Ons beskou die wêreld
“Die aantal huwelike wat in Engeland en Wallis voltrek word, het die laagste vlak bereik sedert daar [in 1862] met rekordhouding begin is.”—KANTOOR VIR NASIONALE STATISTIEK, BRITTANJE.
Meer as die helfte van die bestuurders van klein, privaat maatskappye in die Verenigde State “verwag dat werknemers iets waardevols binne die volgende jaar [van die maatskappy] sal steel”.—DIE REUTERS-NUUSDIENS, VSA.
Minder as ’n jaar nadat die Chinese owerheid ’n “ingrypende veldtog” teen Internetpornografie geloods het, het hulle reeds “meer as 60- 000 pornografiese webwerwe gesluit”, het die Nasionale Kantoor teen Pornografie en Onwettige Publikasies gesê.—CHINA DAILY, CHINA.
“Meer as 215 miljoen mense—of drie persent van die wêreld se bevolking—[woon] nie meer in hulle geboorteland nie.”—VERENIGDE NASIES SE INTERNASIONALE FONDS VIR LANDBOU-ONTWIKKELING, ITALIË.
“Van die 19 studente wat elke dag in Indië selfmoord pleeg, [doen] ses dit omdat hulle bang is dat hulle die eksamen sal druip.”—INDIA TODAY INTERNATIONAL, INDIË.
Bemarkingstrategieë in die dobbelbedryf
In Duitsland verloor iemand wat aan dobbelary verslaaf is, gemiddeld meer as tien keer soveel geld as iemand wat nie daaraan verslaaf is nie. Verslaafde dobbelaars vorm dus die “grondslag van hierdie soort bedryf”, sê die dagblad Süddeutsche Zeitung. Om winste te vergroot, ontwerp die dobbelbedryf hulle speletjies en masjiene om verslawing te bevorder en uit te buit. Hoe vinniger die masjiene word, hoe gouer verloor die speler sy selfbeheersing en raak hy verslaaf. Hierdie bemarkingstrategieë is doeltreffend—56 persent van die geld wat deur middel van dobbelmasjiene gemaak word, kom blykbaar van verslaafdes. In casino’s is die syfer 38 persent; en op die Internet is dit 60 persent.
’n Goeie tyd om ’n regter te sien?
Kan onverwante faktore ’n regter se beslissings beïnvloed? Een studie gee te kenne dat dit wel kan gebeur. ’n Span navorsers het meer as 1 000 beslissings ontleed wat ervare regters in Israel by paroolverhore gelewer het. Die studie het getoon dat gunstige beslissings in die werksessies ná die regters se etenstyd en ander pouses geleidelik afgeneem het van omtrent 65 persent tot byna nul en toe ná die volgende pouse skielik weer na 65 persent teruggekeer het. Die navorsers het tot die slotsom gekom dat beslissings nie altyd slegs op feite en die wet gegrond is nie, maar “beïnvloed kan word deur onverwante faktore wat geen invloed op regsbeslissings behoort te hê nie”.