Waarom dien jy God?
’n Godvresende koning het eenkeer hierdie raad vir sy seun gegee: “Ken die God van jou vader en dien Hom met ’n volkome hart en met ’n gewillige siel” (1 Kronieke 28:9). Jehovah wil ongetwyfeld hê dat sy knegte hom met ’n dankbare hart vol waardering moet dien.
AS Jehovah se Getuies erken ons geredelik dat ons hart oorgeloop het van dankbaarheid toe die Bybel se beloftes die eerste keer aan ons verduidelik is. Ons het elke dag iets nuuts omtrent God se voornemens geleer. Hoe meer ons van Jehovah geleer het, hoe sterker het ons begeerte geword om hom “met ’n volkome hart en met ’n gewillige siel” te dien.
Baie wat Jehovah se Getuies word, gaan voort om Jehovah hulle hele lewe lank met oneindige vreugde te dien. Party Christene begin egter goed, maar verloor mettertyd die belangrike redes uit die oog wat ons motiveer om God te dien. Het dit met jou gebeur? As dit wel gebeur het, moet jy nie moed verloor nie. Jy kan die vreugde wat jy gehad het, herwin. Hoe?
Tel jou seëninge
Peins eerstens oor die daaglikse seëninge wat jy van God ontvang. Dink aan Jehovah se goeie gawes: sy talryke skeppingswerke—wat almal kan geniet, ongeag wat hulle sosiale of ekonomiese status is—sy natuurlike voorsienings van voedsel en drank, die mate van gesondheid wat jy geniet, jou kennis van Bybelwaarheid en bowenal die gawe van sy Seun. Sy dood het vir jou die weg gebaan om God met ’n skoon gewete te dien (Johannes 3:16; Jakobus 1:17). Hoe meer jy oor God se goedheid peins, hoe groter sal jou waardering vir hom word. Jou hart sal jou dan beweeg om hom te dien uit dankbaarheid vir alles wat hy gedoen het. Jy sal ongetwyfeld weer begin voel soos die psalmis wat geskryf het: “Groot dinge het U gedoen, HERE my God—u wonders en gedagtes vir ons; niemand kan met U vergelyk word nie. . . . Dit [is] te veel om te vertel.”—Psalm 40:6.
Hierdie woorde is deur Dawid opgeteken, ’n man wie se lewe alles behalwe probleemvry was. As ’n jong man was Dawid die meeste van die tyd op die vlug, aangesien die goddelose koning Saul en sy lyfwagte hom wou doodmaak (1 Samuel 23:7, 8, 19-23). Dawid het ook persoonlike swakhede gehad waarteen hy moes stry. Hy het dit erken in die 40ste Psalm: “Onheile sonder getal het my omring; my ongeregtighede het my ingehaal, en ek kan nie sien nie; hulle is meer as die hare van my hoof” (Psalm 40:13). Ja, Dawid het probleme gehad, maar dit het hom nie heeltemal oorweldig nie. Hy het sy gedagtes gerig gehou op die maniere waarop Jehovah hom geseën het, ondanks sy probleme, en hy het gevind dat daardie seëninge sy ellendes ver oortref het.
As jy oorweldig voel deur persoonlike probleme of deur gevoelens van onbevoegdheid, is dit goed om stil te staan en jou seëninge te tel, soos Dawid gedoen het. Waardering vir hierdie seëninge het jou ongetwyfeld beweeg om jou aan Jehovah toe te wy; hierdie gedagtes kan jou ook help om jou vreugde te herwin en jou help om God met ’n hart vol waardering te dien.
Gemeentelike vergaderinge kan help
Behalwe dat ons privaat oor Jehovah se goedheid moet peins, moet ons ook met mede-Christene omgaan. Dit is aanmoedigend om gereeld te vergader met mans, vroue en jongmense wat God liefhet en vasbeslote is om hom te dien. Hulle voorbeeld kan ons aanspoor om Jehovah heelhartig te dien. Ons teenwoordigheid by die Koninkryksaal kan hulle ook aanmoedig.
Wanneer ons ná ’n dag se harde werk by die huis kom of wanneer ons mismoedig is weens die een of ander probleem of swakheid, is dit weliswaar nie maklik om daaraan te dink dat ons ’n vergadering by die Koninkryksaal moet bywoon nie. Op sulke tye moet ons dalk streng met onsself wees, as ’t ware ‘ons liggaam kasty’, sodat ons die opdrag sal gehoorsaam om saam met mede-Christene te vergader.—1 Korintiërs 9:26, 27; Hebreërs 10:23-25.
Moet ons in sulke gevalle tot die slotsom kom dat ons nie werklik lief is vir Jehovah nie? Hoegenaamd nie. Ryp Christene van vroeër tye wie se liefde vir God onbetwisbaar was, moes hulle kragtig inspan om God se wil te doen (Lukas 13:24). Die apostel Paulus was een van hierdie Christene. Hy het sy gevoelens openlik soos volg beskryf: “Ek weet dat daar in my, dit wil sê in my vlees, niks goeds woon nie; want die vermoë om te wil, is by my aanwesig, maar die vermoë om te bewerk wat voortreflik is, is nie. Want die goeie wat ek wil, doen ek nie, maar die slegte wat ek nie wil nie, dit beoefen ek” (Romeine 7:18, 19). En hy het vir die Korintiërs gesê: “As ek dan nou die goeie nuus bekend maak, is dit vir my geen rede om te roem nie, want die dwang is my opgelê. . . . As ek dit gewillig doen, het ek ’n beloning; maar as ek dit teen my sin doen, het ek nogtans ’n bestuurderskap wat aan my toevertrou is.”—1 Korintiërs 9:16, 17.
Soos baie van ons het Paulus sondige neigings gehad wat gebots het met sy begeerte om te doen wat reg is. Maar hy het ’n kragtige stryd teen daardie neigings gevoer, en hy het die meeste van die tyd sukses behaal. Paulus het dit natuurlik nie in sy eie krag gedoen nie. Hy het geskryf: “Vir alles is ek sterk genoeg deur hom wat my krag gee” (Filippense 4:13). Jehovah, die een wat Paulus die krag gegee het, sal jou ook die krag gee om te doen wat reg is as jy sy hulp vra (Filippense 4:6, 7). ‘Stry dus hard vir die geloof’, en Jehovah sal jou seën.—Judas 3.
Jy hoef nie hierdie stryd alleen te voer nie. In die gemeentes van Jehovah se Getuies is daar ryp Christen- ouer manne, wat self in die ‘stryd vir die geloof’ volhard, wat jou met graagte sal help. As jy ’n ouer man om hulp nader, sal hy sy bes doen om ‘vertroostend met jou te praat’ (1 Tessalonisense 5:14). Sy doelwit sal wees om “soos ’n toevlug teen die wind en ’n skuiling teen die stortreën” op te tree.—Jesaja 32:2.
“God is liefde”, en hy wil hê dat sy knegte hom uit liefde moet dien (1 Johannes 4:8). As jy jou liefde vir God opnuut moet aanwakker, moet jy die gepaste stappe neem, soos hierbo uiteengesit is. Jy sal bly wees dat jy dit gedoen het.