Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • yp2 hfst. 21 bl. 174-180
  • Hoe kan ek kritiek hanteer?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hoe kan ek kritiek hanteer?
  • Vrae wat jongmense vra—Antwoorde wat werk, Deel 2
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Maar dit maak seer!
  • Die redes agter die kritiek
  • Bly kalm wanneer jy gekritiseer word
  • Waarom dit die moeite werd is
  • Waarom is niks wat ek doen ooit goed genoeg nie?
    Ontwaak!—1992
  • Hoe kan ek my ouers se kritiek verwerk?
    Ontwaak!—1992
  • Haat jy dit om kritiek te ontvang?
    Ontwaak!—1991
  • Waarom is daar soveel reëls?
    Vrae wat jongmense vra—Antwoorde wat werk, Deel 2
Sien nog
Vrae wat jongmense vra—Antwoorde wat werk, Deel 2
yp2 hfst. 21 bl. 174-180

Hoofstuk 21

Hoe kan ek kritiek hanteer?

“My ma was amper soos ’n speurder—altyd op soek na iets wat ek nie reg gedoen het nie. Nog voor ek klaar was met enigiets wat ek moes doen, het sy dit kom inspekteer, op soek na foute.”—Craig.

“My ouers het altyd vir my oor iets gepreek. Hulle het gesê dit lyk of ek eenvoudig nie my lewe kan organiseer nie. Skool, huis, gemeente—hulle het my nooit uitgelos nie.”—James.

LYK dit vir jou of niks wat jy doen ooit goed genoeg is vir jou ouers nie? Voel dit of alles wat jy doen, onder ’n mikroskoop geplaas word—dat jy altyd dopgehou en gedurig gekritiseer word, maar niemand ooit kan tevrede stel nie?

Watter van die volgende aanmerkings hoor jy die meeste?

□ Jou kamer lyk altyd soos ’n varkhok.

□ Jy kyk te veel TV.

□ Jy gaan slaap te laat.

□ Jy staan nooit vroeg genoeg op nie.

Skryf op die volgende reël die vermaning of kritiek van jou ouers wat jou die meeste irriteer.

․․․․․

Toegegee, opdragte en kritiek kan op ’n mens se senuwees werk. Maar dink aan die alternatief: As jy nooit raad of dissipline ontvang nie, sou jy nie wonder of jou ouers vir jou omgee nie? (Hebreërs 12:8). Ja, dissipline is ’n bewys van jou ouers se liefde. Die Bybel sê dat ’n vader “’n seun in wie hy behae het”, sal teregwys.—Spreuke 3:12.

Jy kan dus dankbaar wees dat jou ouers genoeg vir jou omgee om jou reg te help! Jy is immers jonk en redelik onervare. Vroeër of later sal jy tereggewys móét word. Sonder leiding kan jy maklik oorweldig word deur “die begeertes wat eie is aan die jeug”.—2 Timoteus 2:22.

Maar dit maak seer!

“Geen dissipline lyk weliswaar op die oomblik vreugdevol nie, maar bedroewend” (Hebreërs 12:11). Dis veral waar wanneer jy jonk is. En geen wonder nie! Jou persoonlikheid is nog in sy ontwikkelingstadium. Jy is nog besig om ’n volwassene te word en te ontdek wie jy is. Daarom kan kritiek jou gegrief laat voel—selfs wanneer dit goed deurdink is en op ’n liefdevolle manier oorgedra word.

Dis te verstane waarom jy so sou reageer, want jou beskouing van jouself kan maklik beïnvloed word deur wat ander van jou sê. En veral jou ouers se opinie het ’n groot invloed op jou gevoel van eiewaarde. Wanneer ’n ouer jou dus teregwys of kla oor die manier waarop jy iets doen, kan dit verpletterend wees.

Moet jy dink dat niks wat jy doen ooit goed genoeg is nie of dat jy ’n hopelose mislukking is, net omdat jou ouers jou op ’n paar foute gewys het? Nee. Alle mense skiet ver te kort aan volmaaktheid (Prediker 7:20). En om foute te maak, is deel van die leerproses (Job 6:24). Maar sê nou jou ouers het baie te sê wanneer jy iets verkeerd doen, maar hulle sê niks wanneer jy iets reg doen nie? Dit kan jou seermaak. Maar dit beteken glad nie dat jy ’n algehele mislukking is nie.

Die redes agter die kritiek

Soms lyk dit dalk of ’n ouer oorkrities is, nie omdat jy iets spesifieks verkeerd gedoen het nie, maar bloot omdat hy of sy in ’n slegte bui is. Het jou ma ’n moeilike dag gehad? Is sy siek? Dan is sy dalk meer geneig as gewoonlik om met jou te raas as jou kamer nie eksieperfeksie is nie. Is jou pa kwaad en gefrustreerd oor die gesin se finansies? Dan sal hy dalk praat sonder om te dink, “soos met swaardsteke” (Spreuke 12:18). Toegegee, sulke ongegronde kritiek is irriterend. Maar moenie oor die onregverdigheid tob nie—dit sal jou net meer ontstel—probeer eerder jou ouers se foute oorsien. Onthou: “Ons almal struikel dikwels. As iemand in woord nie struikel nie, is hy ’n volmaakte man.”—Jakobus 3:2.

Omdat ouers onvolmaakte mense is, worstel hulle dalk ook met die gevoel dat hulle onbevoeg is. Om die waarheid te sê, as jy ’n fout maak, kan hulle voel dat hulle misluk het. ’n Ma kritiseer haar dogter dalk wanneer sy swak punte op skool kry. Maar wat die ma dalk dink, is: ‘Ek is bang dat ek ’n mislukking as ’n ma is omdat ek my dogter nie kan help om sukses te behaal nie.’

Bly kalm wanneer jy gekritiseer word

Wat ook al die rede vir die kritiek, die vraag is: Hoe kan jy dit hanteer? Eerstens, wees versigtig om nie woedend te reageer nie. Spreuke 17:27 sê: “Iemand wat sy woorde inhou, besit kennis, en ’n man met onderskeidingsvermoë is kalm van gees.” Hoe kan jy “kalm van gees” bly wanneer jy gekritiseer word? Probeer die volgende:

Luister. In plaas van gou te wees om jou gedrag te regverdig of te sê dat jy onskuldig is, probeer om jou emosies in toom te hou en te luister na wat jou ouers sê. Die dissipel Jakobus het gesê dat Christene “gou [moet] wees om te hoor, stadig om te praat, stadig om toornig te word” (Jakobus 1:19). As jy kwaad word en jou ouers in die rede val, sal hulle dink jy luister nie. Dit sal hulle frustreer en sal beslis tot meer raad lei, nie minder nie.

Fokus. Soms voel jy dalk dat jou ouers die raad nie op ’n baie mooi manier gegee het nie. Moenie tob oor hoe hulle met jou gepraat het nie; fokus eerder op wat hulle gesê het. Vra jou af: ‘Hoeveel van hierdie kritiek weet ek is waar? Het my ouers al voorheen hieroor gekla? Wat sou dit van my verg om te doen wat hulle wil hê?’ Onthou, ongeag hoe dit dalk op die oomblik lyk, jou ouers is besorg oor jou omdat hulle jou liefhet. As hulle jou regtig gehaat het, sou hulle jou glad nie gedissiplineer het nie.—Spreuke 13:24.

Parafraseer. As jy jou ouers se raad op ’n respekvolle manier parafraseer, verseker jy hulle dat jy geluister het na wat hulle gesê het. ’n Ouer sê dalk: “Jou kamer is altyd deurmekaar. As jy dit nie aan die kant maak nie, word jy gehok!” Vir jou lyk jou kamer dalk netjies genoeg. Maar as jy dít vir jou ouer sê, sal dit beslis nie help nie. Probeer dinge deur jou ouers se oë sien. Dit sou beter wees om, sonder sarkasme, iets te sê soos: “Ma is reg. My kamer is deurmekaar. Moet ek dit nou dadelik aan die kant maak of ná ete?” Wanneer jy jou ouers se gevoelens só in ag neem, sal dit die spanning heel moontlik verlig. Jy sal dan natuurlik ook moet doen wat jou ouers vir jou gesê het om te doen.—Efesiërs 6:1.

Wag. Hou enige verskonings vir later, nadat jy gedoen het wat jou ouers gevra het. “Wie sy lippe in toom hou, tree verstandig op”, sê die Bybel (Spreuke 10:19). As jou ouers sien dat jy regtig na hulle geluister het, sal hulle baie meer geneig wees om na jou te luister.

Skryf hier neer aan watter van die vier stappe hierbo jy die hardste moet werk. ․․․․․

Waarom dit die moeite werd is

Sou jy bereid wees om iets onaangenaams te verduur sodat jy ’n hoop goud kan ontdek? Wel, die Bybel sê dat wysheid baie meer werd is as enige skat (Spreuke 3:13, 14). Hoe word ’n mens wys? Spreuke 19:20 sê: “Luister na raad en aanvaar dissipline, sodat jy in jou toekoms wys kan word.” Dis waar dat raad en dissipline nogal onaangenaam kan wees. Maar as jy in enige kritiek wat jy ontvang, die kosbare brokkies wysheid probeer vind en toepas, sal jy ’n skat ontdek wat meer werd is as goud.

Laat ons nou maar eerlik wees: Kritiek is deel van die lewe. Jy ontvang dit nou al van jou ouers en onderwysers. In die toekoms sal jy dit ongetwyfeld van werkgewers en ander kry. As jy leer hoe om kritiek by die huis te hanteer, sal jy ’n progressiewe leerder word, ’n waardevolle werknemer en iemand wat oor die algemeen meer selfvertroue het. Hierdie resultate maak dit beslis die moeite werd om ’n bietjie kritiek te verduur!

IN ONS VOLGENDE HOOFSTUK

Voel jy ingehok deur huisreëls? Leer hoe om tevrede te wees met die vryheid wat jy het—en selfs hoe om groter vryheid te verkry.

SLEUTELTEKSTE

“’n Wyse sal luister en meer onderrigting inneem.”—Spreuke 1:5.

WENK

Om jou te help om teregwysing van jou ouers te aanvaar

● Waardeer enige lof wat jy saam met die kritiek ontvang.

● Vra hulle om dit verder te verduidelik as jy nie verstaan wat die probleem is of wat hulle wil hê jy daaromtrent moet doen nie.

HET JY GEWEET . . . ?

Dis vir party pa’s en ma’s moeilik om hulle kinders met liefde te behandel omdat hulle nie genoeg liefde en begrip van húlle ouers gekry het nie.

AKSIEPLAN!

Die volgende keer as my ouers my kritiseer, sal ek ․․․․․

As ek voel dat my ouers oorkrities is, sal ek ․․․․․

Wat ek graag vir my ouer(s) hiervoor wil vra ․․․․․

WAT DINK JY?

● Waarom is dit dalk vir jou moeilik om kritiek te aanvaar?

● Waarom is jou ouers dalk krities teenoor jou?

● Hoe kan jy die meeste voordeel trek uit enige raad wat jy ontvang?

[Lokteks op bladsy 177]

My hele lewe lank het my ma op my geskreeu en het ek teëgepraat. Maar nou probeer ek om toe te pas wat God se Woord sê. Dit werk. My ma se gesindheid het begin verander. Deur die Bybel se raad toe te pas, verstaan ek my ma nou beter. Ons is nou nader aan mekaar.’’—Marleen

[Prent op bladsy 180]

As jy in enige kritiek wat jy ontvang, die kosbare brokkies wysheid probeer vind, sal jy ’n skat ontdek wat meer werd is as goud

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel