Wie woon in die geesteryk?
DIE wêreld het ’n “supermark” van godsdiensopvattings en -oortuigings geword. Daar is duisende godsdiensgroepe in Afrika alleen, elkeen met sy eie menings oor wat in die geesteryk aangaan. Maar vir ’n duidelike en betroubare beeld moet ons ons tot die Bybel wend. Dit identifiseer die geeste—goeies sowel as slegtes—wat in die geesteryk woon. Dit toon ook op wie ons ons met vrug kan beroep vir hulp en beskerming.
Jehovah, die almagtige God
Tradisionele godsdiens in Afrika leer dat ’n almagtige God die leier van die voorouers en godhede is. Die boek African Mythology sê: “Daar bestaan geen twyfel dat byna alle, indien nie alle, Afrikavolke in ’n Opperwese, die skepper van alle dinge, glo nie.” Die boek African Religion in African Scholarship sê: “Aangesien God in absolute beheer van die heelal is, bestaan alle ander wesens en alle mag deur Hom. Absolute beheer en mag berus by Hom.”
Die Bybel stem saam dat daar Een is wat die opperheerser in die geesteryk is. Dit beskryf hom as “die God van die gode en die HERE van die here; die grote, magtige en gedugte God wat die persoon nie aansien en geen geskenk aanneem nie”.—Deuteronomium 10:17.
Regoor Afrika is daar honderde name en titels wat gegee word aan die een wat as die opperheerser beskou word. Maar wat sê God se Woord oor die Goddelike naam? Die psalmis het geskryf: “U‚ wie se naam Jehovah is‚ u alleen [is] die Allerhoogste oor die hele aarde” (Psalm 83:18, NW). Hierdie heilige naam verskyn meer as 7000 keer in die Bybelverslag, hoewel sommige Bybelvertalers dit met titels soos “God” of “Here” vervang het.
Omdat Jehovah almagtig is, kan hy ons help. Hy beskryf homself as ’n “barmhartige en genadige God, lankmoedig en groot van goedertierenheid en trou; wat die goedertierenheid bewaar vir duisende, wat ongeregtigheid en oortreding en sonde vergewe, maar nooit ongestraf laat bly nie”.—Exodus 34:6, 7; 1 Samuel 2:6, 7.
Engele, kragtige bedienaars van God
Lank voordat Jehovah die mens of selfs die aarde geskep het, het hy geespersone in die hemel geskep. Die Bybel sê: ‘Toe God die aarde gegrond het, het al die engeleseuns van God gejuig’ (Job 38:4-7). Daar is miljoene engele. Jehovah se kneg Daniël het geskryf van ’n visioen van hemelse dinge waarin hy gesien het hoe “duisend maal duisende [God] gedien, en tienduisend maal tienduisende . . . voor Hom gestaan” het.—Daniël 7:10.
Die eerste geespersoon wat deur Jehovah geskep is, was die een wat later as Jesus Christus bekend gestaan het (Johannes 17:5; Kolossense 1:15). Voordat Jesus as ’n mens op die aarde geleef het, het hy as ’n magtige geesskepsel in die hemel gewoon. Ná sy dood as ’n mens is Jesus tot hemelse lewe opgewek, waar hy sy lewe as ’n magtige geesskepsel voortgesit het.—Handelinge 2:32, 33.
Jesus het groot mag in die hemel. In Judas 9 word Jesus, wat ook as Migael bekend staan, “die aartsengel” genoem, wat beteken dat hy die hoof-, of vernaamste, engel is (1 Tessalonisense 4:16). Hy voer ook gesag oor die aarde. Jehovah het aan hom “heerskappy en eer en koningskap [gegee]; en al die volke en nasies en tale het Hom vereer” (Daniël 7:13, 14). Ondanks sy groot gesag bly Jesus onderworpe aan sy Vader, Jehovah.—1 Korintiërs 11:3.
Hoewel getroue engele Jehovah dien, dien hulle ook God se knegte op aarde. Die apostel Paulus het geskryf: “Is [engele] nie almal geeste vir openbare diens, wat uitgestuur word om te dien ten behoewe van dié wat redding gaan beërf nie?” (Hebreërs 1:14). Dit is veral vir hulle belangrik dat mense die waarheid aangaande Jehovah leer. Die apostel Johannes het in ’n visioen ’n “engel in die middel van die hemel sien vlieg, en hy het ewige goeie nuus gehad om as blye tyding bekend te maak aan dié wat op die aarde woon, en aan elke nasie en stam en taal en volk, en hy het met ’n harde stem gesê: ‘Vrees God en gee hom heerlikheid’”.—Openbaring 14:6, 7.
Satan en die demone, vyande van God en die mens
Ongelukkig het nie al die engele aan God getrou gebly nie. Van hulle het teen hom in opstand gekom en vyande van God en die mensdom geword. Die vernaamste opstandeling is Satan die Duiwel.
Hoewel baie mense vandag ontken dat Satan bestaan, ontken niemand dat boosheid bestaan nie. Om in boosheid te glo en terselfdertyd nie te glo dat dit ’n oorsaak het nie, lei tot “’n onvermydelike probleem”, sê die boek The Death of Satan. “Ons is bewus van iets waarvoor ons kultuur ons nie meer die woorde gee om dit uit te druk nie.”
In teenstelling hiermee het die Bybel wel die woorde daarvoor en sit dit die waarheid oor die oorsprong van boosheid duidelik uiteen. Dit verduidelik dat die engeleskepsele wat deur Jehovah geskep is almal regverdig en goed was; hy het geen goddelose engele geskep nie (Deuteronomium 32:4; Psalm 5:5). Maar die engele is, net soos mense, die vermoë gegee om tussen reg en verkeerd te kies. Een van hierdie volmaakte geesseuns het ’n selfsugtige begeerte ontwikkel om die aanbidding wat Jehovah tereg toekom vir homself te neem. Sodoende het hy die naam Satan, wat “Teenstander” beteken, gekry. (Vergelyk Jakobus 1:14, 15.) Satan is nie bloot ’n bedrieër, soos sommige Afrikagodsdienste leer nie; hy is ook nie ’n “lyfwag” wat diegene beskerm wat gereeld offerandes aan hom bring nie. Die Bybel toon dat hy deur en deur boos en sleg is.
Ander engele het hulle by Satan geskaar in sy opstand teen God. Hierdie demoonengele is ook vyande van mense op die aarde. Ook hulle is kwaadwillig en boos. In die verlede het hulle party mense stom en blind gemaak (Matteus 9:32, 33; 12:22). Hulle het ander mense, waaronder kinders, met siekte en kranksinnigheid geteister (Matteus 17:15, 18; Markus 5:2-5). Dit is duidelik dat geen verstandige persoon enigiets met Satan of daardie demone te doen sal wil hê nie.
Waar is die voorouers?
Miljoene mense in Afrika en op ander plekke glo dat die dood nie die einde van lewe is nie, maar bloot ’n oorgang van die lewe na die geesteryk, die domein van godhede sowel as voorouers. Geleerde John Mbiti, ’n kenner op die gebied van Afrikagodsdienste, skryf oor die geloof in voorouers, wat hy die “lewende dooies” noem: “Hulle is die ‘geeste’ wat vir Afrikavolke die belangrikste is . . . Hulle weet en stel belang in wat in die familie [op aarde] aangaan. . . . Hulle is dié wat waak oor familiesake, -tradisies, -etiek en -bedrywighede. ’n Oortreding in hierdie aangeleenthede is eintlik ’n oortreding teen die voorvaders wat, in daardie hoedanigheid, as die onsigbare polisie van die families en gemeenskappe optree. Aangesien hulle nog steeds ‘mense’ is, is die lewende dooies dus die beste groep bemiddelaars tussen mense en God: hulle weet wat mense se behoeftes is, hulle was ‘kort gelede’ hier saam met mense, en terselfdertyd het hulle volle toegang tot die kommunikasiekanale met God.”
Maar wat sê die Bybel oor die toestand van die dooies? Dit toon dat daar nie so iets soos “lewende dooies” bestaan nie. Mense is óf lewend óf dood—nooit albei nie. God se Woord leer dat die dooies nie kan hoor, sien, praat of dink nie. Die dooies kan nie die lewendes bewaak nie. Die Bybel sê: “Die dooies weet glad niks nie . . . Hulle liefde sowel as hulle haat, ook hulle naywer, het lankal verdwyn . . . Daar is geen werk of oorleg of kennis of wysheid in die doderyk waar jy heengaan nie” (Prediker 9:5, 6, 10). “[Die mens] keer terug na sy aarde toe; op daardie dag is dit met sy planne gedaan.”—Psalm 146:4.
Keer terug tot stof
As dit vir jou moeilik is om te aanvaar, kyk gerus na wat met die eerste mens, Adam, gebeur het. Jehovah het Adam “uit die stof van die aarde” geformeer (Genesis 2:7). Toe Adam ongehoorsaam aan Jehovah se bevel was, was die straf die dood. God het vir hom gesê: “Jy [sal] terugkeer na die aarde, want daaruit is jy geneem. Want stof is jy, en tot stof sal jy terugkeer.”—Genesis 3:19.
Voordat Jehovah Adam uit die stof geskep het, het Adam nie bestaan nie. Toe hy dus ‘na die aarde teruggekeer het’, het hy weer leweloos geword, soos die stof. Hy het nie na die ryk van voorouerlike geeste oorgegaan nie. Hy het nie hemel of hel toe gegaan nie. Toe hy gesterf het, was dit sy einde.
Gebeur dieselfde met ander mense wanneer hulle sterf? Ja. Die Bybel sê: “Alles [mense sowel as diere] gaan na een plek toe; alles is uit die stof, en alles keer na die stof terug” (Prediker 3:20). Die Bybel beloof wel dat God dooie mense tot lewe in ’n paradysaarde sal opwek, maar daardie tyd is nog in die toekoms (Johannes 5:28, 29; Handelinge 24:15). Intussen moet ons nie die dooies vrees of offerandes aan hulle bring nie, aangesien hulle ons nie kan help of skaad nie.
Satan en sy demone wil mense mislei oor wat die toestand van hulle afgestorwe voorouers is; daarom bevorder hulle die leuen dat mense ná die dood voortleef. Een manier waarop hulle dit doen, is deur vals stories (1 Timoteus 4:1). Hulle gebruik ook visioene, drome en geestemediums om mense te laat dink dat hulle met die dooies gekommunikeer het. Maar dit is nie die dooies met wie hulle in aanraking kom nie. Dit is eerder demone wat voorgee dat hulle afgestorwenes is. Dit is waarom Jehovah ’n streng afkeer het van diegene wat die dooies raadpleeg, hetsy direk of indirek op ander maniere, soos waarsêery.—Deuteronomium 18:10-12.
[Prent op bladsy 6]
Die demone bedrieg mense en maak hulle bang deur middel van visioene, drome en geestemediums
[Prente op bladsy 7]
Om mense te mislei, gee demone voor dat hulle afgestorwenes is