheid kom hierdie probleme al hoe meer voor by persone onder 35-jarige ouderdom, ’n tyd wanneer die brein op sy beste behoort te werk. Van die faktore wat hiervoor geblameer is, is ’n oormaat inligting en voortdurende veranderinge aan rekenaarstelsels. “Baie voel dat hulle met soveel inligting werk dat dit moeilik is om te bepaal wat werklik vir hulle werk noodsaaklik is”, sê professor Kiti Müller. Die Helsinki Times sê: “As die stres lank voortduur, pas die brein daarby aan en sal die stelsel ons dalk nie meer waarsku as die druk te veel word nie—of ten minste nie voordat ons ernstig siek word nie.”
Vuur videospeletjies aggressie aan?
Hoe lank bly ’n persoon aggressief nadat hy gewelddadige videospeletjies gespeel het? Navorsers het manlike en vroulike studente willekeurig gekies om 20 minute lank gewelddadige of niegewelddadige videospeletjies te speel. Daarna is die helfte van die mense in elke groep gevra om aan hulle speletjie te dink. “Die volgende dag”, sê die verslag, “het die deelnemers teen ’n vermeende teenstander gewedywer in ’n mededingende taak waarin die wenner die verloorder kon straf met oorverdowende geluide in sy oorfone.” Die manlike studente vir wie daar gesê is om aan die gewelddadige speletjie te dink, het meer aggressie getoon. “Persone wat gewelddadige speletjies speel, speel gewoonlik langer as 20 min[ute] en is waarskynlik in die gewoonte om oor die speletjie na te dink”, sê die skrywers van die studie, soos berig is in die tydskrif Social Psychological and Personality Science. Daar was geen opmerkenswaardige uitwerking op vroue, wat oor die algemeen nie van gewelddadige videospeletjies hou nie.