Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g 3/12 bl. 21-23
  • Lus vir ’n swam?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Lus vir ’n swam?
  • Ontwaak!—2012
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Hoe sampioene gekweek word
  • Smaaklik en veelsydig
  • Kom ons gaan pluk sampioene!
    Ontwaak!—2005
  • Rooi spatsels op die sneeu—As die lente nie vroeg kom nie
    Ontwaak!—1993
  • Ons beskou die wêreld
    Ontwaak!—1994
  • Ek het Bybelwaarheid in Roemenië geleer
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
Sien nog
Ontwaak!—2012
g 3/12 bl. 21-23

Lus vir ’n swam?

IN EERTYDSE Egipte het die Farao’s sampioene as uitsoekkos beskou. Dit is uitsluitlik deur die koninklike gesin geëet. Die Romeine het sampioene die kos van die gode genoem en dit slegs by spesiale geleenthede bedien. Die eertydse Grieke het sampioenfeeste gehou en geglo dat sampioene hulle krygsmanne krag gegee het om te veg.

Maar vandag is sampioene nie net vir die elite nie. Mense regoor die wêreld geniet dit! Wat van jou? Indien jy van sampioene hou, weet jy wat jy eet? Is sampioene diere, groente of iets anders? Hoe word dit gekweek? Is dit voedsaam? En wat moet jy doen as jy sampioene in die veld sien?

Op soek na die antwoorde het ek en my vrou gery van Sydney, Australië, na Mittagong, ’n pragtige dorp in die suidelike hooglande van Nieu-Suid-Wallis. Waarheen was ons op pad? Noel Arrold se sampioenkwekery.

Hoe sampioene gekweek word

Noel, ’n frisgeboude Australiër, is ’n mikrobioloog en ’n deskundige op die gebied van sampioene. Hy het sampioenkwekery in ’n hele paar lande bestudeer voordat hy na Australië teruggekeer het om dit kommersieel te kweek. “Sampioene is swamme, ’n familie organismes wat muf en skimmel insluit”, verduidelik hy. “Bioloë het voorheen gedink dat swamme plante is, maar nou weet ons dat hulle baie van plante verskil.

“Swamme maak byvoorbeeld nie hulle kos deur middel van fotosintese soos byna alle plante nie. Hulle kan in die donker groei. Hulle skei kragtige ensieme af wat organiese materiaal in basiese voedingstowwe verander, wat dan deur hulle geabsorbeer word. Hierdie unieke verteringsproses onderskei swamme ook van diere. Aangesien swamme nie plante of diere is nie, klassifiseer bioloë hulle nou in hulle eie ryk—die swamkoninkryk.”

“In die natuur stel volwasse sampioene miljoene piepklein spore vry wat met ander sampioenspore meng en ontkiem”, vertel Noel verder. “As die . . . spore in ’n koue, vogtige plek met baie voedsel beland, kan nuwe sampioene daaruit groei. Kommersiële sampioenkwekers probeer hierdie proses onder beheerde toestande namaak om die gehalte van die oes en die opbrengs te verbeter.”

Gedurende ons toer verduidelik Noel dat verskillende sampioensoorte onder verskillende toestande groei. Byvoorbeeld, wit-, of dwergsampioene, die wêreld se gewildste soort, groei die beste in gepasteuriseerde plaaskompos. Ander soorte floreer in sakke plantafval, bottels graan, op houtstompe of op saamgeperste houtsaagsels in die vorm van ’n stomp. Van die duisende sampioenspesies wat bekend is, word slegs sowat 60 kommersieel gekweek.

Noel kweek sy sampioene in ’n ou verlate treintonnel naby Mittagong. “Dis koel, vogtig en ideaal om sampioene in te kweek”, sê hy vir ons. Daar sien ons ’n hele klomp sakke, potte en bottels waarin duisende sampioene van elke vorm en grootte groei. Party laat ons dink aan bloeiende rose; ander lyk soos geriffelde leliekelke of soos blommerangskikkings of plat sambrele. Ons is stomgeslaan deur die kleurvolle toneel!

Smaaklik en veelsydig

“Baie mense hou baie van die voorkoms van eksotiese sampioene, maar weet dalk nie hoe om dit voor te berei nie”, sê Noel. “Tog is dit maklik om te kook. Party mense sny dit op vir roerbraaigeregte, sop of slaai of sit dit heel op die braai. Ek geniet gekrummelde oestersampioene wat in olie gebraai is. En sjiïtakesampioene het ’n ryk vleisgeur en smaak heerlik in omelette.”

Eetbare sampioene is baie voedsaam en is ’n goeie bron van vesel, proteïen, minerale en vitamiene. Sowat 2 000 soorte het ook geneeskragtige eienskappe. Volgens een mediese tydskrif het ekstrakte van sampioene meer as 100 medisinale gebruike, wat die behandeling van kanker, hepatitis, vigs, Alzheimer se siekte en hoë cholesterol insluit.

Dit kan egter baie gevaarlik wees om sampioene in die veld te pluk. Duiwelsbrood (Amanita phalloides) lyk byvoorbeeld baie soos ’n eetbare sampioensoort, maar is dodelik. Volg dus die reël: Moet nooit sampioene eet wat jy in die veld vind, tensy ’n sampioenkenner sê dat dit veilig is nie! Sampioensoorte wat kommersieel gekweek word, is natuurlik eetbaar. Trouens, dit is ’n smaaklike lekkerny wat eens slegs deur koninklikes geëet is!

[Venster op bladsy 22]

SAMPIOENE IN DIE NATUUR

Wilde sampioene groei meestal in koel, vogtige, donker woude, waar hulle dooie bome, plante en dieremis in grondverrykende organiese stof verander. Party vorm simbiotiese verhoudings met bome. Hierdie sampioene absorbeer organiese verbindings in die boomwortels, terwyl die bome voorsien word van voedingstowwe wat deur die sampioene opgeneem is.

[Venster op bladsy 23]

WENKE OOR SAMPIOENE

• Hou vars sampioene in ’n papier- of lapsak in jou yskas. Moet dit nie naby items met ’n sterk geur sit nie, aangesien dit sterk geure kan absorbeer.

• As jy die sampioene rou gaan eet, moet jy dit met ’n klam lap skoonvee of vinnig in water afspoel en saggies met ’n lap afdroog. Moenie sampioene in water laat week nie.

• As jy die sampioene gaan kook, kan jy dit eenvoudig met ’n sagte borsel skoonmaak.

• Moenie sampioene afskil nie—die skille is smaaklik en voedsaam!

[Prent op bladsy 21]

Sampioene word gekweek in hierdie temperatuurbeheerde kweekkamer

[Prent op bladsy 22]

Party sampioene lyk soos pragtige blomme

[Prent op bladsy 23]

Geroosterde sampioene met hoemoes, spinasie, knoffel en gekapte grasuie

[Foto-erkenning op bladsy 21]

Courtesy of the Mushroom Information Center

[Foto-erkennings op bladsy 23]

Bo: Courtesy of the Mushroom Information Center; onder: Courtesy of the Australian Mushroom Growers Association

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel