Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g96 11/22 bl. 11-14
  • ‘Dis net tydelik!’—My lewe met niersiekte

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • ‘Dis net tydelik!’—My lewe met niersiekte
  • Ontwaak!—1996
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • “Waarom ek?”
  • Lewe op dialise
  • Op soek na ’n nuwe nier
  • Nie bang om dood te gaan nie
  • ‘Dis net tydelik, Lee!’
  • Van ons lesers
    Ontwaak!—1997
  • Jou niere—’n lewensonderhoudende filter
    Ontwaak!—1997
  • Ek het God se beskouing van bloed aanvaar
    Ontwaak!—2003
  • Nierstene—Hoe ’n ou kwaal behandel word
    Ontwaak!—1993
Sien nog
Ontwaak!—1996
g96 11/22 bl. 11-14

‘Dis net tydelik!’—My lewe met niersiekte

Ek onthou daardie dag vroeg in Januarie 1980 nog asof dit gister was. My ma het my gevra om winkel toe te gaan om ’n brood te koop, maar net toe ek by die deur uitstap, het die telefoon gelui. Dit was my dokter wat gebel het om ons die uitslag van my laboratoriumtoetse te gee. Skielik het my ma in trane uitgebars. Tussen snikke deur het sy my die slegte nuus vertel. My niere was besig om in te gee. My niere sou nog een, op die meeste twee, jaar funksioneer. Die dokter was reg—’n jaar later was ek op dialise.

EK IS op 20 Mei 1961 gebore, die eerste van ses kinders. Toe ek omtrent ses maande oud was, het my ma bloed in die urine in my doeke opgemerk. Ná uitvoerige toetse is my toestand gediagnoseer as Alport-sindroom, ’n seldsame aangebore gebrek. Om die een of ander onbekende rede ondervind mans wat die siekte het dikwels ná ’n ruk nierversaking. Ek en my ouers is nie hiervan vertel nie, en daarom het ek my nie oor niersiekte bekommer nie.

Toe, in die somer van 1979, het ek opgelet dat my asem in die oggende effens na ammoniak ruik. Ek het my nie regtig veel daaraan gesteur nie, maar toe het ek begin moeg voel. Ek het gedink dat ek net onfiks is en dus geen notisie daarvan geneem nie. In Desember het ek my jaarlikse mediese ondersoek gehad, en in Januarie het ek die telefoonoproep ontvang wat hierbo genoem is.

Terwyl ek na die winkel toe gery het—my ma het per slot van rekening nog steeds die brood nodig gehad—was ek in skok. Ek kon nie glo dat dit besig was om met my te gebeur nie. “Ek’s net 18 jaar oud!” het ek uitgeroep. Ek het uit die pad getrek en stilgehou. Dit het tot my begin deurdring hoe ernstig my toestand was.

“Waarom ek?”

Terwyl ek daar langs die pad gesit het, het ek begin huil. Met trane wat oor my gesig stroom, het ek uitgeroep: “Waarom ek, God? Waarom ek? Moet asseblief nie dat my niere ingee nie!”

Namate die maande van 1980 verbygegaan het, het ek al hoe sieker gevoel; en ek het met al hoe meer dringendheid en trane gebid. Teen die einde van die jaar het ek gereeld flou geword en dikwels opgebring as gevolg van die ophoping van afvalgifstowwe in my bloed, wat nie deur my verslegtende niere gefiltreer is nie. In November het ek vir oulaas saam met ’n paar vriende gaan kamp. Maar ek was so siek dat ek die hele naweek net in die kar gesit en bewe het. Ek kon nie warm bly nie, ongeag wat ek gedoen het. In Januarie 1981 het die onvermydelike uiteindelik gebeur—my niere het heeltemal ingegee. Ek moes óf met dialise begin óf doodgaan.

Lewe op dialise

’n Paar maande vroeër het ons gesinsdokter my vertel van ’n nuwe soort dialise wat nie met spuitnaalde werk nie en wat die bloed binne die liggaam skoonmaak. Die proses staan bekend as buikvliesdialise (PD). Dit het onmiddellik by my byval gevind, aangesien ek glad nie van spuitnaalde hou nie. Die proses het al vir party dialisepasiënte ’n uitvoerbare alternatief geword.

Ons liggaam het, verbasend genoeg, ’n vlies wat soos ’n kunsnier kan werk. Die buikvlies—’n gladde, deursigtige vlies wat ’n sak om die spysverteringsorgane vorm—kan as ’n filter gebruik word om die bloed skoon te maak. Die binnekant van hierdie vlies is die voering van ’n ruimte wat die buikvliesholte genoem word. Die buikvlies is soos ’n afgeblaasde sak tussen die organe van die onderlyf ingedruk.

PD werk soos volg: ’n Spesiale dialisevloeistof word in die buikvliesholte geplaas deur ’n kateter (buis) wat deur middel van ’n operasie in die onderbuik ingeplant is. Die vloeistof bevat dekstrose, en afvalprodukte en ekstra vloeistof in die bloed word deur middel van osmose deur die buikvlies in die dialisevloeistof, wat in die buikvliesholte is, ingetrek. Die afvalprodukte wat gewoonlik as urine afgeskei sou word, is nou in die dialisevloeistof. ’n Mens moet vier keer per dag ’n omruiling doen—met ander woorde die gebruikte vloeistof aftap en dan die holte met nuwe vloeistof vul. Dit neem ongeveer 45 minute om die omruiling te doen. Dis amper soos om olie te vervang—jy tap die ou vloeistof af en vervang dit met nuwe vloeistof sodat jy langer kan lewe en jou liggaam kan help om beter te werk!

Vroeg in Januarie 1981 is die nodige kateter aan die onderkant van my regtersy ingeplant. Toe het ek twee weke lank opleiding in die prosedure ontvang. As die prosedure nie reg uitgevoer en ’n streng kiemvrye tegniek nie gebruik word nie, kan ’n mens buikvliesontsteking ontwikkel—’n ernstige en potensieel dodelike infeksie van die buikvlies.

Teen die somer van 1981, ongeveer ses maande nadat ek met PD begin het, het my ouers nog ’n telefoonoproep ontvang wat ’n baie groot uitwerking op my lewe sou hê.

Op soek na ’n nuwe nier

Sedert Januarie 1981 was ek op die nasionale lys vir ’n nieroorplanting.a Ek het gehoop dat my lewe ná ’n oorplanting weer sou wees soos dit voorheen was. Min het ek geweet wat vir my voorlê!

In die middel van Augustus is ons per telefoon in kennis gestel dat ’n skenker gevind is. Toe ek omstreeks tienuur die aand by die hospitaal aangekom het, het hulle bloedmonsters geneem om seker te maak dat ek en die skenker verenigbaar is. Die nier is beskikbaar gestel deur die gesin van ’n jong man wat vroeër daardie selfde dag in ’n ongeluk gesterf het.

Die operasie is vir die volgende oggend gereël. Voordat die operasie gedoen kon word, moes ’n baie belangrike saak eers bespreek word, aangesien ek ’n Getuie van Jehovah is en my Bybelopgeleide gewete my nie toelaat om ’n bloedoortapping te aanvaar nie (Handelinge 15:28, 29). Daardie eerste aand het die narkotiseur my kom spreek. Hy het by my aangedring om toe te stem om bloed in die teater beskikbaar te hê, net vir die wis en die onwis. Ek het nee gesê.

“Wat is ek veronderstel om te doen as iets verkeerd loop? Jou laat doodgaan?” het hy gevra.

“Doen net wat jy moet, maar moet my geen bloed gee nie, ongeag wat gebeur.”

Nadat hy weg is, het die chirurge ingekom. Ek het dieselfde saak met hulle bespreek, en tot my groot verligting het hulle ingestem om die operasie sonder bloed te doen.

Die operasie van drie en ’n half uur het goed afgeloop. Die dokter het gesê dat ek baie min bloed verloor het. Toe ek in die herstelkamer wakker word, het ek onmiddellik van drie dinge bewus geword—eerstens honger en dors en toe pyn! Maar dit alles het van minder belang geword toe ek ’n sak op die vloer gesien het waarin ’n pienk-geel vloeistof gevloei het. Dit was urine uit my nuwe nier. Ek kon uiteindelik urineer! Toe die kateter uit my blaas verwyder is en ek soos enigiemand anders kon urineer, was ek baie bly.

My vreugde was egter van korte duur. Twee dae later het ek ontmoedigende nuus gekry—my nuwe nier het nie gewerk nie. Ek sou dialise moes hervat in die hoop dat dit die nuwe nier tyd sou gee om te begin werk. Ek het ’n paar weke lank met dialise voortgegaan.

Dit was nou die middel van September, en ek was al amper ’n maand in die hospitaal. Die hospitaal was 80 kilometer van ons huis af, en dit was dus moeilik vir my Christenbroers en -susters om my te besoek. Ek het baie na my gemeente verlang. Ek het bandopnames van die gemeentelike vergaderinge ontvang, maar wanneer ek daarna geluister het, wou ek net huil. Ek het talle eensame ure in gebed met Jehovah God gepraat en hom gevra vir die krag om te volhard. Ek het dit toe nie geweet nie, maar selfs moeiliker toetse het vir my voorgelê.

Nie bang om dood te gaan nie

Dit was al ses lange weke ná die oorplanting, en teen hierdie tyd was dit heel duidelik dat my liggaam die nier verwerp het. My onderlyf was verskriklik opgeswel; die dokters het vir my gesê dat die verwerpte nier verwyder moes word. Die bloedkwessie het weer ter sprake gekom. Die dokters het verduidelik dat die operasie hierdie keer selfs ernstiger was omdat my bloedtelling baie laag was. Ek het op ’n geduldige dog ferme wyse my Bybelse standpunt verduidelik, en hulle het uiteindelik ingestem om die operasie sonder bloed te doen.b

Ná die operasie het dinge baie vinnig versleg. Terwyl ek in die herstelkamer was, het vloeistof in my longe begin opbou. Ná ’n hele nag van intense dialise was ek ’n bietjie beter. Maar twee dae later het my longe weer vol vloeistof geraak. Nog ’n nag van dialise het gevolg. Ek onthou nie veel van daardie nag nie, maar ek onthou wel dat my pa by my was en gesê het: “Nog een keer, Lee! Kom. Jy kan dit doen! Nog een keer. Daar’s hy, hou aan asemhaal!” Ek was so moeg, moeër as wat ek nog ooit was. Ek wou net hê dat dit verby moes wees en in God se nuwe wêreld wakker word. Ek was nie bang om dood te gaan nie.—Openbaring 21:3, 4.

Die volgende oggend was my toestand ernstig. My hematokriet, die hoeveelheid rooi bloedselle in sirkulerende bloed, het tot 7,3 gedaal—’n normale telling is meer as 40! Die dokters was nie optimisties oor my toestand nie. Hulle het herhaaldelik probeer om my tot ’n bloedoortapping te laat instem, wat volgens hulle noodsaaklik was vir my herstel.

Ek is na ’n waakeenheid verskuif, en toe het my hematokriet tot 6,9 gedaal. Maar met my ma se hulp het my hematokriet stadig begin styg. Met ’n versapper by die huis het sy drankies gemaak van kosse wat ryk aan yster is en dit vir my gebring. Sy het dit selfs saam met my gedrink om my aan te moedig. ’n Ma se liefde vir haar kinders is iets wonderliks.

Toe ek in die middel van November uit die hospitaal ontslaan is, was my hematokriet 11. Vroeg in 1987 het ek EPO (eritropoiëtien) begin neem, ’n sintetiese hormoon wat die beenmurg stimuleer om nuwe rooi bloedselle in die bloedstroom vry te stel, en nou is my hematokriet ongeveer 33.c

‘Dis net tydelik, Lee!’

Ek het daarna nog groot operasies in 1984, 1988, 1990, 1993, 1995 en 1996 gehad—almal as gevolg van my niere wat nie werk nie. Gedurende al hierdie jare wat ek met niersiekte saamgeleef het, het een gedagte my versterk: ‘Dis net tydelik.’ Wat ons probleme ook al is, fisies of andersins, hulle sal onder God se Koninkryk in die komende nuwe wêreld reggestel word (Matteus 6:9, 10). Wanneer ek ook al voor ’n nuwe uitdaging te staan kom en terneergedruk begin voel, sê ek net vir myself: ‘Dis net tydelik, Lee!’ en dit help my om dinge weer in perspektief te sien.—Vergelyk 2 Korintiërs 4:17, 18.

Die jaar 1986 het die grootste verrassing vir my ingehou—ek is getroud. Ek het nie gedink dat ek ooit sou trou nie. ‘Wie sal ooit met my wil trou?’ het ek gewonder. Maar toe ontmoet ek Kimberly. Sy het die mens gesien wat ek innerlik is, nie die een wat uiterlik wegteer nie. Sy het ook besef dat my toestand net tydelik is.

Op 21 Junie 1986 is ek en Kimberly in ons plaaslike Koninkryksaal in Pleasanton, Kalifornië, getroud. Ons het besluit om nie kinders te hê nie, aangesien my siekte oorerflik is. Maar miskien is dit ook tydelik. In God se nuwe wêreld sal ons graag kinders wil hê as dit Jehovah se wil is.

Ek het die voorreg om as ’n ouer man te dien in die Highland Oaks-gemeente in Kalifornië, en Kimberly dien as ’n voltydse evangeliedienaar. Die ondervinding in 1981 het my liggaam geknou, en ek word gou moeg. Sedertdien het my suster ’n ligte vorm van Alport-sindroom ontwikkel, en twee van my broers, wat die siekte het, het nierversaking gehad en is op dialise. My ander twee broers is blakend gesond.

Ek is steeds op buikvliesdialise, en ek is dankbaar vir die vryheid wat dit my bied. Ek sien met hoop en vertroue uit na die toekoms, want die probleme van vandag—waaronder niersiekte—is per slot van rekening net tydelik.—Soos vertel deur Lee Cordaway, wat oorlede is voordat hierdie artikel gedruk is.

Ontwaak! beveel nie enige spesifieke metode van mediese behandeling aan nie. Hierdie artikel is nie bedoel om enige ander vorme van behandeling, soos hemodialise, af te raai nie. Elke behandeling het sy voor- en nadele, en ’n individu se eie gewete moet hom lei in die behandeling wat hy sal kies.

[Voetnote]

a Of ’n Christen ’n oorplanting sal aanvaar of nie is ’n persoonlike besluit.—Sien Die Wagtoring van 1 Junie 1980, bladsy 30.

b Sien Hoe kan bloed jou lewe red?, bladsye 16-17, uitgegee deur die Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania, vir verdere inligting oor groot operasies wat sonder bloed gedoen word.

c Of ’n Christen EPO sal aanvaar of nie is ’n persoonlike besluit.—Sien Die Wagtoring van 1 Oktober 1994, bladsy 31.

[Diagram op bladsy 13]

Hoe buikvliesdialise werk

Lewer

Kronkels van dunderm

Kateter (ontvang die skoon oplossing; stel die ou oplossing vry)

Buikvlies

Buikvliesholte

Blaas

[Prent op bladsy 12]

Saam met my vrou, Kimberly

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel