Van ons lesers
Vriendskap Ek is 16 jaar oud, en ek wil julle bedank vir die artikel oor tannie Louie, met die titel “My liewe vriendin” (22 Februarie 1996). Die foto het my aandag getrek en ek het onmiddellik die artikel gelees. Ek het ’n bietjie terneergedruk gevoel omdat die meeste van my vriende toe al die tyd nie ware vriende was nie. Die artikel het my beslis aangespoor om vriende te maak met mense wat ouer as ek is.
L. N., Italië
Skoolsport Dankie vir die artikel “Jongmense vra . . . Spansport—Is dit goed vir my?” (22 Februarie 1996). Dit het gevoel of dit net vir my geskryf is. Dit het my laat besef dat ek atlete dalk tot nou toe verafgod het. Die artikel het my ook help besef dat ‘liggaamlike oefening min voordeel het’.—1 Timoteus 4:8.
Y. T., Japan
Kobras Ek het altyd gedink dat kobras uiters boosaardige reptiele is wat uitgeroei moes word. Maar nadat ek die artikel “Wil jy graag ’n kobra ontmoet?” (22 Maart 1996) gelees het, het ek ’n ander beskouing van hulle. Dankie dat julle mense soos ek bevry van wanopvattings oor hierdie interessante diere.
P. E., Nigerië
Hoewel ek grootgeword het in ’n plattelandse gebied waar daar baie slange is, het ek nie juis veel van hulle geweet nie. Toe ek lees hoe versigtig die kobra is om konfrontasies te vermy, is ek gehelp om Jesus se woorde in Matteus 10:16 beter te verstaan: “Betoon julle dan versigtig soos slange.”
J. F. S., Brasilië
Vervalsing Dankie vir die reeks “Vervalsing—’n wêreldwye plaag” (22 Maart 1996). Ek werk in ’n bank en het onlangs ’n seminaar oor die voorkoming van bedrog voltooi. Die inligting wat julle verskaf het, was die jongste. Dankie vir al julle betroubare en leersame artikels.
B. P., Verenigde State
Aangesien ek as ’n kassier by ’n bank werk, het ek die artikels waardeer. In teenstelling met sommige tydskrifte wat vals inligting uitgee om sensasie te verwek, het julle ’n baie gebalanseerde beskouing gepubliseer. Ons bank gee die volgende raad aan winkeliers: ‘Hou ’n egte banknoot van elk. As jy twyfel, vergelyk die verdagte noot (papier, druk en watermerk) met die egte noot.’
L. G., Frankryk
Balans Dankie vir die artikel “Die godgegewe gawe van balans” (22 Maart 1996). Drie jaar gelede het ek agt weke lank aan vertigo gely. Aan die begin het ek gedink ek is die enigste persoon wat nog ooit aan hierdie kwaal gely het, aangesien ek nog nooit daarvan gehoor het nie. Julle artikel het my vertroos en getoon dat ander al hierdie probleem ondervind het en dit ook oorkom het.
D. P., Jamaika
Vlieë Dankie vir die baie interessante artikel “Daardie verpestelike vlieë—Nuttiger as wat jy dink?” (22 Maart 1996). Verlede somer het ek ’n bietjie navorsing oor vlieë gedoen, maar ek het glad nie bevredigende inligting gevind nie. Na my mening is hulle lastig en onhigiënies, net soos die artikel sê. Maar nou weet ek dat hulle iets nuttigs doen—anders sou ons Skepper hulle nie gemaak het nie. Ek waardeer die artikels wat julle uitgee baie.
T. G., Italië
Ek het so pas die artikel oor vlieë klaar gelees, en ek moes eenvoudig skryf. Ek het al baie keer skertsend vir mense gesê dat ek graag wil weet wat Jehovah in gedagte gehad het toe hy hierdie lastige diertjie geskep het. Nou weet ek dat die vlieg nie net op die aarde geplaas is om ons te pla nie!
P. P., Verenigde State