Kom ons gaan pluk sampioene!
Deur Ontwaak!-medewerker in die Tsjeggiese Republiek
JY HET hulle dalk al baie kere geniet—moontlik op ’n pizza of in ’n slaai, ’n sop of ’n sous. Of dalk het jy al hulle eienaardige vorm bewonder, wat so gewild is onder kunstenaars wat daarin spesialiseer om kinderverhale te illustreer. Maar het jy al ooit gewonder presies wat ’n sampioen is? Wat laat dit groei? Wie pluk sampioene, en hoe? Kom ons kyk.
Dit is gewoonlik maklik om sampioene uit te ken. Hulle het nie blare of blomme nie, en ook nie chlorofil om hulle groen te maak nie. Daarom steek hulle dikwels skerp af teen die groenigheid om hulle. Baie het ’n groot hoed bo-op ’n steel. Maar hulle kom voor in ’n wye verskeidenheid vorme en kleure. Daar is selfs sampioene wat in die donker gloei. Die sampioen is ’n soort swam. Daar is egter baie soorte swamme wat tegnies gesproke nie sampioene is nie, maar wat oor die algemeen so beskou word. Daar is byvoorbeeld swamme wat soos koraal lyk. Ander spesies groei aan bome en lyk soos miniatuurboekrakkies.
Wat is dit?
Wetenskaplikes het die sampioen lank as ’n buitengewone en ietwat raaiselagtige plant beskou. Deesdae klassifiseer die meeste bioloë die sampioen as ’n skimmel van ’n hoër orde. Hulle sê dat sampioene ’n onafhanklike groep organismes is weens hulle ongewone bou, groeiwyse en voeding. Baie sampioene is eetbaar en party het selfs medisinale eienskappe. Ander veroorsaak egter hallusinasies of is giftig. Die sampioen se wetenskaplike naam is Mycota of Mycetes. Die wetenskaplike studie van swamme soos sampioene word dus mikologie genoem.
Die verbasende sampioen
Hoe plant sampioene voort? Dit was lank ’n raaisel vir die wetenskap. Vandag weet ons dat die volwasse sampioen mikroskopiese spore vrystel, wat deur lugstrome versprei word. In die grond verander die spore in ’n digte netwerk van dun drade wat die miselium genoem word. Uit dié netwerk groei die sampioen se vrugliggaam. Dit is die deel wat ons gewoonlik sien en pluk.
Sampioene het allerhande soorte organiese stowwe nodig om aan die lewe te bly. Wilde sampioene groei dus meestal in woude, tuine en grasryke omgewings. Hulle kry voedingstowwe hoofsaaklik van siek of dooie bome, en daarom speel hulle ’n belangrike rol in die skoonmaak van woude. Deur die oorskot van plante, blare en takkies te verteer, help sampioene om natuurlike humus te skep, wat die grond verryk. Party sampioene het ’n simbiotiese verhouding met gesonde bome; die sampioen se miselium absorbeer water en voedingstowwe uit die grond en dra ’n deel daarvan aan die plant oor. Op sy beurt voorsien die plant die sampioen van ander voedingstowwe.
Sampioene het ook vogtigheid en warmte nodig. Dit is waarom hulle ná somerreëns opskiet. Onder gunstige toestande sal sommige spesies oornag tot volwasse grootte groei. Een spesie het maar 10 tot 14 dae nodig om ’n deursnee van ongeveer 50 sentimeter te bereik. Ander spesies lewe besonder lank. Die miselium waaruit die sampioen se vrugliggaam groei, kan eeue lank lewe. En die swamme wat ’n deel van korsmos uitmaak, kan volgens party bronne tot 600 jaar lank lewe.
’n Spesiale kenmerk van sekere sampioen- of verwante spesies—byvoorbeeld truffels—is hulle sterk reuk. Dit is waarom honde hulle van ongeveer ses meter af kan ruik, al groei die hele vrugliggaam onder die grond.a
Wie pluk sampioene?
Deur die eeue heen het mense sampioene op baie plekke gepluk. In party streke van Wes-Europa en Noord-Amerika is dit vandag byna uitsluitlik professionele sampioenplukkers wat sampioene pluk en dit aan handelaars verkoop. In teenstelling hiermee is die pluk van sampioene deur amateurs ’n gewilde tradisie in Sentraal- en Oos-Europa. Dit is nie net plattelanders wat lief is vir sampioene nie. Baie stadsbewoners hou daarvan om hulle naweke in die woude deur te bring en sampioene te pluk. Hulle doen as ontspanning vir liggaam en gees—en ook om hulle spyskaart aan te vul. Hoe gaan mense te werk wanneer hulle sampioene pluk?
Die plukkers begin dikwels vroeg in die oggend, wanneer die sampioene vars is. Hulle loop stadig deur die woud en soek tussen die gras, mos of bome waar die sampioene groei. Hulle dra duursame klere en stewige skoene of stewels en hou ’n reënjas in hulle rugsak in geval van ’n skielike reënbui. Die sampioenplukker respekteer die natuur en probeer die omgewing dus ongeskonde laat en maak selfs so min as moontlik geraas wat die natuurlewe kan versteur.
Kyk! ’n Plukker het so pas ’n sampioen gevind. Hy buk af en bekyk dit sonder om daaraan te raak om vas te stel of dit eetbaar is. Hy pluk net volgroeide sampioene omdat hy slegs dan absoluut seker kan wees van die spesie. Nadat hy heeltemal seker gemaak het van die variëteit, vat hy dit sagkens aan die steel—nooit aan die hoed nie—en wikkel hy dit uit die grond uit. Hy verwyder dadelik grond of ander materiaal wat daaraan vaskleef en sny enige dele weg waaraan wurms gevreet het of wat beskadig is. Wat hy ook al van die sampioen afsny, bedek hy met mos of grond. Dan sit hy die skoon sampioene in sy mandjie. Hy sit hulle nie in plastieksakkies of -houers nie, want as hy dit doen, sal die sampioene begin gis en sal hulle bederf nog voordat hy hulle by die huis kan kry.
Sampioenplukkery kan ook ’n goeie groepbedrywigheid wees. Een Christenbedienaar sê: “Ons gaan eers as ’n groep in die bediening uit, maar wanneer ons klaar is, geniet ons dit om saam gesellig te verkeer. Partykeer kies ons koers na die nabygeleë woud om saam sampioene te pluk. Ons vertel vir mekaar die ondervindinge wat ons in die bediening gehad het terwyl ons na sampioene soek en die uitstappie geniet.”
Hoe om sampioene voor te berei
Sampioene kan op baie maniere in die kookkuns gebruik word. Party is heerlik en kan ’n belangrike deel van ’n maaltyd uitmaak. Baie mense hou byvoorbeeld daarvan om die hoed van die groot portobello te braai asof dit ’n biefstuk is of om gewone sampioene op te sny en dit saam met groente te roerbraai. Sampioene met ’n sterk geur kan gebruik word om ’n wye verskeidenheid disse op te kikker. As sampioene goed genoeg gedroog word, kan dit ook as dieet- of gesondheidskos gebruik word. Party variëteite is goeie bronne van proteïene, vitamiene en minerale.
Sampioene bederf maklik. Daarom is dit noodsaaklik om hulle op die dag waarop hulle gepluk word, te verwerk. Volgens deskundiges kan ’n eetbare sampioen wat nie behoorlik bewaar word nie, baie giftig word. As jy sampioene nie dadelik wil eet nie, kan jy hulle droog of steriliseer. Dan kan jy hulle die hele jaar deur gebruik om jou kos te geur. Jy sal dalk meer inligting in naslaanboeke oor sampioenplukkery vind.
Wees versigtig
As jy nog nooit sampioene gepluk het nie en dit graag wil probeer, is dit baie belangrik dat jy eers noukeurig navorsing doen. Vind uit watter eetbare en giftige sampioene in jou gebied groei. Leer hoe om hulle uit te ken. Jy sal moontlik ook ’n paar deskundiges wil raadpleeg, soos ’n apteker of ’n swamkundige. Moet nooit ’n sampioen pluk net omdat dit mooi is of lekker ruik nie. As jy nie heeltemal seker omtrent ’n sampioen is nie, moet dit nie pluk nie! Een giftige sampioen is genoeg om ’n hele dis oneetbaar of selfs gevaarlik te maak. As jy naar voel of ’n hoofpyn kry nadat jy ’n dis met sampioene geëet het, moet jy onmiddellik ’n dokter raadpleeg.
Jy kan sampioene enige tyd bewonder, of jy hulle nou pluk of nie. Dit sal jou dalk daaraan herinner dat hierdie komplekse, belangrike en verbasende skeppingswerke nie per toeval hier gekom het nie. Net soos die ander wonders van die natuur, lewer hulle bewys van ’n liefdevolle en wyse Skepper.—Genesis 1:11-13; Psalm 104:24.
[Voetnoot]
a Spesiaal opgeleide honde en varke word gebruik om truffels op te spoor. Truffels is baie duur in vergelyking met gewone sampioene.
[Prent op bladsy 26]
Morel
[Prent op bladsy 26]
Sjiïtake
[Prent op bladsy 26]
Portobello
[Prent op bladsy 26]
Cremini