Verloor die woord “Christen” sy betekenis?
WAT beteken dit om ’n Christen te wees? Hoe sou jy antwoord? Verskillende mense in ’n aantal lande is hierdie vraag gevra, en hier is ’n paar van hulle antwoorde:
“Om Jesus na te volg.”
“Om ’n goeie mens te wees en dinge met ander te deel.”
“Om Christus as Here en Verlosser te aanvaar.”
“Om na die mis te gaan, die rosekrans te bid en die Heilige kommunie te ontvang.”
“Ek glo nie dat ’n mens kerk toe hoef te gaan om ’n Christen te wees nie.”
Selfs woordeboeke gee ’n verstommende verskeidenheid definisies. Trouens, een naslaanwerk het tien inskrywings onder die woord “Christen”, wat wissel van “om in Jesus Christus te glo of aan die godsdiens van Jesus Christus te behoort” tot “’n ordentlike of beskaafde persoon”. Dit is nie verbasend dat baie dit moeilik vind om te verduidelik wat dit beteken om ’n Christen te wees nie.
’n Liberale neiging
’n Mens vind vandag onder verklaarde Christene—selfs onder dié wat in dieselfde kerk sit—’n wye verskeidenheid beskouings oor onderwerpe soos die Goddelike inspirasie van die Bybel, die evolusieteorie, die kerk se betrokkenheid by die politiek en die verkondiging van ’n mens se geloof aan ander. Sedelike kwessies, oor sake soos aborsie, homoseksualiteit en paartjies wat saamlewe sonder dat hulle getroud is, word dikwels kwaai geskilpunte. Die onmiskenbare neiging is om al hoe liberaler te word.
Een Protestantse kerktribunaal het byvoorbeeld onlangs gestem om die reg van ’n kerk te handhaaf “om ’n ouderling wat openlik homoseksueel is tot sy bestuursraad te verkies”, berig die tydskrif Christian Century. Sekere teoloë het selfs die beskouing uitgespreek dat geloof in Jesus nie noodsaaklik is vir redding nie. Hulle glo dat Jode, Moslems en ander “moontlik net so ’n goeie kans staan om hemel toe te gaan [as Christene]”, sê ’n berig in The New York Times.
Probeer jou ’n Marxis voorstel wat kapitalisme voorstaan of ’n demokraat wat diktatorskap bevorder of ’n omgewingsgesinde wat ontbossing steun. “Daardie persoon kan nie werklik ’n Marxis of ’n demokraat of ’n omgewingsgesinde wees nie”, sê jy—en jy is reg. Maar wanneer jy kyk na die uiteenlopende beskouings wat verklaarde Christene van vandag het, sien jy opvattings wat hemelsbreed van mekaar verskil en wat dikwels teenstrydig is met wat die Stigter van die Christelike godsdiens, Jesus Christus, geleer het. Wat sê dit van die soort Christelikheid wat hulle beoefen?—1 Korintiërs 1:10.
Die drang om Christelike leringe te verander om by die gees van die tyd aan te pas, het ’n lang geskiedenis, soos ons sal sien. Hoe voel God en Jesus Christus oor sulke veranderinge? Kan die kerke wat leringe voorstaan wat nie hulle oorsprong by Christus het nie hulleself werklik Christelik noem? Hierdie vrae sal in die volgende artikel bespreek word.