’n Dobbelende wêreld
DOBBELOUTOMATE word dikwels in Engels one-armed bandits genoem. Maar anders as regte rowers dwing hulle niemand om vir hulle geld te gee nie; mense staan soos beeste tou om deur hulle gemelk te word.
Daar is ongeveer 420-000 sodanige outomate in die Bondsrepubliek Duitsland, wat onvermoeid elke jaar ongeveer R2 550 000 000 uit die Duitsers suig. Vyfmiljoen mense daar bestee elke week ’n uur om geld in die outomate te gooi; 80 000 mense bestee meer as vyf ure per week by die outomate.
Spanje spog nou met 750 000 dobbeloutomate. Dobbelary is in 1977 daar gewettig. Teen 1988 het Spanjaarde reeds R62 500 000 000 per jaar aan alle soorte dobbelary spandeer. Na bewering is 200 000 Spanjaarde kompulsiewe dobbelaars. Die Italianers het in 1989 met ongeveer R30 000-000000—of ongeveer R525 per persoon, kinders inkluis—gedobbel. In een week vroeg in 1990 het Italianers R175 miljoen op sokkerwedstryde verwed.
Dobbelaars in die Verenigde State spandeer meer as R500 000 000 000 per jaar net aan wettige vorme van dobbelary! Die president van ’n ketting casino’s in daardie land het onlangs gespog: “Dobbelary is die bedryf in hierdie land wat die vinnigste groei, so groot soos die [Amerikaanse leër se] jaarlikse begroting.” Hy het Amerikaners se beheptheid met dobbel toegeskryf aan dieselfde “filosofiese dryfkrag” en bereidwilligheid om dinge te waag wat die ontdekkers en grensbewoners in die nasie se verlede aangedryf het. Maar die dobbelaar se droom van kitsrykdom verskil grootliks van die jare van harde werk en inspanning wat ontdekkers en pioniers in hulle waagstukke gesit het.
Sosioloog Vicki Abt het gesê: “Loterye bevorder die idee dat vergoeding nie verband hou met jou inspanning nie.” Sulke denke kan die gehalte van die lewe ernstige skade berokken. Skuld, armoede, geruïneerde werkgewoontes, verbrokkelde gesinne—dit is die treurige gevolge van dobbelary. Vir miljoene, waarvan al hoe meer tieners is, verander dobbelary in ’n onbeteuelde dwanghandeling. Die Bybel is gewis reg wanneer dit sê dat ‘die geldgierigheid ’n wortel van alle euwels is’.—1 Timotheüs 6:10.