Ons is uit ’n lahar gered!
DIE 1ste Oktober 1995 was ’n dag soos wat die Garcia-gesin nog nooit beleef het nie. Die Garcias is bedrywige Getuies van Jehovah, en hulle huis was geleë in ’n uitbreiding in Cabalantian, Bacolor, in die Pampanga-provinsie, in die Filippyne. Hoewel hulle huis naby gebiede was wat deur lahars van berg Pinatubo getref word, is dit nie direk daardeur beïnvloed nie. Cabalantian is deur keerwalle beskerm wat deur die regering gebou is en wat ontwerp is om die lahars te stuit. Maar dinge sou spoedig verander.
’n Kwaai tropiese storm het 216 millimeter reën op berg Pinatubo gestort. In die vroeë oggendure het die telefoon in die Garcias se huis gelui. Dit was iemand wat ’n verkeerde nommer geskakel het, maar die persoon het gesê dat ’n keerwal gebreek het en dat die gesin hulle op ’n vloed moes voorberei.
Die beproewing begin
Nonato Garcia, vader van die gesin en presiderende opsiener van die Villa Rosemarie-gemeente, vertel: “Voor vyfuur Sondagoggend het die water om ons huis begin styg.
“Ek het gedink dat dit net ’n watervloed gaan wees; gevolglik het ons ons besittings na die boonste verdieping begin dra. Maar ná tienuur die oggend het ek gesien dat daar laharmodder met die water gemeng was. Die stroom het net hoër en sterker geword totdat dit dig was en rotsblokke meegesleur het. Ons het op die dak geklim.
“Later is motors en selfs huise deur die stroom meegesleur. Een huis wat deur ’n groot rotsblok getref is, het inmekaargestort en is weggespoel. Die lahar het die dak tot naby ons huis gespoel. Daar was mense op die dak. Ek het na hulle geroep en hulle oorreed om na ons huis se dak te kom. Om dit te doen, het hulle vasgehou aan ’n kabel wat na hulle gegooi is. Dit was aan my lyf vasgebind, en ek het hulle een vir een oorgetrek. Nog meer mense het van ander dakke gekom wat besig was om toe te spoel. Dit het die hele tyd gereën.
“In die middag het helikopters bo-oor ons begin vlieg. Maar nie een het afgekom om ons te red nie, al het ons soos besetenes gewaai. Ons het gedink dat daar mense moet wees wat hulp meer nodig het en dat hulle hulle eers gaan haal. Ek het nie gedink dat ons gou opgepik sou word nie, want daar was baie mense op die dakke van huise.
“Gebed is baie belangrik gedurende so ’n situasie. Selfs in groot gevaar is jy nie bang nadat jy gebid het nie. Ons het nie gebid dat Jehovah ’n wonderwerk moes verrig nie, maar ons het gevra dat sy wil geskied, want ons het besef dat enige mens deur ’n ramp getref kan word. Maar ek het wel om krag, moed en wysheid gevra. Dit alles het ons gehelp om die situasie te verduur.”
Nonato se vrou, Carmen, het saamgestem: “Wat my man oor gebed sê, is regtig waar. Ek is geneig om baie senuweeagtig te wees in situasies waar my geliefdes se lewe in gevaar is. Toe ek sien dat die dak deur die laharmodder toegespoel word en deur rotsblokke getref word, het ek vir my man gesê: ‘Dit lyk asof daar nie meer hoop vir ons oor is nie.’ Maar hy het my aangemoedig en gesê: ‘Kom ons bid.’”
Nonato het verder vertel: “Teen vieruur die middag het die lahar nog baie sterk gevloei. Groot rotse het die huis getref. Laharpuin het omtrent die helfte van die dak bedek. Ek het begin dink dat dit weldra donker gaan word en dat dit baie moeilik sal wees om rond te beweeg. Ons het dus besluit om te begin beweeg terwyl dit nog lig was.
“Ek het ’n stoel in die laharmodder gegooi om te sien of dit sal sink, en ek het selfs daarop gaan sit, maar dit het nie gesink nie. Toe het ek ’n lang houtpaal gekry om in die modder te steek. Ek het dit gebruik om dele te vind wat hard genoeg was om op te loop. Sodoende kon ons, saam met ’n aantal van ons bure, ons weg deur die modder begin vind. Ons was altesaam 26.
“Ons het koers gekies na ’n baie hoër dak in die verte. Met die houtpaal het ons in die modder bly druk om seker te maak waar ons kon trap. Op plekke waar dit nog baie sag was, het ons gekruip.”
Carmen verduidelik met trane in haar oë: “Op party plekke was ons op die randjie van die laharstroom en moes ons sydelings op ’n baie smal strook grond loop. Op een plek het ek tot by my bors ingesink en vir my man gesê: ‘Ek kan nie voortgaan nie. Ek sal sterf.’ Maar hy het gesê: ‘Nee, jy kán dit doen. Staan op.’ Met Jehovah se hulp het ons bly beweeg.”
Nora Mengullo, ’n familielid van die gesin, voeg by: “Op plekke waar dit te sag was om te kruip, het ons op ons rûe gelê en onsself met ons voete gestoot. Partykeer het ons te diep ingesink, maar ons het mekaar vorentoe help trek, veral die kinders.”
Redding—Uiteindelik!
Nonato sê voorts: “Terwyl ons moeisaam langs die rand van die lahar gekruip het, het ’n helikopter oorgevlieg en ons gevaarlike omstandighede gesien—nie op ’n dak nie, maar in die middel van laharpuin. Een van die vroue saam met ons het haar agt maande oue baba opgehou en gehoop dat die redders sou besef in watter benarde situasie ons is. Hulle het afgekom om ons te kom haal. Ons het die kinders en die vrouens eerste laat gaan, aangesien daar nie vir ons almal plek was nie.
“Uiteindelik is ons ook opgepik en na ’n ontruimingsentrum gebring. Die mense daar kon nie vir ons enige klere gee om aan te trek nie, al was al ons klere vol laharmodder. Ek het vir hulle gesê dat my gesin nie saam met die ander in die ontruimingsgebied sou ingaan nie, aangesien ons na ’n Koninkryksaal toe wou gaan. Toe ons daar aankom, het ons onmiddellik klere, kos en ander hulp ontvang. Nog broers van die gemeente het daar aangekom, en hulle het ons ook gehelp.”
Carmen voeg by: “Selfs al kon ons nie op hulp uit ander bronne vertrou nie, het ons die seëning van ons Christenbroederskap ervaar.”
Hoewel hulle tweeverdiepinghuis heeltemal deur die lahar bedek is, is dit bemoedigend om te weet dat hulle en hulle drie kinders, Lovely, Charmy en Charly, die beproewing saam met al die ander Getuies in die omgewing oorleef het.
[Prente op bladsy 23]
Die eerste verdieping van die Garcias se huis, wat gedeeltelik oopgegrawe is
Nonato Garcia se gesin voor hulle oorstroomde huis