Wetenskaplikes lei die publiek om die bos
Deur Ontwaak-medewerker in Spanje
TOMÁS SERRANO, ’n bejaarde, verrimpelde Spaanse boer, het baie jare lank geglo dat sy plasie in Andalusië iets unieks verberg. Hy het dikwels vreemde bene en tande oopgeploeg wat beslis nie aan enige plaaslike vee behoort het nie. Maar wanneer hy in die dorpie van sy vondste vertel het, het niemand veel belangstelling getoon nie—in elk geval nie tot 1980 nie.
In daardie jaar het ’n span paleontoloë daar aangekom om die streek te ondersoek. Hulle het weldra ’n waarlik kosbare vonds van fossiele gevind: bene van bere, olifante, seekoeie en ander diere—almal in ’n klein gebied versamel wat klaarblyklik ’n opgedroogde moeras was. Maar dit was in 1983 dat die beenryke terrein wêreldwyd groot aandag getrek het.
’n Klein, maar buitengewone skedelfragment is toe pas ontdek. Dit is beskryf as “die oudste menseoorblyfsel wat in Europa en Asië ontdek is”. Sommige wetenskaplikes het geskat dat dit tussen 900 000 en 1600 000 jaar oud is, en hulle het verwag dat dit “’n omwenteling in die studie van die mensespesie” sou inlui.
Die fossiel wat al hierdie opgewondenheid veroorsaak het, is die “Man van Orce” gedoop—na aanleiding van die dorpie in die provinsie Granada, Spanje, waar dit ontdek is.
Die “Man van Orce” word aan die pers bekend gestel
Op 11 Junie 1983 is die fossiel in Spanje aan die publiek bekend gestel. Vooraanstaande Spaanse, Franse en Britse wetenskaplikes het reeds hulle versekering gegee dat dit eg is, en dit was nie lank voor dit politieke steun gekry het nie. ’n Spaanse maandblad het geesdriftig berig: “Spanje, en veral Granada, is nou aan die voorpunt van [die mens se] antieke geskiedenis in die makrokontinent van Eurasië.”
Watter soort mens was die “Man van Orce” in werklikheid? Wetenskaplikes het hom beskryf as ’n emigrant wat nie so lank gelede nie uit Afrika gekom het. Daar is gesê dat hierdie besondere fossiel dié van ’n jong man is wat ongeveer 17 jaar oud en 1,5 meter lank was. Hy was waarskynlik ’n jagter en versamelaar wat moontlik nog nie geleer het om vuur te benut nie. Bes moontlik het hy reeds ’n elementêre taal en godsdiens ontwikkel. Hy het vrugte, graansoorte, bessies en insekte geëet en ook af en toe die oorblyfsels van diere wat deur hiënas doodgemaak is.
Bedenkinge oor die identifisering
Op 12 Mei 1984, slegs twee weke voor ’n internasionale wetenskaplike seminaar oor die onderwerp gehou is, het daar ernstige twyfel oor die fragment se oorsprong ontstaan. Nadat die paleontoloë kalkagtige afsettings versigtig uit die binneste gedeelte van die skedel verwyder het, het hulle ’n ontstellende “riffel” gevind. Menseskedels het nie so ’n riffel nie. Die seminaar is uitgestel.
Die dagblad El País van Madrid het dié opskrif bevat: “Ernstige aanduidings dat skedel van ‘Man van Orce’ aan ’n esel behoort.” Daar is uiteindelik in 1987 in ’n wetenskaplike dokument wat geskryf is deur Jordi Agustí en Salvador Moyà, twee van die paleontoloë wat by die oorspronklike ontdekking betrokke was, verklaar dat x-straalontleding inderdaad bevestig het dat die fossiel aan ’n soort perd behoort het.
Waarom om die bos gelei?
Hierdie flater is weens verskeie redes begaan, waarvan nie een juis veel met die wetenskaplike prosedure te doen het nie. Die dramatiese ontdekking van mensevoorouers bly selde lank in die uitsluitlike domein van die wetenskaplikes. Politici het nie op hulle laat wag om daaruit munt te slaan nie, en wetenskaplike presiesheid is gou deur nasionalistiese geesdrif oorskadu.
’n Streekminister van kultuur het gesê dat dit ’n trotse oomblik vir Andalusië was “om die plek van so ’n groot ontdekking te wees”. Toe daar in sommige kringe oor die vonds getwyfel is, het die streekowerheid van Andalusië voet by stuk gehou dat “die oorblyfsels eg was”.
So ’n onbeduidende fossiel (ongeveer 8 sentimeter in deursnee) word verskriklik belangrik geag deels vanweë die gebrek aan getuienis wat die veronderstelde evolusie van die mens steun. Ten spyte van die fossiel se klein afmetings is die “Man van Orce” beskryf as “die grootste paleontologiese vonds van onlangse jare, sowel as die verlore skakel tussen die tipiese mens van Afrika (Homo habilis) en die oudste mens van die Eurasiese kontinent (Homo erectus)”. ’n Ryk verbeelding en onwetenskaplike raaiery was voldoende om die besonderhede oor die voorkoms en lewenswyse van die “Man van Orce” aan te vul.
’n Jaar of wat voor die “Man van Orce” ontdek is, het die leier van die wetenskaplike span, dr. Josep Gibert, oor die verrassings gespekuleer wat die gebied ongetwyfeld sou inhou. “Dit is een van die belangrikste konsentrasies van die Onder-Kwaternêre tydperk in Europa”, het hy beweer. En selfs nadat die ware identiteit van die fossiel bekend gemaak is, het dr. Gibert volgehou: “Die internasionale wetenskaplike gemeenskap glo vas dat daar vroeër of later ’n mensefossiel in die gebied van Guadix-Baza [waar die fragment gevind is] gevind sal word wat ouer as ’n miljoen jaar is, en dit sal waarlik ’n groot ontdekking wees.” Voorwaar wensdenkery!
“Die wetenskap lê hom daarop toe om die waarheid te ontdek”
’n Mede-ontdekker van die “Man van Orce”, dr. Salvador Moyà, het openhartig aan Ontwaak! erken: “Ek en dr. Jordi Agustí het dit baie moeilik gevind om te aanvaar dat die fossiel nie mensagtig was nie. Maar die wetenskap lê hom daarop toe om die waarheid te ontdek, al hou ons nie altyd daarvan nie.”
Die geskil oor die “Man van Orce” toon wat ’n moeilike taak dit vir paleontologie is om die waarheid in verband met die sogenaamde evolusie van die mens vas te stel. Ten spyte van dekades se opgrawings het egte oorblyfsels van die mens se vermeende aapagtige voorouers nog nie aan die lig gekom nie. Kan dit wees dat die gebrek aan onweerlegbare getuienis daarop dui dat die mens tog nie ’n produk van evolusie is nie, al hou sommige wetenskaplikes miskien nie daarvan nie?
’n Onpartydige waarnemer kan hom tereg afvra of ander beroemde “aapmense” enigsins werkliker is as wat die “Man van Orce” was.a Soos die geskiedenis al dikwels bewys het, kan die wetenskap mense na die waarheid toe lei, maar wetenskaplikes is hoegenaamd nie onfeilbaar nie. Dit is veral die geval wanneer politieke, filosofiese en persoonlike vooroordeel die geskilpunt oorskadu—en wanneer so min gebruik word om soveel te probeer verduidelik.
[Voetnoot]
a Sien hoofstuk 7 van die boek Lewe—Hoe het dit hier gekom? Deur evolusie of deur die skepping?, wat deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc., uitgegee word, vir ’n breedvoerige bespreking oor ander sogenaamde aapmense.
[Prente op bladsy 24, 25]
Bo: ’n Replika van die agt sentimeter lange fragment van die sogenaamde “Man van Orce”
Regs: ’n Tekening van die denkbeeldige “primitiewe mens” soos evolusioniste dit voorstel