Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g93 7/8 bl. 5-7
  • Die huwelik—Waarom talle dit die rug toekeer

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die huwelik—Waarom talle dit die rug toekeer
  • Ontwaak!—1993
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Wat steek daaragter?
  • ’n Sleutel tot ’n gelukkiger lewe?
  • Egskeiding het wel slagoffers
    Ontwaak!—1991
  • Egskeiding—die wrange vrugte
    Ontwaak!—1992
  • Hoe egskeiding kinders raak
    Hulp vir die gesin
  • Die egskeidingsontploffing
    Ontwaak!—1992
Sien nog
Ontwaak!—1993
g93 7/8 bl. 5-7

Die huwelik—Waarom talle dit die rug toekeer

ASIA MAGAZINE het die volgende gesê oor egskeidings in Hongkong, waar Oosterse en Westerse kulture sy aan sy bestaan: “’n Gebrek aan kommunikasie, ontrouheid, seksuele probleme en onaanpasbaarheid is faktore wat gewoonlik vir Chinese sowel as Westerse egpare huwelikskonflik veroorsaak.” Dieselfde geld vir die res van die wêreld.

Mans sowel as vrouens met ’n loopbaangerigte denkwyse offer maklik hulle gesin vir hulle werk op. Sodoende belemmer hulle gesinskommunikasie. Moeg ná ’n dag se werk sit die man met sy neus in die koerant. Joenitsji en sy vrou het drie restaurante bestuur en het van agtuur soggens tot tienuur saans op verskillende plekke gewerk. “Ons het feitlik nie as man en vrou gekommunikeer nie”, erken Joenitsji. Hierdie gebrek aan kommunikasie het tot ernstige huweliksprobleme gelei.

Nog ’n faktor wat tot die verbreking van huweliksbande aanleiding gee, is mense se beskouing van buite-egtelike geslagsgemeenskap. Buite-egtelike geslagsgemeenskap kom nou so algemeen voor dat 20 persent van die mans en 8 persent van die vrouens wat aan ’n opname in Japan deelgeneem het, erken het dat hulle gedurende die afgelope jaar met iemand buite hulle monogame verhouding geslagsgemeenskap gehad het. Die getroude beroepsvrou in Japan wat verhoudings met ander mans gehad het, is niks ongewoons nie. Sy het van die een man na die ander gefladder en gedink: “As my man uitvind, sal ek net van hom skei.” Die hedendaagse gemeenskap sien hierdie verhoudings deur die vingers.

Hierdie selfde gemeenskap werk ’n ek-eerste-gesindheid in die hand sodat die man sowel as die vrou egotisties word, en dit lei weer tot onaanpasbaarheid wat nog ’n oorsaak van egskeiding is. “Ons kon enige tyd as ’n egpaar uitmekaargaan”, sê Kijoko. “Toe ons eers getroud was, het my man gesê ek moet soos ’n robot wees en net doen wat vir my gesê word. Terwyl alles vir hom vlot verloop het, was dit nie te sleg nie, maar wanneer dinge begin moeilik raak het, wou hy nie sy foute erken nie en het hy ander vir alles blameer. Ek was ook skuldig, aangesien ek altyd teen gesag in opstand gekom het. Dit was vir my baie moeilik om my man te gehoorsaam wanneer hy onregverdig was.”

Ander redes vir egskeiding is geweld en dronkenskap, finansiële probleme, probleme met die skoonfamilie en emosionele mishandeling.

Wat steek daaragter?

Hoe uiteenlopend die redes vir egskeiding ook al is, daar steek meer agter die wêreldwye toename daarvan. Hoewel die Ooste hulle euwels aan die invloed van die Westerse gemeenskap toeskryf, het egskeiding onlangs eers in die Weste iets aanvaarbaars geword. Trouens, egskeidings het maar gedurende die afgelope paar dekades in die Verenigde State verdriedubbel en in Brittanje verviervoudig. Andrew J. Cherlin van Die Stedelike Instituut (’n navorsingsorganisasie wat ondersoek instel na sosiale en ekonomiese probleme in die Verenigde State) erken weliswaar dat die oorsake van die toename in egskeidings nie goed begryp word nie, maar noem “die toenemende ekonomiese onafhanklikheid van vroue” en “die veranderende gesindheid van die gemeenskap oor die algemeen” as faktore wat tot die tendens aanleiding gee.

Vir vroue in die Verenigde State, sowel as dié in ander nywerheidslande, is dit nie meer iets ongewoons om getroud te wees en sekulêre werk te doen nie. Maar die man verrig nie juis meer huishoudelike takies as voorheen nie. Dit is geen wonder nie dat party vrouens mor: “Wat elke werkende vrou die nodigste het, is ’n huisvrou!”

Terwyl vrouens in die Verenigde State hulle afsloof om wasgoed te was, huis skoon te maak, te kook en na die kinders om te sien, “geniet baie mans dit om tyd ‘ledig’ deur te bring”, sê die boek The Changing American Family and Public Policy. Antropoloë sê dit is oor die hele wêreld die geval. In Japan is dit niks ongewoons dat mans ná werk uitgaan en gesellig verkeer nie. Hulle sê dit is noodsaaklik vir goeie menseverhoudings by hulle werk, maar hulle ignoreer goeie menseverhoudings by die huis. Aangesien mans volgens húlle mening die broodwinners is, behoort vrouens en kinders nie te kla nie. Maar aangesien daar nou meer werkende vrouens is, is so ’n denkwyse klaarblyklik net ’n verskoning.

Nog ’n belangrike faktor wat tot die mislukking van huwelike aanleiding gee, is die “veranderende gesindheid van die gemeenskap oor die algemeen” of, soos die Journal of Marriage and the Family dit stel, “die feit dat huwelikspermanensie nie meer deur almal as ’n ideaal beskou word nie”. Vir die bruid en bruidegom van die 1990’s beteken die tradisionele huweliksgelofte van “tot die dood ons skei” nie meer wat dit sê nie. Hulle bly na ’n beter maat soek. Hoe sterk sal pasgetroude paartjies se huweliksband wees as hulle dit só beskou?

Hierdie maatskaplike veranderinge is glad nie vir studente van die Bybel iets verbasends nie. Hierdie geïnspireerde boek toon dat ons sedert 1914 in “die laaste dae” lewe met sy “kritieke tye wat moeilik is om deur te kom”. Mense is “liefhebbers van hulleself, . . . ondankbaar, dislojaal, sonder natuurlike geneentheid, nie bereid tot enige ooreenkoms” nie (2 Timotheüs 3:1-3, NW). Vir mense wat hulleself liewer het as hulle huweliksmaat, wat nie aan hulle maat lojaal bly nie en wat nie tot enige ooreenkoms in hulle huwelik kan kom nie, word egskeiding dus die enigste uitweg uit hulle huweliksprobleme.

’n Sleutel tot ’n gelukkiger lewe?

Egskeiding is in die meeste gevalle nie ’n sleutel tot geluk nie.a “Egskeiding is bedrieglik”, sê die geestesgesondheidsnavorser Judith Wallerstein ná ’n studie van 15 jaar onder 60 geskeide pare. “Wetlik is dit ’n enkele gebeurtenis, maar sielkundig is dit ’n ketting—soms ’n eindelose ketting—van gebeurtenisse, hervestigings en verhoudings wat met verloop van tyd ingrypend verander.” Haar studies toon dat die lewe van ’n kwart van die vroue en ’n vyfde van die mans ’n dekade ná hulle egskeiding nog nie na normaal teruggekeer het nie.

Dit is veral die kinders van geskeide ouers wat kwesbaar is. Judith Wallerstein het uit dieselfde navorsing gevind dat egskeiding ’n “kragtige en heeltemal onverwagte uitwerking” op feitlik al die betrokke kinders gehad het. Party kinders wat ontken dat hulle enige negatiewe gevoelens teenoor hulle ouers se egskeiding het, vind moontlik dat sulke emosies later in hulle lewe skielik te voorskyn kom wanneer hulle ’n huweliksmaat soek.

Dit beteken nie dat alle slagoffers van egskeiding nooit geluk sal vind nie, want party vind wel geluk. Vir hierdie persone kom daar gewoonlik uit die oorblyfsels van die ou persoonlikheid ’n veranderde persoonlikheid te voorskyn. ’n Onskuldige huweliksmaat kan byvoorbeeld, wanneer die skok van ’n egskeiding en die gepaardgaande hartseer en twyfelgedagtes oor eiewaarde eers verby is, as ’n sterker, lewenskragtiger, heel persoon uit die pynlike ervaring kom.

Een vrou wie se man haar vir ’n ander vrou verlaat het, verduidelik dat “jy binne-in anders is” wanneer die pyn en woede begin bedaar. “Jy voel anders. Jy kan nooit die persoon wees wat jy vroeër was nie.” Sy raai ’n mens aan: “Neem die tyd om jouself as ’n individu weer te leer ken. Huweliksmaats onderdruk gewoonlik hulle voorkeure en begeertes uit respek vir die ander persoon, maar ná ’n egskeiding moet ’n mens die tyd neem om uit te vind waarvan jy nou hou en nie hou nie. As jy jou gevoelens begrawe, begrawe jy hulle lewend. Hulle sal eendag terugkeer en jy sal hulle onder die oë moet sien. Jy kan dus gerus maar jou gevoelens onder die oë sien en hulle begin verwerk.”

Aangesien al hoe meer mense bewus raak van die probleme wat deur egskeiding veroorsaak word, word dit ’n opsie wat al hoe minder aanloklik is. Die tydskrif Time sê dat ’n groeiende minderheid raadgewers ongelukkige egpare nou aanspoor: “Bly by mekaar.” David Elkind van Tufts-universiteit het geskryf: “Om ’n egskeiding deur te maak is soos om jou been tydens ’n ski-uitstappie te breek: Ongeag hoeveel ander mense by die ski-oord hulle been breek, jou gebreekte been is nie minder pynlik nie.”

Egskeiding is nie ’n maklike uitweg uit huweliksprobleme nie. Wat is dan ’n beter manier om huweliksgeskille uit die weg te ruim?

[Voetnoot]

a ’n Wettige egskeiding of ’n geregtelike skeiding kan ’n mate van beskerming bied teen ernstige mishandeling of opsetlike versuim om te onderhou.

[Prent op bladsy 7]

Hedendaagse egpare kan dikwels nie met mekaar kommunikeer nie

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel