Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g92 11/8 bl. 16-19
  • Tarawera—Nieu-Seeland se vulkaniese ramp

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Tarawera—Nieu-Seeland se vulkaniese ramp
  • Ontwaak!—1992
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Maori-dorpslewe
  • Waarskuwing van rampspoed
  • ’n Emosionele besoek
  • Ná die ramp
  • Hoe ek my vurige ambisie oorwin het
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
  • Trappe na die hemel
    Ontwaak!—2000
  • In die skadu van ’n sluimerende reus
    Ontwaak!—2007
  • ’n “Uitgestorwe” voël word weer ontdek
    Ontwaak!—1994
Sien nog
Ontwaak!—1992
g92 11/8 bl. 16-19

Tarawera—Nieu-Seeland se vulkaniese ramp

Deur Ontwaak!-medewerker in Nieu-Seeland

KAN jy jou voorstel hoe dit sou wees om in die vroeë oggendure wakker gemaak te word deur die geluid van ’n berg wat uitmekaar geskeur word? Hoe sou jy voel as jy by die venster uitkyk en omtrent 30 kilometer ver toringhoë vlamme en ’n aanhoudende stroom rooiwarm klippe deur die lug sien trek? En dan voel hoe die grond onder jou bed begin skud? Verskrik, sê jy? Wel, dit is wat op 10 Junie 1886 om 2:00 vm. in Rotorua, wat in die sentrale deel van Nieu-Seeland se Noordeiland geleë is, gebeur het toe die berg Tarawera uitgebars het. Die dorpie Te Wairoa het toe Nieu-Seeland se Pompeii geword wat deur sy eie Vesuvius begrawe is.

Dit was ’n verskriklike ervaring vir diegene wat in die omgewing gewoon en dit oorleef het. Een ooggetuie het gesê: “Ons het ’n gesig gesien wat geeneen wat dit gesien het ooit kan vergeet nie. . . . Die berg het drie kraters gehad, en vuurvlamme het ’n volle [300 m] die lug in geskiet.” ’n Ander, wat buitentoe gegaan het om die skouspel te sien, het gesê: “Die wind het sterker geword, en ons het skaars die huis gehaal of dit het begin om, soos ons gedink het, swaar te reën. Die vensters is stukkend geslaan, en wat ons gedink het reën was, was lawastukkies en klip. . . . Ons het, tussen die aardbewing en die vuur, die dood verwag.”

Die ontploffing van die 19 kilometer lange bergreeks het ’n ketting van nege diep kraters gemaak. Stoom wat met vlieënde as gekombineer was, het soos reën geval. Die dorpies om die meer, saam met hulle Maori-inwoners en ander wat daar gewoon het, moontlik 155 mense, is begrawe, baie van hulle onder modder wat etlike meters diep was!

Omtrent 16 000 vierkante kilometer bos en landbougrond is met modder bedek, en vulkaniese brokkies het selfs op die dek van skepe geval wat 160 kilometer van die kus af was. Die onoortroffe wonder van die wêreld, die Pienk en Wit Terasse, “wonders van natuurlike argitektuur in glansende silika”, is vernietig en saam met hulle die heilige beendere van Maori-voorvaders (Wild New Zealand, deur Reader’s Digest uitgegee). Dít was vir die vreedsame Suidsee-eiland ’n enorme ramp.

Maori-dorpslewe

In die eertydse dorpie Te Wairoa, 14 kilometer van die berg Tarawera af, was die lewe voor die uitbarsting vreedsaam en voorspoedig. Dit was geleë in die bos op die oewer van ’n koue meer, Tarawera, en het nie die termale bedrywigheid gehad van dorpies wat nader aan Rotorua was nie. In die dorpie Ohinemutu was daar selfs op koue dae plekke waar die gras warm was. Maar vir sy tyd was Te Wairoa op ander maniere uniek. Dit was met strate uitgelê. Huise op blokke van 0,2 hektaar is afsonderlik besit en was omhein eerder as almal saam op gemeenskaplike stamgrond.

In Te Wairoa het twee hotelle, wat gerieflik naby die Tarawera-meer geleë was, welkome verligting gebied vir die moeë Europese toeriste van die 1880’s. Daar kon hulle ná die koetsrit en die hobbelrige, verweerde bospaadjies rus. Die volgende dag het hulle in hulle Sondagsklere, soos dit die gewoonte was, die tog na die Pienk en Wit Terrasse aangepak. Teen daardie tyd was die terrasse al beroemd as ’n wonder van die wêreld en is hulle beskryf as “groot wit komme wat van grootte verander . . . nader aan die kruin en vol water van die allerlieflikste blou is, met ’n skitterende, glansende wit kors . . . en die Pienk Terrasse die ene helder pienk, met dieselfde lieflike blou water in die groot vlak komme”. Jong Maori-kindertjies het geplas in die warm mineraalpoele wat oral op die terrasse versprei was, en volwassenes het gebaai om hulle moeë lywe te streel.

Daar was borrelende fonteine aan die onderkant van die terrasse in die modderige groen water van die Rotomahana-meer. Party het soos springfonteine bo die wateroppervlak uitgespuit en was so warm dat die Maori-boorlingkok sy kumeras (inheemse aartappels) of koura (varswaterkrewe) daarin kon kook. Die toeriste het dit geniet om aan hierdie lekkernye te smul tydens pieknieks op die oewer saam met die Maori-gidse, soos Kate en Sophia, wat hulle na die terasse geneem het in bote wat van uitgeholde boomstompe gemaak was.

Waarskuwing van rampspoed

Die uitbarsting van al drie pieke van die berg Tarawera was heeltemal onverwags. Die Maori-name Wahanga, Ruawahia en Tarawera het almal op vuur gedui, maar daar was geen vulkaniese kraters op die berg nie en derhalwe geen aanduiding van gevaar nie. Trouens, die koepel van Tarawera (soos die hele berg bekend geword het) is eeue lank ’n veilige begraafplaas vir Maori-voorvaders geag en was tapu, of heilig. Dit is dus waarskynlik dat die name na die rooierige kleur van die grond verwys het. ’n Paar ongewone, dog onbeduidende dinge het wel plaasgevind, soos toe Sophia tien dae tevore na die inham gestap het waar die bote gelaat is en gevind het dat die bote hoog en droog op die inham se bedding lê. Terwyl sy daar gestaan het, het ’n skielike stroom water, soos ’n golf, die bote opgelig en toe weer op die inham se bedding neergegooi. Agterna beskou, was die enigste regte waarskuwings die buitengewoon frekwente aardbewings en die hoë termale bedrywigheid op die Rotomahana-meer. Hoewel dit ’n mate van besorgdheid veroorsaak het, het dit geen aanduiding gegee van die verwoesting wat sou volg nie.

’n Emosionele besoek

Toeriste wat vandag, honderd jaar later, die terrein van Te Wairoa besoek, wat opgegrawe is en nou die ‘Begrawe dorpie’ genoem word, het aanvanklik min empatie vir die verskrikking van daardie nag.

Dit was ook met ons die geval toe ons die kronkelende paadjies gevolg het wat tussen die oorblyfsels van Maori-whares (huisies) loop, wat sedert die dertigerjare opgegrawe is.a Waaierstertvoëls het om ons kop gedraai terwyl ons voetstappe hulle gunstelinginsekte gesteur het. Dit was moeilik om jou die geweldige krag en verskrikking voor te stel wat neergestort het op die mense wat eenmaal daar gewoon het.

Ons het by die ingang van ’n dofbeligte whare gaan staan en na die vroeëre grondvlak afgeklim. Ons het gedink aan die modderbedekte babaskoentjies en die geroeste 19de-eeuse kinderbedjie wat ons vroeër uitgestal gesien het. Het hulle aan ’n kindjie behoort wat in dié huisie gewoon het? Het sy op die kleivloer gespeel waarop ons nou gestaan het?

By ander uitstallings het ons gefassineerd gekyk na ’n bottel wyn wat in 1949 en drie bottels pekelokkerneute wat in 1963 opgegrawe is, almal nog verseël. Hoe sou honderd jaar oue wyn en okkerneute smaak? het ons gewonder. Dit het ons nie aangetrek nie! Maar dit het ons hartseer gemaak om die uitgestalde ou koerantverslae oor oorlewendes te lees. Mevrou Haszard, die moeder van vier, is lewend opgegrawe deur reddingswerkers, en het toe gevind dat drie van haar kinders, een aan weerskante van haar en een nog in haar arms, versmoor is deur die modder en as wat geval het. Omdat sy self deur die verskriklike gewig van die modder en die huis se dakbalke vasgepen was, was sy magteloos om hulle hulpgeroep te beantwoord.

Ná die ramp

Vandag is dit vir die 50 000 mense van Rotorua van min belang dat hulle in die skaduwee van so ’n gewelddadige berg woon. Dit kwel ook nie die meer as 800 000 toeriste wat elke jaar die talle unieke bedrywighede en plekke in hierdie termale streek besoek nie. Party Nieu-Seelanders lei termale stoom en mineraalwater van diep in die grond af op om hulle binne- en buitenshuise swembaddens te verhit. Maar agter in hulle kop weet hulle dat die superverhitte water wat hulle deur krake in die grond sien opkom en in kokende modder sien vergader eenmaal, baie jare gelede, die bewys was van verborge energie wat ’n berg genaamd Tarawera laat uitbars en die dorpie Te Wairoa begrawe het.

[Voetnoot]

a Whare word “forrie” uitgespreek.

[Prent op bladsy 16, 17]

Die berg Tarawera en sy ses kilometer lange skeur, met die Tarawera-meer in die agtergrond

[Prent op bladsy 18]

’n Tipiese Maori-“whare”, of hut, wat deur vulkaniese as begrawe is

Die binnekant van ’n Maori-“whare” wat opgegrawe is, met die vuurherd en kombuisgerei

Die oorblyfsels van ’n bakoond wat in 1886 vernietig is

[Erkenning]

Above photos: Published with the permission of The Buried Village

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel