Ons beskou die wêreld
Die stad New York het wetgewing aangeneem wat rook verbied op strande, in parke en in voetgangerruimtes. Wetsoortreders sal ’n boete van $50 (R400) per oortreding opgelê word. Amptenare hoop dat die verbod “selfhandhawend” sal wees.—THE WALL STREET JOURNAL, VSA.
“Die selektiewe aborsie van meisies [babadogtertjies] in Indië, veral in gevalle waar ’n moeder reeds ’n eersgebore dogter het, het sterk toegeneem.” In gesinne wat alreeds ’n eersgebore dogter het, het die aantal meisies wat vir elke 1 000 seuns gebore is, gedaal van 906 in 1990 tot 836 in 2005.—THE LANCET, BRITTANJE.
Die Wêreldgesondheidsorganisasie het radiofrekwensie-elektromagnetiese velde “soos dié wat deur draadlose kommunikasietoestelle uitgestraal word”, as “moontlik kankerverwekkend by mense” geklassifiseer.—DIE INTERNASIONALE AGENTSKAP VIR KANKERNAVORSING, FRANKRYK.
Die Verenigde Nasies het die uitroeiing van runderpes gevier. Dit is “die eerste dieresiekte wat danksy mensepogings uitgeroei is waar dit van nature voorkom . . . en is naas pokke by mense die eerste siekte van enige soort wat uitgeroei is”.—DIE VERENIGDE NASIES SE VOEDSEL- EN LANDBOU-ORGANISASIE, ITALIË.
Gereed vir ’n apokalips?
“’n Regshandboek vir ’n apokaliptiese New York” is die titel van ’n artikel in die New York Times. Dit berig oor die publikasie van ’n amptelike handboek wat regters en regsgeleerdes sal help om netelige regsvrae te hanteer wat weens “nog ’n terreuraanval, grootskaalse radiologiese of chemiese besoedeling of ’n wydverspreide epidemie” kan ontstaan. Die handboek, wat deur die hofstelsel en die balieraad van die deelstaat New York uitgegee is, is ’n spoednaslaanwerk wat uiteensit hoe bestaande wette sake soos kwarantyn, massa-ontruiming, deursoeking sonder ’n lasbrief, die slag van besmette diere en die opskorting van wette reguleer.
Binne-in ou kussings
Skoon kussingslope “steek [moontlik] iets aakligs weg”, sê Art Tucker, die hoof- kliniese wetenskaplike by die St. Barts-hospitaal, Londen. The Times van Londen, wat oor sy navorsing verslag gelewer het, sê dat meer as ’n derde van die gewig van ’n kussing ná twee jaar se gebruik “uitgemaak word deur lewende en dooie stofmyte, stofmytmis, dooie vel en bakterieë”. Kussings is goeie broeineste vir allergene, kieme en myte. ’n Oplossing? “Myte . . . droog uit en gaan dood wanneer hulle aan sonlig blootgestel word”, sê The Times, “wat beteken dat die ou gebruik om beddegoed lug te gee, help om myte onder beheer te hou.” Seep maak myte nie dood nie, maar as kussings teen meer as 60 grade Celsius gewas word, sal dit hulle doodmaak en sal die meeste van hulle uitwas.