Waarom is rasse so ’n geskilpunt?
SEDERT die begin van die geskrewe geskiedenis het die idee van “hulle” en “ons” mense se denke oorheers. Baie het hulleself daarvan oortuig dat hulle die enigste normale mense is wat weet hoe om alles reg te doen. Wetenskaplikes noem dit etnosentrisme, die idee dat jou eie mense en gebruike die belangrikste is.
Die antieke Grieke het byvoorbeeld min gedink van die “barbare”, ’n term wat hulle op enigeen toegepas het wat nie ’n Griek was nie. Die woord “barbaar” het ontwikkel na aanleiding van hoe vreemde tale vir die Grieke se ore geklink het, soos ’n klomp onverstaanbare “bar-bar”. Die Egiptenare voor hulle en die Romeine ná hulle het ook gevoel dat hulle bo ander mense verhewe is.
Die Chinese het hulle land eeue lank Zhong Guo, oftewel die Middelkoninkryk, genoem omdat hulle oortuig was dat China die middelpunt van die wêreld was, indien nie van die heelal nie. Toe Europese sendelinge met hulle rooi hare, groen oë en blosende gelaatskleur later na China gekom het, het die Chinese hulle as “vreemde duiwels” gebrandmerk. Toe Oosterlinge eweneens vir die eerste keer in Europa en Noord-Amerika aangekom het, het hulle skuins oë en gebruike wat as vreemd beskou is hulle maklike teikens vir bespotting en agterdog gemaak.
Tog is daar ’n betekenisvolle feit om oor na te dink, soos die boek The Kinds of Mankind sê: “Om in jou [rasse]meerderwaardigheid te glo, is een ding; om dit te probeer bewys deur van wetenskaplike bevindings gebruik te maak, is iets heel anders.” Pogings om te bewys dat een ras bo ’n ander verhewe is, is redelik nuut. Die antropoloog Ashley Montagu het geskryf dat “die opvatting dat daar natuurlike of biologiese rasse van die mensdom bestaan wat verstandelik sowel as fisies van mekaar verskil, ’n idee is wat eers gedurende die laaste deel van die agtiende eeu ontwikkel het”.
Waarom het die kwessie van rassemeerderwaardigheid gedurende die 18de en 19de eeue so prominent geword?
Die slawehandel en rasse
’n Vername rede is dat die winsgewende slawehandel op daardie tydstip sy hoogtepunt bereik het, en honderdduisende Afrikane is met geweld gevange geneem en in Europa en die Amerikas tot slawerny gebring. Gesinne is dikwels opgebreek en mans, vrouens en kinders is na verskillende dele van die wêreld gestuur en het mekaar nooit weer gesien nie. Hoe kon slawehandelaars en -eienaars, waarvan die meeste gesê het dat hulle Christene was, sulke onmenslike dade regverdig?
Deur die siening te huldig dat swart Afrikane van nature minderwaardige mense was. “Ek is geneig om te dink dat alle negers en alle ander mensespesies oor die algemeen natuurlik ondergeskik aan die blanke is”, het die 18de-eeuse Skotse filosoof David Hume geskryf. Trouens, David Hume het gesê dat ’n mens “geen vindingryke uitvindsels onder [Negers] sal aantref nie en geen kuns of geen wetenskap nie”.
Maar sulke bewerings was verkeerd. The World Book Encyclopedia (1973) het gesê: “Hoogs ontwikkelde Negerkoninkryke het honderde jare gelede in verskeie dele van Afrika bestaan. . . . Tussen 1200 en 1600 was daar ’n florerende, Neger-Arabiese universiteit by Timboektoe in Wes-Afrika en dit het dwarsdeur Spanje, Noord-Afrika en die Midde-Ooste bekendheid verwerf.” Tog het diegene wat by die slawehandel betrokke was die siening van filosowe soos David Hume, dat swart mense ’n ras ondergeskik aan blankes, trouens selfs ondermenslik is, gretig aangeneem.
Godsdiens en rasse
Slawehandelaars het vir hulle rassistiese sienings aansienlike steun van godsdiensleiers ontvang. Reeds teen die 1450’s het die edikte van Rooms-Katolieke pouse die onderwerping en verslawing van “heidene” en “ongelowiges” goedgekeur sodat hulle “siele” vir “God se Koninkryk” gered kon word. Aangesien vroeë Europese ontdekkingsreisigers en slawehandelaars die seën van die kerk gehad het, het dit hulle glad nie gekwel om die inboorlinge wreed te behandel nie.
“In die 1760’s, sowel as baie dekades daarna, is die verslawing van swart mense deur Katolieke, Anglikaanse, Lutherse, Presbiteriaanse en Gereformeerde kerklidmate en teoloë goedgekeur”, sê die boek Slavery and Human Progress. “Geen hedendaagse kerk of sekte het sy lede probeer afraai om swart slawe te besit of selfs met hulle handel te dryf nie.”
Hoewel party kerke van ’n universele Christelike broederskap gepraat het, het hulle ook leerstellings bevorder wat die rassegeskil vererger het. Die Encyclopaedia Judaica sê byvoorbeeld dat “die Spanjaarde eers ná langdurige struwelinge en teologiese besprekings die inboorlingrasse wat hulle in Amerika aangetref het as mense met siele beskou het”.
Die gevolg was dus dat dit nie belangrik was hoe die mense van sulke inboorlingrasse fisies behandel is nie, solank hulle “siel” deur bekering tot die Christelike godsdiens “gered” kon word. En baie godsdiensleiers het aangevoer dat swart mense in elk geval deur God vervloek is. Tekste is verdraai om dit te probeer bewys. Die geestelikes Robert Jamieson, A. R. Fausset en David Brown het, in hulle kommentaar op die Bybel, verklaar: “Vervloek is Kanaän! [Genesis 9:25]—hierdie oordeel is voltrek met die vernietiging van die Kanaäniete—met die verlaging van Egipte en die slawerny van die Afrikane, die afstammelinge van Gam.”—Commentary, Critical and Explanatory, on the Whole Bible.
Die leerstelling dat die voorvader van die swart ras vervloek is, word eenvoudig nie in die Bybel geleer nie. Die swart ras het in werklikheid van Kus afgestam, nie van Kanaän nie. In die 18de eeu het John Woolman aangevoer dat die gebruik van hierdie Bybelse vloek om die verslawing van swart mense te regverdig en hulle sodoende hulle natuurlike regte te ontneem “’n veronderstelling is wat te walglik is om eers oorweeg te word deur enige mens wat opreg begeer om deur grondige beginsels gelei te word”.
Skynwetenskap en rasse
Die skynwetenskap het ook sy stem bygevoeg in ’n poging om die teorie te steun dat swart mense ’n minderwaardige ras is. Die boek Essay on the Inequality of Races, deur die 19de-eeuse Franse skrywer Joseph de Gobineau, het die grondslag gelê vir baie soortgelyke werke daarna. Daarin het Joseph de Gobineau die mensdom in drie aparte rasse ingedeel in dalende trappe van voortreflikheid: wit, geel en swart. Hy het beweer dat die unieke eienskappe van elke ras in die bloed gedra word en dat enige vermenging deur ondertrouing dus ’n verswakking en ’n verlies van die verhewe eienskappe tot gevolg sou hê.
Joseph de Gobineau het aangevoer dat daar eens ’n suiwer ras van blanke, lang, blonde mense met blou oë bestaan het wat hy Ariërs genoem het. Volgens hom was dit die Ariërs wat die beskawing en Sanskrit in Indië bekend gestel het en die beskawings van antieke Griekeland en Rome opgerig het. Maar deur ondertrouing met die minderwaardige plaaslike mense het hierdie eens glorieryke beskawings saam met die vernuf en uitstekende eienskappe van die Ariese ras tot niet gegaan. Die mense wat die naaste aan suiwer Aries was, het Joseph de Gobineau verklaar, kon in Noord-Europa gevind word, naamlik onder die Nordiese en, by uitbreiding, die Germaanse mense.
Joseph de Gobineau se basiese idees—die drie-rassige indeling, die bloedlyn, die Ariese ras—het hoegenaamd geen wetenskaplike grond gehad nie, en hulle word heeltemal deur die hedendaagse wetenskaplike gemeenskap verwerp. Hulle is nietemin gou deur ander mense aanvaar. Onder hulle was daar ’n Engelsman, Houston Stewart Chamberlain, wat so deur Joseph de Gobineau se idees betower is dat hy in Duitsland gaan woon het en die gedagte voorgestaan het dat daar slegs deur die Duitsers hoop was om die suiwerheid van die Ariese ras te bewaar. Dit spreek vanself dat Houston Chamberlain se geskrifte oral in Duitsland gelees is, en die gevolge was afskuwelik.
Die afskuwelike gevolge van rassisme
In sy boek Mein Kampf (My stryd) het Adolf Hitler beweer dat die Duitse ras die Ariese superras was wat bestem is om oor die wêreld te heers. Hitler het gemeen dat die Jode, wat volgens hom die Duitse ekonomie ondermyn het, ’n struikelblok in die weg na hierdie glorieryke bestemming was. Dit het gevolglik tot die uitwissing van Jode en ander minderheidsgroepe van Europa gelei, en was onteenseglik een van die donkerste hoofstukke in die mensegeskiedenis. Dit was die rampspoedige gevolge van rassistiese idees, onder andere dié van Joseph de Gobineau en Houston Chamberlain.
Hierdie afskuwelikhede was egter nie tot Europa beperk nie. Aan die anderkant van die oseaan in die sogenaamde nuwe wêreld het soortgelyke ongegronde idees vir geslagte van onskuldige mense ongekende lyding veroorsaak. Hoewel slawe uit Afrika ná die Burgeroorlog in die Verenigde State uiteindelik bevry is, is daar in baie state wette aangeneem wat swart mense verbied om baie van die voorregte te hê wat ander burgers geniet het. Waarom? Blanke burgers het gedink dat die swart ras nie die intellektuele vermoëns het om aan burgerlike dienste en die regering deel te neem nie.
Presies hoe diep sulke rassegevoelens gewortel was, word geïllustreer deur ’n saak waarby ’n rassevermengingswet betrokke was. Hierdie wet het huwelike tussen swartes en blankes verbied. ’n Regter het ’n egpaar wat hierdie wet verbreek het skuldig bevind en gesê: “Die Almagtige God het die rasse blank, swart, geel, Maleis en rooi geskep, en Hy het hulle op aparte kontinente geplaas, en as daar nie met Sy reëling ingemeng is nie, sou daar geen rede vir sulke huwelike bestaan het nie.”
Die regter het dit nie in die 19de eeu en ook nie in ’n agterlike gebied gesê nie, maar in 1958—en dit nie meer as 100 kilometer van die Amerikaanse Kongresgebou af nie! Trouens, dit was eers teen 1967 dat die Amerikaanse Appèlhof alle wette teen gemengde huwelike ongeldig verklaar het.
Sulke diskriminerende wette—sowel as apartheid in skole, kerke en ander openbare instellings en diskriminasie wat werk en behuising betref—het tot die burgerlike onrus, protesoptogte en geweld gelei wat in die Verenigde State en baie ander plekke iets alledaags in die lewe geword het. Bo en behalwe die vernietiging van lewe en eiendom kan die angs, haat en die persoonlike vernedering en lyding wat mense moes deurmaak slegs as die skande en oneer van ’n sogenaamd beskaafde gemeenskap beskou word.
Rassisme het dus een van die verdelendste kragte geword wat die mensegemeenskap teister. Dit is beslis gepas dat ons almal ons hart ondersoek en ons afvra: Verwerp ek enige leerstellings wat sê dat een ras bo ’n ander verhewe is? Probeer ek van enige moontlike oorblywende gevoelens van rassemeerderwaardigheid ontslae raak?
Dit is ook gepas dat ons vra: Watter hoop is daar dat rassevooroordeel en -spanning, wat deesdae so algemeen is, ooit uitgeroei sal word? Kan mense van verskillende nasionaliteite, tale en gebruike in vrede saamwoon?
[Prent op bladsy 7]
Swart mense is deur baie blankes as ondermenslik beskou
[Erkenning]
Reproduced from DESPOTISM—A Pictorial History of Tyranny
[Prent op bladsy 8]
Nazi-uitwissingskampe was ’n rampspoedige gevolg van rassistiese idees
[Erkenning]
U.S. National Archives photo