Egskeiding—Waar die Ooste die Weste ontmoet
Deur Ontwaak!-medewerker in Japan
“EK WIL ook aftree.” Hierdie woorde het ’n aftredende afdelingsbestuurder van ’n groot Japannese handelsmaatskappy verras. Sy vrou wou as eggenote en huisvrou aftree. Hulle land se egskeidingsyfer is besig om skerp te styg en egskeidings kom, verbasend genoeg, veral onder die middeljariges en ouer mense voor. Die aantal egskeidings onder dié in hulle vyftiger- en sestigerjare het binne 20 jaar verdriedubbel. Dit wil voorkom of die ontbinding van hulle huwelik hulle laaste geleentheid geword het om ’n gelukkiger lewe te vind.
Aan die ander kant van die ouderdomskaal besluit jonger egpare wat mekaar tydens hulle wittebroodsdae ontnugter om ’n Narita rikon (Narita-egskeiding) te hê. Narita is Tokio se internasionale lughawe, en die uitdrukking het betrekking op pasgetroude paartjies wat mekaar en hulle huwelik vaarwel sê wanneer hulle weer op Narita aankom. Trouens, in Japan vra 1 uit 4 of 5 egpare ’n egskeiding aan. Hulle beskou egskeiding as die sleutel tot ’n gelukkiger lewe.
Selfs in Hongkong, waar daar nog aan ou Chinese waardes vasgehou word, het die egskeidingsyfer in die ses jaar tussen 1981 en 1987 meer as verdubbel. In Singapoer het egskeidings onder Moslems sowel as onder mense wat nie Moslems is nie tussen 1980 en 1988 met byna 70 persent toegeneem.
Die sienswyses van vroue in die Ooste is weliswaar lank onderdruk. In die ou dae kon ’n man in Japan byvoorbeeld van sy vrou skei deur slegs “drie en ’n half reëls” te skryf. Hy moes net ’n verklaring van drie en ’n half reëls neerskryf wat die egskeiding bevestig en die stuk papier vir sy vrou gee. Daarenteen moes sy vrou baie moeite doen om ’n egskeiding te verkry, tensy sy haar toevlug geneem het tot ’n tempel wat skuilplek verleen het aan vrouens wat van hulle baasspelerige man weggeloop het. Aangesien getroude vrouens hulleself nie kon onderhou nie, moes hulle ’n liefdelose huwelik en selfs hulle man se buite-egtelike verhoudings verduur.
Baie mans word vandag werkslawe en laat hulle gesin feitlik in die steek. Hulle dink nie dit is verkeerd om vir hulle maatskappy te lewe nie. Aangesien hulle so aan hulle werk toegewy is, verwaarloos hulle hulle vrou se behoefte aan kommunikasie en beskou hulle haar as ’n onbetaalde bediende wat vir hulle kook, huis skoonmaak en wasgoed was.
Maar die instroming van Westerse idees laat Oosterse vroue se beskouing van die huwelik en die huwelikslewe verander. Asia Magazine sê: “Die ‘bevryding’ van vroue is beslis die belangrikste enkele faktor wat tot die stygende egskeidingsyfer in Asië aanleiding gee.” Anthony Yeo, die hoof van Singapoer se Sentrum vir Voorligting en Sorg, het gesê: “Vroue begin meer op hulle regte staan en van hulle waardigheid bewus raak. Hulle is nie meer bereid om agteroor te sit en ’n slegte situasie swygend te verduur nie. Die hedendaagse vrou het meer opsies en is minder verdraagsaam teenoor verwaarlosing en mishandeling. En egskeiding is ’n wesenlike opsie vir diegene wat nie huweliksgeluk kan vind nie, veral aangesien die stigma wat daaraan kleef grotendeels verwyder is en nie is wat dit 25 jaar gelede was nie.”
In Westerse lande het daar ook gedurende die afgelope kwarteeu ’n groot verandering plaasgevind. Samuel H. Preston het van die verandering gepraat as “die aardbewing wat die Amerikaanse gesin gedurende die afgelope 20 jaar ontwrig het”. In 1985 was byna ’n kwart van alle gesinne met kinders onder 18 enkelouergesinne, meestal weens egskeiding. Daar word voorspel dat 60 persent van die kinders wat in 1984 gebore is moontlik voor hulle 18 is deel van ’n enkelouergesin sal uitmaak.
Is egskeiding werklik die sleutel tot ’n gelukkiger lewe aangesien die huwelik as instelling verswak? Om dit te beantwoord, moet ons eers vasstel wat veroorsaak het dat mense egskeiding as die wondermiddel teen gesinsprobleme beskou.
[Venster op bladsy 4]
’n Gevolg van “binnenshuise egskeiding”
AGTER die aantal werklike egskeidings skuil daar “sluimerende” egskeidings. In Japan, waar baie vrouens ekonomies steeds van hulle man afhanklik is en aan die blywende tradisie van manlike oorheersing onderworpe is, woon egpare moontlik teësinnig onder een dak in ’n situasie wat “binnenshuise egskeiding” genoem word. In so ’n geval is die vrouens geneig om al hulle energie aan die grootmaak van hulle kinders te wy. Hierdie ma’s tree dikwels oorbeskermend op en maak dit vir die kinders moeilik om later op hulle eie bene te staan.
Gevolglik ly baie van hierdie ma’s se seuns, wanneer hulle grootword en trou, aan ’n “moenie-aanraak-sindroom”. Hierdie mans raak, selfs ná etlike jare van getroude lewe, nooit liefderyk aan hulle vrou nie. Hulle ondervind wat as die “Ek is lief vir Mammie”-probleem bestempel is en het dikwels getrou omdat hulle ma gesê het hulle moet. Volgens die Asahi Evening News sê dr. Jasoesji Narabajasji, wat in huweliksvoorligting spesialiseer, dat die probleem al ’n dekade lank aan die toeneem is en dat daar tienduisende mans is wat te skaam is om hulp te vra.