Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g90 11/8 bl. 26-27
  • Dwelms vir plesier—Waarom nie?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Dwelms vir plesier—Waarom nie?
  • Ontwaak!—1990
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Skadelike en dodelike gevolge
  • Jou liggaam—’n ‘lewende offer’
  • Dwelms—Wie gebruik dit?
    Ontwaak!—2001
  • Hoe onwettige dwelms jou lewe benvloed
    Ontwaak!—1999
  • Dwelmmisbruik—Daar is ’n oplossing!
    Ontwaak!—2001
  • Eerbied vir die lewe as ’n gawe
    Ware vrede en veiligheid—Hoe kan jy dit vind?
Sien nog
Ontwaak!—1990
g90 11/8 bl. 26-27

Die Bybelse beskouing

Dwelms vir plesier—Waarom nie?

“KOKAÏEN . . . is waarskynlik die onskadelikste van alle onwettige dwelms wat tans op groot skaal gebruik word . . . en is besonder aangenaam.”

Dit is wat dr. Peter Bourne in 1974 gesê het. Vier jaar later, as president Jimmy Carter se staatsgesondheidsadviseur in die Wit Huis, moes dr. Bourne noodgedwonge bedank omdat hy van die onwettige gebruik van dwelms aangekla is. Soos baie ander het hy miskien gedink dat hy die gebruik van dwelms vir plesier kan regverdig.

Vroeër kon enigeen kokaïen byna oral maklik in die hande kry—by kruidenierswinkels, in kroeë en van bodes wat posbestellings aflewer. Gedurende die 1880’s en 1890’s kon dit in die vorm van kokablaarsigarette gerook word. Dit is in verskillende wyn- en koeldrankbrousels gedrink. Selfs die gewilde Engelse fiksiespeurder Sherlock Holmes word uitgebeeld as iemand wat kokaïen “maande lank drie keer per dag” gebruik het.—The Sign of Four deur sir Arthur Conan Doyle.

Kokaïen is hoog aangeslaan vir sy genesende hoedanighede en is begroet as ’n geneesmiddel vir kopseer, asma, hooikoors en tandpyn. Dit het die elikser vir die massa geword. In 1884 het die jong Sigmund Freud byvoorbeeld geskryf: “Ek het hierdie uitwerking van koka, wat honger, slaap en moegheid teëwerk en ’n mens teen verstandelike inspanning staal, ongeveer ’n tiental kere op myself getoets . . . ’n Eerste dosis of selfs herhaalde dosisse koka veroorsaak nie ’n kompulsiewe begeerte om die stimulant verder te gebruik nie.”—Über Coca.

In die verlede is soortgelyke kommentare in verband met dagga gemaak, wat sommige laat glo het dat die gebruik van dwelms onskadelik is. Maar vandag kan jy berge mediese getuienis lees wat die teendeel toon. Die gebruik van dwelms soos dagga, kokaïen, crack (’n variant van kokaïen), heroïen, amfetamine en barbiturate is inderdaad uiters skadelik vir die liggaam.

Skadelike en dodelike gevolge

Navorsers beweer dat daggagebruikers kleiner babas, meer ongelukke en beskadigde longe te wagte kan wees. Kokaïen en sy derivaat crack is al gekoppel met paranoia en ander skisofreniese simptome, kwaai depressie, slaaploosheid, aptytverlies, geslagsimpotensie, intense prikkelbaarheid, stuipe, hartaanvalle, beroertes, velletsels of groot blase, verlies van ledemate en vingers, geboortedefekte, infeksies in die bolugweë, verlies van die reuksin en die dood. “As kokaïengebruik gedurende swangerskap ’n siekte was, sou die uitwerking daarvan op babas as ’n nasionale gesondheidsorgkrisis beskou word”, aldus een wetenskapskrywer.

Sekere soorte dwelmgebruikers loop ook ’n groot gevaar om Vigs op te doen. (Sien bladsy 25.) En talle gesondheidsprobleme is al geassosieer met die misbruik van kunsmatige dwelms, soos amfetamine, barbiturate, kalmeermiddels en eksotiese “ontwerperdwelms”.

Maar ondanks bekende gevare word mense steeds in die versoeking gebring om met dwelms te eksperimenteer. Terloopse gebruikers vind sulke dwelms opwindend. Die gevare is nietemin baie werklik. Dit is soos om ’n olietenkskip op ’n onderwaterrif te laat loop—rampspoed is onvermydelik.

Jou liggaam—’n ‘lewende offer’

Die beginsel wat die apostel Paulus in Romeine 12:1 uiteengesit het, hou direk verband met hierdie saak. Dit sê: “Ek vermaan julle dan, broeders, by die ontferminge van God, dat julle jul liggame stel as ’n lewende, heilige en aan God welgevallige offer—dit is julle redelike godsdiens.” Christene moet offers bring wat baie betekenisvoller is as die diereoffers wat van die eertydse nasie Israel vereis is.

Paulus se gebruik van die Griekse uitdrukking wat met ‘lewende, heilige offer’ (thu·siʹan zoʹsan ha·giʹan) vertaal is, is noemenswaardig. Volgens verskillende Bybelgeleerdes neem hierdie woorde die volgende betekenis aan: Die Israeliet het ’n dooie dier as offer gebring. Dit kon nie weer geoffer word nie. Die Christen daarenteen moet homself offer terwyl al sy vermoëns ‘lewend’ is. (Die Griekse werkwoordvorm wat met “lewende” vertaal word, kan somtyds beteken “om in gesondheid te leef”.) En net soos die Israeliet verbied is om enigiets te offer wat lam of in enige opsig gebreklik was, offer die Christen sy beste vermoëns aan God. En aangesien die Christen se liggaam ’n werktuig vir sy dade word, moet al sy dade en gedagtes asook hulle werktuig—sy liggaam—uitsluitlik aan God toegewy wees. Dit word ’n daad van algehele toewyding. Hy maak geen ander aanspraak op homself nie. Sy lewe, nie rituele nie, is dus die ware offer.

Gevolglik het Paulus eerste-eeuse Christene aangemoedig om, terwyl hulle nog op aarde lewe, hulle vermoëns, hulle gesondheid en watter talente of gawes hulle ook al gehad het in heelhartige diens aan God te gebruik (Kolossense 3:23). Hulle moes Jehovah die heel beste gee wat hulle fisies en verstandelik kon offer. God sou behae skep in sulke offers.

Maar hoe sou God gereageer het as hulle opsetlik gebruike beoefen het wat hulle fisiese of verstandelike vermoë verminder en selfs hulle lewe verkort het? Sou Christene die wet wou oortree en die gevaar loop om hulle waarde in God se bediening te verminder? Onreine gebruike kon hulle diskwalifiseer as bedienaars en selfs hulle uitsetting uit die Christengemeente tot gevolg hê.—Galasiërs 5:19-21.

Vandag is dwelmmisbruik wêreldwyd ’n algemene gebruik. Kan ’n persoon sulke dwelms vir plesier gebruik en steeds sy liggaam offer as “’n lewende, heilige en aan God welgevallige offer”? Nie net mediese navorsing en tallose ondervindinge van verwoestende gevolge nie maar ook Bybelbeginsels gee ’n duidelike antwoord—nee!

[Prent op bladsy 26]

“The Opium Smoker”—by N. C. Wyeth, 1913

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel