Ons lesers vra
Waarom moet ons God se naam gebruik as die uitspraak daarvan onseker is?
Niemand weet vandag presies hoe God se naam in Ou Hebreeus uitgespreek is nie. Dit is egter betekenisvol dat God se persoonlike naam ongeveer 7 000 keer in die teks van die Bybel voorkom. Jesus het God se naam openbaar gemaak toe hy op die aarde was, en hy het sy dissipels geleer om te bid dat hierdie naam geheilig word (Matteus 6:9; Johannes 17:6). Een ding is dus seker—die gebruik van God se naam is van die allergrootste belang vir Christelike geloof. Waarom bestaan daar dan vandag onsekerheid oor die oorspronklike uitspraak van hierdie naam? Daar is twee vername redes.
Eerstens, sowat tweeduisend jaar gelede het daar ’n bygelowige tradisie onder die Jode ontstaan dat dit verkeerd is om God se naam uit te spreek. Wanneer ’n leser by die naam in die teks van die Bybel gekom het, het hy dit met “Here” vervang. Gevolglik het die uitspraak van God se naam ná baie eeue van onbruik vergete geraak.
Tweedens, Ou Hebreeus is sonder vokale geskryf, baie soos afkortings in Afrikaans en ander tale. Wanneer die leser die geskrewe teks gelees het, het hy self die ontbrekende vokaalklanke ingevoeg. Later is ’n stelsel uitgewerk om te voorkom dat die uitspraak van Hebreeuse woorde heeltemal vergeet word. Vokaalpunte is by elke woord in die Hebreeuse Bybel gevoeg. Maar by die goddelike naam is die vokaalpunte vir “Here” bygevoeg om die leser daaraan te herinner om die plaasvervangerwoord uit te spreek, of hoegenaamd geen vokaalpunte is bygevoeg nie.
Wat dan behoue gebly het, is die vier konsonante wat die Tetragrammaton genoem word en wat een woordeboek omskryf as “die vier Hebreeuse letters wat gewoonlik as YHWH of JHVH getranslitereer word en ’n Bybelse eienaam van God vorm”. Dit is maklik om te sien hoe JHVH, met bygevoegde vokaalpunte en vokaalklanke, “Jehovah” word, die bekendste en algemeen aanvaarde vorm in Engels.
Party geleerdes beveel egter die uitspraak “Jahweh” aan. Is dit nader aan die oorspronklike uitspraak? Niemand kan met sekerheid sê nie. Ander geleerdes het weer redes aangevoer waarom hierdie uitspraak nie gebruik moet word nie. Dit is so dat die uitspraak van Bybelname in hedendaagse tale waarskynlik glad nie soos die oorspronklike Hebreeus klink nie, en feitlik niemand maak daarteen beswaar nie. Dit is omdat hierdie name deel van ons taal geword het en maklik herkenbaar is. Dit is ook die geval met die naam Jehovah.
Die eerste-eeuse Christene is ’n volk vir God se naam genoem. Hulle het ander van die naam vertel en hulle aangespoor om dit aan te roep (Handelinge 2:21; 15:14; Romeine 10:13-15). Dit is duidelik dat dit vir God belangrik is dat ons sy naam gebruik ongeag watter taal ons praat, die belangrikheid daarvan besef en in ooreenstemming met die betekenis daarvan lewe.
[Lokteks op bladsy 31]
Dit is betekenisvol dat God se persoonlike naam ongeveer 7 000 keer in die teks van die Bybel voorkom