Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g92 11/8 bl. 11-15
  • Die Jesuïete—“Alles vir almal”?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die Jesuïete—“Alles vir almal”?
  • Ontwaak!—1992
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Manne met ’n sending
  • Die stryd teen die Protestantisme
  • Jesuïeteaanpasbaarheid
  • ’n Politieke evangelie
  • ’n Ware sosiëteit van Jesus?
  • Die Christendom se sendelinge keer terug na waar alles begin het
    Ontwaak!—1994
  • Doop! Doop! Doop!—Maar waarom?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
  • ’n Godsdiensdilemma in koloniale Brasilië
    Ontwaak!—2002
  • Die Hervormingswaters bars uit
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1987
Sien nog
Ontwaak!—1992
g92 11/8 bl. 11-15

Die Jesuïete—“Alles vir almal”?

Deur Ontwaak!-medewerker in Spanje

DIT was nooit deel van die Jesuïeteorde se oogmerk om bekend te wees vir sy permissiwiteit nie. Die titel van die pouslike bul wat die Sosiëteit van Jesus in 1540 gevestig het, was: “Vir die heerskappy van die Strydende Kerk.”a Destyds het dit gelyk of dié nuwe strydende orde ideaal was om Katolisisme te beskerm in die godsdiensstryde wat gevoer is.

Hoewel Ignatius van Loyola sy volgelinge aangespoor het om “die stryd te voer . . . onder die vaandel van die Kruis”, het hy hulle ook beveel om “alles vir almal” te wees. Die Jesuïete het geglo dat as hulle by laasgenoemde hou hulle beter welslae met eersgenoemde sou kon behaal; buigsaamheid sou die sleutel wees om baie deure te open.

Aanpasbare en geleerde Jesuïete was spoedig in aanvraag as onderrigters en staatsmanne, howelinge en biegvaders. Miskien het hulle verder gegaan as wat Loyola se bedoeling was. Sukses op baie gebiede—veral op politieke gebied—het hulle baie geld en mag besorg, maar dit was ook die begin van onheil.

In 1773 het pous Clemens XIV voor druk van Frankryk, Portugal en Spanje geswig en die Jesuïeteorde “vir ewig” ontbind. Die beweegrede? Om “ware en blywende vrede in die Kerk te bewerkstellig”. Die Jesuïete het ’n las geword weens hulle politieke invloed. Hoewel hierdie pouslike beslissing 41 jaar later nietig verklaar is, het die Jesuïete nooit weer hulle vroeëre prominensie bereik nie.

Vandag is daar omtrent 23 000 Jesuïete wêreldwyd, en hulle is steeds die middelpunt van Katolieke dispuut, hetsy oor die vryheidsteologie, priesters in die politiek of geboortebeperking. Hulle vrysinnigheid het pouslike misnoeë gewek. In 1981 het pous Johannes Paulus II die Jesuïetekiesprosedure omseil sodat hy ’n man van sy keuse as hulle generaal kon aanstel.

Oor die afgelope jare het die pous hom al hoe meer gewend tot die aanhangers van Opus Deib as ’n konserwatiewe verskansing vir sy kerk. Die Jesuïete is egter nie ’n gewone Katolieke-orde nie. Waarom het hulle nog altyd soveel polemiek, selfs onder Katolieke, uitgelok? Het hulle hulle naam—die Sosiëteit van Jesus—gestand gedoen? Wat presies is hulle sending?

Manne met ’n sending

Van die begin af was dit Loyola se bedoeling dat sy groepie die mense van die Heilige Land bekeer. Maar gebeure van die 16de eeu het hulle in ’n ander rigting gestuur. Die Protestantse skeuring het die Roomse Kerk ondermyn, en nuwe seeroetes na die Ooste en die Amerikas het ontstaan. Die Jesuïete het gevolglik ’n tweeledige sending gekies—om “kettery” in die Christendom te beveg en om die voortou te neem in die bekering van die nie-Katolieke wêreld. Die taak wat hulle hulleself opgelê het, was reusagtig en hulle was min; daarom het Loyola besluit dat elke Jesuïet goed opgelei moes wees.

Hy het die vier Jesuïetegeloftes ingestel, ’n reeks geestelike oefeninge vir nuwelinge uitgewerk en die konstitusie, of die Jesuïetegedragskode, opgestel. (Sien venster.) Absolute gehoorsaamheid aan die kerk was hulle leuse. Francis Xavier, een van Loyola se eerste volgelinge, het gesê: “Ek sou nie eens aan die Evangelies geglo het as die Heilige Kerk dit verbied het nie.” Niks moes hulle daarvan weerhou om hulle sending uit te voer nie. “Veg vir die siele waar julle hulle ook al vind, en gebruik enige middele tot julle beskikking”, het Loyola vir sy manne gesê. Wat was die middele tot hulle beskikking?

Die stryd teen die Protestantisme

Onderrig en die biegstoel was die Jesuïete se vernaamste wapens om die groeiende mag van die Protestantisme te bestry. Hulle het amper heel toevallig ontdek dat hulle nuwe kwaliteitskole Katolisisme baie doeltreffender by konings en die adel kon inskerp as enige predikingsveldtog. En in die 16de eeu was dit die adel wat die mag gehad het om die godsdiens van hulle ryk te bepaal.c

Loyola het self gesê dat “die mate waarin die Orde die Roomse saak kan bevorder, meer afhang van die onderrig in ons kolleges as van die predikingswerk”. Die elitêre Jesuïeteskole het baie van die toekomstige Europese heersers onderrig en geïndoktrineer, en wanneer die heersers aan bewind gekom het, was hulle geneig om die Protestante te onderdruk. Hierdie aanvanklike sukses is versterk deur ’n rare benadering tot belydenis. Geskiedskrywer Paul Johnson verduidelik: “In die biegstoel het die Jesuïete en hulle magtige boetelinge ’n regsgeleerde-kliënt-verhouding gehad.” Dit is nie verbasend dat die nuwe benadering groter inslag gevind het nie. Weldra het baie Europese heersers hulle eie Jesuïetebiegvaders gehad, wat daarin uitgeblink het om alles te wees vir al die invloedrykes vir wie hulle van raad bedien het.

Jesuïetebiegvaders was toegeeflik wat sedesake betref het, maar hulle was onverbiddelik wanneer hulle met “ketters” te doen gehad het. ’n Jesuïetebiegvader van die Franse koning Lodewyk XV het aanbeveel dat die koning “fatsoenlikheidshalwe” ’n versteekte trap tussen sy slaapkamer en dié van sy minnares aanbring. Sy oupagrootjie, Lodewyk XIV, is egter deur sy Jesuïetebiegvader oorreed om die Edik van Nantes (’n wet wat Franse Protestante, of Hugenote, ’n mate van godsdiensvryheid gegee het) te herroep. Hierdie stap het ’n golf van terreur teen die Hugenote ontketen, van wie baie in ’n bloedbad gesterf het.

Paul Johnson sê in sy boek A History of Christianity: “Die Jesuïete is veral vereenselwig met die beskouing dat die sedewet op die een of ander manier opsy geskuif kan word wanneer Katolieke belange op die spel was. . . . Die Jesuïete was ’n treffende voorbeeld van ’n hoogs geleerde en sterk gemotiveerde elite wat toegelaat het dat die druk van godsdienskonflik hulle sedelike waardes vertroebel.”

Ten spyte van—of moontlik as gevolg van—hulle teenstrydige standaarde op sedelike gebied het die Jesuïete ’n beslissende rol in die Teenhervorming gespeel. Slegs 41 jaar na hulle stigting het pous Gregorius XIII geskryf: “Daar is tans geen werktuig wat deur God gevorm is wat kragtiger is as julle heilige Orde om ketters uit te roei nie.” Buigsaamheid, tesame met invloed op hooggeplaastes, het welslae behaal in die stryd teen “kettery”. Sou dit ook bekeerlinge wen?

Jesuïeteaanpasbaarheid

In die Ooste het die Jesuïete beoog om, soos dit hulle gewoonte in Europa was, die heersers te bekeer en sodoende dié se onderdane. In die strewe na hierdie doel het hulle Loyola se opdrag om alles vir almal te wees tot die uiterste nagevolg. Roberto de Nobili, ’n Jesuïetesendeling in Indië gedurende die 17de eeu, het gelewe soos ’n Brahman wat tot ’n hoë kaste behoort, sodat hy vir die heersersklas kon preek. Om nie sy mede-Brahmane aanstoot te gee nie, het hy die eucharistie, of die hostie van die Mis, op ’n stok vir die Onaantasbares, dié van die laere kastes, aangebied.

Matteo Ricci het hoofsaaklik weens sy talente as ’n wiskundige en sterrekundige ’n invloedryke lid van die Chinese hof geword. Hy het geswyg oor sy godsdiensopvattings. Sy Jesuïeteopvolger in die Ming-hof, Johann Adam Schall von Bell, het selfs kanongietery begin en Chinese troepe opgelei om die kanonne (wat vernoem is na Katolieke “heiliges”) te bedien. Om bekeerlinge te maak, het die Jesuïete Chinese Katolieke toegelaat om voort te gaan om vooroueraanbidding te beoefen, ’n omstrede besluit wat uiteindelik deur die pous verwerp is. Ondanks sulke toegewings is die heersers, in Indië sowel as in China, nie oorgehaal nie.

In Suid-Amerika het hulle ’n koloniale benadering probeer. In die binneland waar daar geen kolonies was nie, het die Jesuïete selfbesturende nedersettings gestig waar Guarani-Indiane min of meer deur Jesuïetesendelinge geregeer is. In ruil daarvoor is hulle landbou, musiek en godsdiens geleer. Hierdie nedersettings, wat in hulle bloei 100 000 inboorlinge gehuisves het, het uiteindelik tot niet gegaan toe hulle met Portugese en Spaanse handelsbelange gebots het. Hoewel die Jesuïete ’n leër van 30 000 Indiane opgelei het, wat ten minste een vaste veldslag teen die Portugese gevoer het, is die nedersettings in 1766 vernietig en is die Jesuïete verban.

Deur die eeue heen het baie Jesuïete heldhaftige opofferings gemaak om die Katolieke boodskap wyd en syd te verkondig. Party het ’n verskriklike marteldood gesterf vir hulle moeite, veral in Japan waar hulle ’n mate van sukses behaal het voordat die sjogoen hulle werk in die ban gedoen het.d

Hoewel die Jesuïete ywer en ’n opofferende gees gehad het, is hulle pogings om die wêreld te bekeer hoofsaaklik deur hulle eie listige metodes verydel.

’n Politieke evangelie

Ondanks die probleme in die verlede wil dit voorkom of die Jesuïete van die 20ste eeu onwillig is om die politiek aan die politici oor te laat. Een omswaai was nietemin merkbaar. Na eeue van ondersteuning van konserwatiewe, regsgesinde regerings, steun die hedendaagse Jesuïet eerder ’n revolusionêre saak, veral as hy in ’n ontwikkelende land woon. Nicaragua is ’n goeie voorbeeld hiervan.

Toe die Sandinistas in Nicaragua aan bewind gekom het, het hulle staatgemaak op die ondersteuning van Fernando Cardenal en Álvaro Argüello, twee prominente Jesuïetepriesters wat ampte in die regering aanvaar het. Argüello het sy politieke amp verdedig deur te sê dat “as daar enigeen in Nicaragua is wat nie aan die revolusie wil deelneem nie, hy vir seker nie ’n Christen is nie. As jy vandag ’n Christen wil wees, moet jy ook ’n revolusionêr wees.” Dit is te begrype dat so ’n politieke evangelie talle opregtes aanstoot gee.

Reeds in die dertigerjare het Miguel de Unamuno y Jugo, ’n bekende Spaanse filosoof, die Jesuïete se inmenging in die politiek gekritiseer as iets wat strydig is met die leringe van Jesus. Hy het geskryf: “Die Jesuïete . . . kom met hierdie ou storie van Jesus Christus se sosiale koninkryk, en met daardie politieke ideologie wil hulle die politieke, ekonomiese en sosiale probleme oplos. . . . Christus het niks met sosialisme of met private eiendom te doen nie. . . . Hy het gesê dat sy koninkryk nie van hierdie wêreld is nie.”

Wat leerstellings betref, is die hedendaagse Jesuïet ook geneig om revolusionêr te wees. Michael Buckley, ’n prominente Amerikaanse Jesuïet, het die Vatikaanse beslissings oor vroulikepriesters openlik gekritiseer. In El Salvador verdedig Jon Sobrino die vryheidsteologie en die “invloed van Marx op die konsep van teologiese begrip”. In 1989 het die Jesuïete se generaal hom genoodsaak gevoel om ’n brief aan alle Jesuïete te stuur waarin hy hulle beveel het om op te hou om die Vatikaan se beslissings oor voorbehoeding te kritiseer.

Kan daar, met die oog op die Jesuïete se reputasie in die verlede en die hede, waarlik gesê word dat hulle ’n sosiëteit of vereniging van Jesus is?

’n Ware sosiëteit van Jesus?

Jesus het gesê: “Julle is my vriende as julle alles doen wat Ek julle beveel” (Johannes 15:14). ’n Ware vriend en dissipel van Jesus is absolute gehoorsaamheid aan God en aan Christus verskuldig, en aan niemand anders nie (Handelinge 5:29). Gehoorsaamheid aan mense eerder as aan God lei noodwendig tot wangebruike en die politisering van Christus se boodskap.

Die Jesuïete het ongetwyfeld sekere gevegte in hulle stryd teen die Protestantisme gewen. Maar wat het dit gekos? Sukses het eerder van politieke knoeiery as van naasteliefde afgehang. Deur hulle evangelisasie is ’n boodskap versprei wat besoedel is met politieke idees en ambisies. Die Jesuïete het uitgegaan om die wêreld te bekeer, maar het toe ’n deel van die wêreld geword. Is dít wat Jesus wou hê?

Jesus het van sy ware dissipels gesê: “Hulle is nie van die wêreld nie, net soos Ek nie van die wêreld is nie” (Johannes 17:16). Die apostel Paulus het weliswaar ‘alles vir almal’ geword (1 Korinthiërs 9:22). Maar dit het beteken dat hy sy boodskap by sy gehoor aangepas het, nie dat hy Christelike beginsels prysgegee het sodat hy bekeerlinge kon maak of politieke invloed kon uitoefen nie.

Dit was Loyola se voorneme dat Jesuïete vir die wêreld moes toon dat hulle navolgers van Jesus Christus is, maar hierdie beeld is geskend deur die politiek en sluheid. Hulle het “alles vir almal” geword, maar hulle het nie “alles tot verheerliking van God” gedoen nie.—1 Korinthiërs 10:31.

[Voetnote]

a Die Sosiëteit van Jesus is die naam wat die Spaanse stigter, Ignatius van Loyola, aan die orde gegee het. Dit was die Protestante wat die naam “Jesuïete” gevorm het en dit is hoe hulle gewoonlik bekend staan.

b Letterlik van die Latyn vir “God se werk”. Dit is ’n organisasie wat hoofsaaklik uit ’n Katolieke elite bestaan, wat in 1928 in Spanje deur ’n Katolieke priester, José María Escrivá, gestig is.

c Die Vrede van Augsburg het in 1555 die stelreël ingestel wat in Latyn gedefinieer word as cuius regio eius religio (wie se gebied, dié se godsdiens).

d Uit weerwraak vir ’n Spaanse dreigement dat veroweraars die sendelinge se voetspore sou volg, het die Japannese sjogoen Hidejosji ’n aantal Jesuïete en Franciskane tereggestel. ’n Jesuïeteplan om China met die hulp van Filippynse en Japannese vrywilligers te verower, het ongetwyfeld agterdog teen die beweegredes van die Jesuïete in Japan aangeblaas. Die amptelike ban wat in 1614 opgelê is, het spesifiek die vrees gemeld dat dit die Katolieke se doel was om “die regering van die land te verander en die land in besit te neem”.

[Venster/Prent op bladsy 12]

Die voorbereiding van ’n Jesuïet

Die vier geloftes. Daar is drie aanvangsgeloftes: armoede, kuisheid en gehoorsaamheid. Na 12 jaar lê die Jesuïet sy vierde gelofte af waarin hy hom daartoe verbind om “elke instruksie van die Roomse Pous te gehoorsaam”.

Die Geestelike Oefeninge is ’n handleiding wat ’n vier weke lange program van meditasie uiteensit wat bedoel is om lewenslange toewyding aan die Jesuïetesaak by die nuweling te wek.

Gedurende die eerste week moet die deelnemer hom—met al sy sintuie—die folteringe van die hel voorstel. In die tweede week moet hy besluit of hy hom as ’n Jesuïet gaan laat inskryf. Die derde week word gewy aan eksplisiete meditasie oor die lyding en dood van Jesus en die laaste week word opsygesit om Christus se opstanding te “ervaar”.

Stap-vir-stap-aanwysings word gegee. Die nuweling word byvoorbeeld in die eerste week aangesê om “die rook, die swael, die vreeslike stank en die verdorwenheid van die Hel te ruik” en om “te voel hoe daardie vlamme die siel begin brand en verteer”.

Die Konstitusies is ’n Talmoedagtige boek van reëls en regulasies wat deur Ignatius van Loyola saamgestel is. Die Jesuïet word onder andere vertel hoe om sy hande te hou, hoe om na iemand met gesag te kyk en waarom hy nie sy neus op ’n plooi moet trek nie.

Die Konstitusies beklemtoon bowenal die Jesuïet se absolute gehoorsaamheid aan sy meerderes: “Die ondergeskikte is soos ’n lyk in die hande van sy meerdere.”

[Venster/Prent op bladsy 15]

Waarom ’n Jesuïet een van Jehovah se Getuies geword het

Dit was terwyl ek in die armer gemeentes van Bolivia gearbei het dat twyfel by my begin ontstaan het. Dit was aanvanklik nie oor die kerk nie, maar oor sy verteenwoordigers. Ek moes byvoorbeeld elke maand ’n sekere persentasie van die kollektes en die betalings vir die spesiale Misse, huwelike, begrafnisse, ensovoorts aan die plaaslike biskop gee. Aangesien my gemeente arm was, was die biskop se deel nooit juis indrukwekkend nie. Dit het my altyd diep seergemaak wanneer hy die koevert oopgemaak en minagtend gesê het: “Is dit nou die armsalige ou bydraetjie wat jy vir my bring?” Die ‘weduwee se twee geldstukkies’ was klaarblyklik nie vir hom belangrik nie.—Lukas 21:1-4.

Nog ’n faktor wat my ontstel het, was die hiërargie se gewilligheid om plaaslike heidense opvattings en gebruike in verband met die aanbidding van die Cristo de la Vera-Cruz (die Christus van die Ware Kruis), wie se beeld in my parogiekerk was, te aanvaar en toe te laat. Die gebruike was in baie gevalle ’n duidelike blyk van demoniese fanatisme. Daarbenewens het hierdie godsdiensfeeste dikwels met dronkenskap gepaardgegaan, maar geen amptelike beswaar is ooit teen hierdie heidense swelgpartye geopper nie.

Ek was daarvan oortuig dat die Katolieke Kerk deur die eeue heen van Bybelwaarheid afgedwaal het en dit deur menslike tradisies en filosofie vervang het, en dat dit nie net mense, enkele individue, was wat te kort geskiet het nie. Ek het gevolglik besef dat ek nie langer in my hart ’n Katoliek was nie.—Soos vertel deur Julio Iniesta García.e

[Voetnoot]

e Sien Die Wagtoring van 1 Februarie 1983 vir sy volledige verhaal.

[Prente op bladsy 11]

Die stigter van die Jesuïete, Ignatius van Loyola, en sy heiligdom in Spanje

[Prent op bladsy 13]

Omdat die Jesuïete bekend was vir hulle politieke knoeiery is hulle in 1767 uit Spanje verban

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel