Hoe ons ’n onbeskryflike tragedie verwerk
SOOS VERTEL DEUR JAMES GIARRANO
Om grootouers te wees, is een van die lewe se groot vreugdes. Ek en my vrou, Vicki, het gretig uitgesien na die geboorte van ons eerste kleinkind. Ons dogter, Theresa, en haar man, Jonathan, het ’n baba vroeg in Oktober 2000 verwag. Ons sou nooit kon dink dat ons binnekort voor ’n onbeskryflike tragedie te staan sou kom nie.
EK EN my vrou het op Saterdag, 23 September, saam met ons seun en sy vrou, met vakansie gegaan. Ons was van plan om ander familielede daar te ontmoet en ’n week langs die kus van Noord-Carolina deur te bring. Theresa en Jonathan het besluit om nie saam met ons vakansie te gaan hou nie omdat sy in haar negende maand van swangerskap was en dit ’n lang rit sou wees—omtrent 11 uur van ons huis in Ohio af.
Ons wou ons vakansie uitstel, maar Theresa het daarop aangedring dat ons gaan. Sy het ons verseker dat ons nie oor haar bekommerd hoef te wees nie. Haar dokter het buitendien vermoed dat haar swangerskap waarskynlik die volle termyn sou duur, en sy sou eers oor ’n paar weke kraam.
Woensdag, 27 September 2000, was ’n pragtige dag, wat my daaraan herinner het waarom ons gesin die afgelope paar jaar gekies het om in hierdie gebied vakansie te hou. Min het ons geweet dat ons lewe voor die einde van die dag drasties sou verander.
“Theresa is weg!”
Daardie aand het my broer my van Ohio af gebel. Hy was baie huiwerig en senuweeagtig. Uiteindelik het hy gesê: “Theresa is weg!” Die polisie was by die saak betrokke omdat die gebeure wat met haar verdwyning verband gehou het, verdag was. Toe Jonathan daardie middag by die huis aankom, was die voordeur nie gesluit nie. Theresa se ontbyt was nog op die tafel, en haar handsak was ook daar. Iets anders was vreemd: Haar skoene—die enigste paar wat haar in haar negende maand van swangerskap gepas het—was nog steeds by die deur.
Jonathan het omstreeks 9:30 vm. huis toe gebel. Theresa het vir hom gesê dat ’n vrou gebel en gesê het dat sy na die motor wil kom kyk wat hulle wou verkoop. Daarna sou Theresa ’n paar inkopies gaan doen. Jonathan het etenstyd huis toe gebel, maar sy was nie daar nie. Gedurende die middag het hy bly bel, maar daar was nog steeds geen antwoord nie. Toe hy om 4:15 nm. by die huis aankom, het hy opgemerk dat die motor nie daar was nie. Hy het die hospitaal gebel omdat hy gedink het dat Theresa dalk in kraam was. Sy was nie daar nie. Hy het ook ’n paar familielede gebel, maar niemand het haar gesien nie. Hy was rasend van bekommernis en het dus die polisie gebel. Die polisie het om en by 6:00 nm. die motor nie ver van hulle huis af nie gevind. Maar Theresa was nog steeds vermis.
In Noord-Carolina was ons verbyster deur die nuus. Ek en my vrou, tesame met ons seun en sy vrou, het ons tasse gepak en terug huis toe gegaan. Dit was ’n lang, emosionele rit. Ons het dwarsdeur die nag gery en die volgende oggend in Ohio aangekom.
’n Deurbraak in die saak
Intussen het Jonathan en ’n paar familielede, intieme vriende asook ander mense saam met die polisie gewerk om deur die nag na Theresa te soek. Die soektog het vyf folterende dae geduur. Eindelik op Maandag, 2 Oktober, is daar ’n deurbraak in die saak gemaak. Teen daardie tyd het die polisie uitgevind waar die telefoonoproep wat Woensdagoggend na Theresa se huis gemaak is, vandaan gekom het. ’n Vrou wat net ’n paar blokke daarvandaan gewoon het, het die oproep van ’n selfoon af gemaak.
Die polisie was agterdogtig nadat hulle die vrou ondervra het. Later daardie aand het die polisie na die vrou se huis teruggekeer. Maar op pad na die voordeur toe het hulle ’n geweerskoot gehoor. Toe hulle by die huis instorm, het hulle die vrou dood aangetref. Sy het haarself geskiet. Tot hulle verbasing het hulle ’n pasgebore babaseuntjie in ’n vertrek op die tweede verdieping gekry. Hy het verbasend genoeg deur dit alles geslaap!
Maar daar was nog steeds geen spoor van Theresa nie. Die polisie het die volgende paar uur die huis deursoek vir enige teken dat sy daar was. Die soektog het vroeg Dinsdagoggend in die motorhuis geëindig. Daar, in ’n vlak graf, het hulle Theresa se liggaam gekry. Die lykskouing het later aan die lig gebring dat sy bewusteloos geslaan en toe in die rug geskiet is. Sy het dadelik gesterf, en toe is haar baba uit haar baarmoeder gehaal. As ek nou terugdink, is dit in ’n mate gerusstellend om te weet dat sy nie gely het nie.
Die pasgebore baba is na die hospitaal toe geneem, waar hulle vasgestel het dat hy blakend gesond is—daar was nie eers ’n skrapie aan hom nie! ’n Verpligte DNS-toets het bevestig dat hy inderdaad ons kleinseun is. Jonathan het hom Oscar Gavin genoem—die naam wat hy en Theresa gekies het. Ná ’n kort rukkie in die hospitaal is ons kleinseun van 3,9 kilogram op Donderdag, 5 Oktober, ontslaan—in sy pa se arms. Ons was verheug om ons kleinseun by ons te hê, maar woorde kan nie beskryf hoe pynlik dit vir ons was dat Theresa nie daar was om hom vas te hou nie.
Hoe die gemeenskap gereageer het
Ek en my gesin was dikwels in trane, oorweldig deur al die ondersteuning wat ons ontvang het—in baie gevalle van mense wat ons nog nooit ontmoet het nie. Gedurende die dae toe Theresa vermis was, het honderde aangebied om met die soektog te help. Baie het geld geskenk. Verskeie plaaslike winkels in die omgewing wat in kantoorbehoeftes voorsien, het duisende strooibiljette gratis gedruk. En vrywilligers het die strooibiljette kilometers ver om Theresa se huis versprei.
Een van ons Christensusters werk vir ’n plaaslike prokureur, en toe sy hom van ons situasie vertel, het hy aangebied om te help. Ons het sy aanbod aanvaar, en dit was ’n geweldige seën. Hy het ons gehelp om die media te hanteer sowel as met sekere regsgeskille wat ontstaan het. Daarbenewens het hy twee privaatspeurders aanbeveel, wat baie gedoen het om met die saak te help. Hulle opregte besorgdheid oor ons het werklik ons hart geraak.
Nadat ons kleinseun teruggekry is, het die ondersteuning toegeneem. Verskeie kruidenierswinkels het kos en huishoudelike benodigdhede vir ons gestuur. Talle mense het vir Oscar klere geskenk sowel as weggooibare doeke, melkformule en speelgoed. Ons het baie meer ontvang as wat Oscar ooit sou gebruik, en daarom het ons dit wat oorgebly het, vir die kraamafdeling van ’n plaaslike hospitaal gegee. Omdat die media oor die gebeure verslag gelewer het, het ons duisende kaartjies en briewe ontvang—nie net van ons gemeenskap nie, maar van regoor die wêreld.
Die geweldige ondersteuning kon veral gesien word by die gedenkdiens wat op Sondag, 8 Oktober, vir Theresa gehou is. Ons het geweet dat baie mense dit graag wou bywoon, maar die reaksie het ons verwagtinge oortref. Ons het reëlings getref om ’n saal by ’n plaaslike hoërskool te gebruik, en dit was stampvol met meer as 1 400 mense. Familielede, vriende, polisiebeamptes, die burgemeester en ander van die gemeenskap was teenwoordig. Lede van die media was ook daar, en plaaslike televisiestasies het die toespraak opgeneem, wat ook regstreeks oor die Internet uitgesaai is. Daarbenewens het honderde mense in die skool se voorportaal of buite in die koue reën onder sambrele gestaan om oor luidsprekers wat met die saal verbind is, na die toespraak te luister. Die toespraak het ’n verreikende getuienis oor ons Bybelse oortuiging gegee.
Daarna het honderde mense geduldig in rye gewag om hulle meegevoel te betoon. Ons het byna drie uur lank gebly en almal wat gekom het, omhels en ons waardering uitgespreek omdat hulle daar was. Ná die diens het ’n plaaslike hotel ’n ete goedgunstig voorsien vir meer as 300 familielede, intieme vriende en ander wat gehelp het om ons kleinseun terug te kry.
Ons kan ons waardering nie genoeg uitspreek vir wat mense—meestal vreemdelinge—gedoen het om ons te help nie. Hierdie ondervinding het ons meer vasbeslote as ooit gemaak om ’n volle aandeel aan die Christelike bediening te hê, omdat daar talle goedhartige mense is wat ons graag met die goeie nuus van God se Koninkryk wil bereik.—Matteus 24:14.
Hoe die gemeente gereageer het
Sedert hierdie beproewing begin het, is ons oorweldig deur die ondersteuning van ons Christenbroers en -susters. Dit het gelyk of daar geen einde was aan die ondersteuning van ons eie gemeente van Jehovah se Getuies sowel as van nabygeleë gemeentes nie.
Selfs voordat ons van Noord-Carolina af by die huis aangekom het, het die ouer manne in ons gemeente reëlings help tref om Theresa op te spoor. Baie van ons broers en susters het verlof geneem om met die soektog te help. Party het vir hulle werkgewers gesê dat hulle bereid was om hulle salaris te verbeur, maar in sommige gevalle het hulle werkgewers hulle betaalde verlof gegee. Gedurende die dae toe Theresa vermis was, het party van ons geestelike broers by Jonathan gebly sodat hy nie alleen sou wees nie. Verskeie broers en susters het sommer net oorgekom en ons huis skoon en netjies gehou. Ander het gehelp om vrywilligers kos te gee en die telefone te antwoord.
Ongeveer ses weke ná Theresa se dood het my vrou en Jonathan voor ’n baie moeilike uitdaging te staan gekom—om deur al Theresa se persoonlike besittings te gaan en dit uit te sorteer. Jonathan het gevoel dat hy nie langer in die huis kon bly wat hy en Theresa gedeel het nie, en daarom het hy besluit om dit te verkoop. Dit was ’n pynlike ondervinding om deur Theresa se besittings te gaan—alles het hulle herinner aan haar en hoeveel hulle haar gemis het. Maar hier het ons broers en susters ons ook bygestaan. Hulle het gehelp om haar goedjies in kartondose te pak en het selfs die nodige herstelwerk aan die huis gedoen sodat dit verkoop kon word.
Bowenal het ons broers en susters ons familie geestelik en emosioneel ondersteun. Hulle het ons gebel en besoek om ons te bemoedig. Baie het hartroerende kaartjies en briewe gestuur. Hierdie liefdevolle ondersteuning het nie net die eerste paar dae en weke geduur nie, maar baie maande.
’n Paar broers en susters het vir ons gesê dat ons hulle moet laat weet wanneer ons ook al iemand nodig het om net te luister, en ons het hulle liefdevolle aanbod aanvaar. Dit is so vertroostend om jou gevoelens met vriende te deel wat jy liefhet en vertrou! Hulle het werklik die woorde van die Bybelspreuk vervul: “’n Ware metgesel het te alle tye lief en is ’n broer wat gebore word vir die tyd wanneer daar benoudheid is.”—Spreuke 17:17, NW; 18:24.
Hoe ons gesin geraak is
Ek moet sê dat dit nie maklik vir my en my gesin was om Theresa se moord te verwerk nie. Dit het werklik ons lewe verander. Daar is tye wanneer ek kwaad is omdat sy nie hier by my is nie. Ek mis haar drukkies en soentjies.
My vrou was baie na aan Theresa. Nie ’n dag het verbygegaan sonder dat hulle ten minste met mekaar gesels het nie. Hulle het ure lank oor Theresa se swangerskap gepraat. Hulle het saam gewerk om die babakamer in te rig.
Vicki beskryf haar gevoelens soos volg: “Daar is soveel dinge wat ek mis. Ek mis dit om saam met haar in die predikingswerk uit te gaan. Ek mis ons inkopies saam. Wat my die seerste maak, is om haar nie saam met haar baba te sien nie—dit breek eenvoudig my hart. Ek weet hoe innig lief sy vir Oscar was, selfs voor sy geboorte. Sy het geweet dat sy ’n seuntjie gaan hê. Nadat ek ’n kombersie vir die baba gemaak en dit vir Theresa gegee het, het sy hierdie kaartjie vir my geskryf:
‘Liewe Ma
Baie dankie vir die pragtige babakombersie. Ek waardeer regtig al die moeite wat Ma gedoen het. Ek wil net weer eens dankie sê vir al Ma se hulp en aanmoediging om my deur van die moeilikste tye in my lewe te help. Ek sal dit altyd onthou en waardeer. Ek het al gehoor hoe mense sê dat ’n mens eers wanneer jy ouer is, besef dat jou ma jou beste vriendin is. Wel, ek sê net elke dag vir Jehovah dankie dat ek dit nie te laat besef het nie. Ek sal altyd lief wees vir Ma.’”
Dit was ook vir ons hartseer om te sien wat ons skoonseun moes deurmaak. Terwyl Oscar in die hospitaal was, het Jonathan voor een van die moeilikste dinge te staan gekom wat hy nog moes doen. Aangesien hy besluit het om tydelik by ons in te trek, moes hy die babakamer wat hy en Theresa ingerig het, na ons huis verskuif. Hy het die skommelperd, die wiegie en die speelgoed ingepak en dit na ons huis toe gebring.
Wat ons gehelp het om dinge te verwerk
Wanneer ’n mens ’n geliefde op so ’n tragiese wyse verloor, ontstaan daar talle verwarrende vrae en emosies. Daar was tye toe ek as ’n Christen- ouer man probeer het om ander te vertroos en te help wat met sulke vrae en gevoelens geworstel het. Maar as jy die een is wat treur, kan emosies helder denke belemmer.
Omdat ek byvoorbeeld bewus was van Theresa se toestand en geweet het dat ons ’n week lank weg sou wees, het ek Jehovah gevra om haar te beskerm. Ek moet erken dat ek aanvanklik, toe sy dood aangetref is, gewonder het waarom my gebede nie verhoor is nie. Ek weet natuurlik dat Jehovah nie waarborg dat hy sy volk as individue wonderdadig sal beskerm nie. Ek het voortdurend vir insig gebid. Ek is vertroos deur die wete dat Jehovah sy volk geestelik beskerm—dit wil sê, hy voorsien wat nodig is sodat ons ’n goeie verhouding met hom kan behou. Daardie soort beskerming is die belangrikste omdat dit ’n uitwerking op ons ewige toekoms kan hê. In daardie sin het Jehovah Theresa beskerm; sy het hom getrou gedien toe sy gesterf het. Ek het my berus in die feit dat haar vooruitsig op ’n toekomstige lewe in sy liefdevolle hande is.
’n Aantal Bybeltekste was veral bemoedigend. Hier is ’n paar wat my die mas help opkom het:
‘Daar gaan ’n opstanding van die regverdiges sowel as die onregverdiges wees’ (Handelinge 24:15). Ek glo al lank aan die Bybelse belofte van ’n opstanding op ’n aardse paradys, maar nou is daardie hoop selfs ’n groter werklikheid vir my. Net om te weet dat ek Theresa weer sal kan vashou, gee my die krag om deur elke dag te kom.
“Jehovah . . . is ’n God, nie van die dooies nie, maar van die lewendes, want vir hom lewe hulle almal” (Lukas 20:37, 38). Dit is baie vertroostend om te weet dat al die dooies wat eendag opgewek gaan word, selfs nou vir Jehovah “lewe”. In sy oë is ons dierbare Theresa dus beslis lewend.
Vicki wil graag ’n paar van die Bybeltekste noem wat haar veral versterk het:
“‘Dit is onmoontlik vir God om te lieg’ (Hebreërs 6:18; Titus 1:2). Omdat Jehovah nie kan lieg nie, weet ek dat hy sy belofte sal nakom om die dooies op te wek.
“‘Moet julle nie hieroor verwonder nie, want die uur kom waarin almal wat in die gedenkgrafte is [Jesus se] stem sal hoor en sal uitkom’ (Johannes 5:28, 29). Die woord ‘gedenkgrafte’ gee te kenne dat Theresa in Jehovah se geheue is totdat hy sy Seun, Jesus Christus, opdrag gee om haar op te wek. Ek weet dat daar geen veiliger plek vir haar is as om in Jehovah se volmaakte geheue te wees nie.
“‘Laat julle versoeke in alles deur gebed en smeking tesame met danksegging by God bekend word; en die vrede van God wat alle denke te bowe gaan, sal julle harte en julle verstandelike vermoëns deur middel van Christus Jesus bewaak’ (Filippense 4:6, 7). Ek bid in die besonder vir Jehovah se gees om my krag te gee. Wanneer ek werklik ontsteld is, vra ek Jehovah: ‘Ek het meer van u gees nodig’, en hy help my om deur nog ’n dag te kom. Soms kan ek nie eers die woorde uitspreek nie, maar hy gee my die krag om voort te gaan.”
Jehovah het ons werklik gehelp om hierdie onbeskryflike tragedie te verwerk. O, ons treur nog steeds oor ons dierbare Theresa. Ons weet dat ons smart nie heeltemal sal weggaan totdat ons haar weer in Jehovah se nuwe wêreld sal kan vashou nie. Intussen is ons meer vasbeslote as ooit om Jehovah getrou te dien. Jonathan is vasbeslote om sy bes te doen om Oscar groot te maak om Jehovah lief te hê en te dien, en ek en Vicki sal hom op elke moontlike manier bystaan. Dit is ons hartsbegeerte om in God se nuwe wêreld te wees om Theresa terug te verwelkom en haar aan die seun voor te stel wat sy nooit in haar arms kon vashou nie.
[Prent op bladsy 19]
Ons dogter, Theresa, luister na haar baba se hartklop
[Prente op bladsy 20, 21]
Ons het geweldige ondersteuning by die gedenkdiens ontvang
[Prent op bladsy 23]
Saam met my vrou, Vicki, by Theresa se troue
[Prent op bladsy 23]
Ons kleinseun, Oscar