Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g96 12/8 bl. 28-29
  • Ons beskou die wêreld

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ons beskou die wêreld
  • Ontwaak!—1996
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die verlies aan maniere word betreur
  • Selfoongevaar
  • Nonne leer karate
  • Sonlig maak water skoon
  • Gespanne kinders
  • Bly langer slim
  • Buffelpokkies tref Indië
  • Nog ’n vals alarm
  • Nuwe waterweg
  • Die waarde van pi
  • ’n Uiters nuttige en ontwykende getal
    Ontwaak!—2000
  • Die Bybel verander lewens
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2012
  • Vraebus
    Ons Koninkryksbediening—2002
  • Ons beskou die Wêreld
    Ontwaak!—1995
Sien nog
Ontwaak!—1996
g96 12/8 bl. 28-29

Ons beskou die wêreld

Die verlies aan maniere word betreur

‘Onbeskoftheid, lummelagtige gedrag, slordige of parmantige kleredrag, vloektaal, kullery en die gebruik van brute krag het die lewe onvoorspelbaar, onrustig en onaangenaam gemaak’, sê The Times van Londen. In sommige lande is die doelbewuste verwaarlosing van persoonlike voorkoms hoog op die lys van onbeskofte gedrag. “Leerbaadjies, guerrillakopbande, gaatjies in die neus, leerstewels vol klinknaels en opsigtige tatoeëermerke is oorlogsverklarings”, sê Athena Leoussi, van Reading-universiteit. Volgens Athena is sulke klere ’n duidelike teken van minagting vir ander mense. The Times sê dat die ‘agteruitgang in beleefdheid, selfbeheersing en orde selfs ’n groter bedreiging vir die gemeenskap is as misdaad’. Wat is dan die oplossing? Maniere moet “in die raamwerk van die gesin gevorm” word, sê die koerant. “Dit kan nie net aan kinders verduidelik word nie; hulle moet dit uit voorbeelde leer.”

Selfoongevaar

’n Onlangse studie in Japan het bevestig dat radiogolwe wat van sellulêre telefone afkomstig is ernstige probleme met mediese toerusting in hospitale kan veroorsaak. “In een toets het ’n hart-long-masjien tot stilstand gekom toe ’n sellulêre telefoon 45 sentimeter daarvandaan gebruik is”, sê die Asahi Evening News. Navorsers het ook gevind dat die alarms van vloeistofoortappingspompe en pompe wat geneesmiddels teen kanker voorsien, afgegaan het wanneer ’n sellulêre telefoon binne 75 sentimeter van die toerusting af gebruik is. X-straalmasjiene en tonometers is ook beïnvloed. Met hierdie bevindings as grondslag beveel die Departement van Pos- en Telekommunikasiewese aan dat sellulêre telefone nie in operasiesale en waakeenhede ingeneem word nie. Volgens een opname reguleer ongeveer 25 mediese instellings in Tokio reeds die gebruik van sellulêre telefone, en 12 van hulle verbied sellulêre telefone heeltemal.

Nonne leer karate

In die lig van ’n toenemende bedreiging van geweld het ’n groep nonne van St. Anne’s Provinsialaat in Madhavaram, die staat Tamil Nadu, Suid-Indië, karatelesse begin neem. Shihan Hussaini, president van die Isshinryu-Karatevereniging vir die hele Indië, sê dat die nonne baie beter gevaar het as ander vroue wat hy in sy 24 jaar as ’n karate-instrukteur afgerig het. ‘Ek veronderstel dit het iets te doen met die latente energie en dissipline wat hulle het’, sê hy. Een van die voorwerpe wat die nonne geleer word om te gebruik, word die sein ko genoem. Dit lyk soos ’n kruis, en deur “hierdie voorwerp te gebruik, kan ’n mens selfs ’n aanrander doodmaak”, beweer Hussaini.

Sonlig maak water skoon

“Kanadese wetenskaplikes het ontdek dat gewone sonlig potensieel gevaarlike kwikverbindings in water afbreek”, berig The Globe and Mail, van Toronto. Navorsers van die Universiteit van Manitoba en die Varswaterinstituut van Winnipeg het bevind dat die water van ’n meer wat met dimetielkwik besoedel is en wat net ’n week lank aan sonlig blootgestel is ’n verlaging van 40 tot 66 persent in die dimetielkwikvlak gehad het. “Voor hierdie eksperiment het wetenskaplikes geglo dat dimetielkwik in mere slegs deur mikrobes afgebreek word”, sê die Globe. Die berig sê ook dat sonlig blykbaar “350 keer vinniger werk as die mikrobiese proses wat voorheen bekend was”.

Gespanne kinders

Die aantal kinders met maagsere en maagontsteking het binne tien jaar verdubbel, sê die Brasiliaanse koerant O Estado de S. Paulo. Hierdie bevindings, wat gebaseer is op ’n studie deur die Universiteit van Sao Paulo, dui op emosionele spanning as een van die vernaamste faktore. “Maatskaplike druk word in die kind se emosionele samestelling weerspieël, . . . in so ’n mate dat dit siekte veroorsaak”, sê gastroënteroloog Dorina Barbieri. Die koerant het verder ’n aantal faktore genoem wat tot spanning by kinders bydra, waaronder gesinskonflikte, ongelukke of sterftes in die gesin, perfeksionisme, ’n ongebalanseerde dieet, ’n gees van mededinging en ’n gebrek aan vrye tyd.

Bly langer slim

Wil jy tot diep in jou seniorjare vlug van verstand wees? “Moenie jou opvoeding verwaarloos nie, bly liggaamlik aktief en beskerm jou longe”, sê die tydskrif American Health. “Daar is dinge wat ons kan doen om die moontlikheid te vergroot dat ons ons verstandelike vermoëns sal behou”, beweer Marilyn Albert, ’n neuropsigoloog aan die Mediese Fakulteit van die Harvard-universiteit. Dr. Albert reken dat opvoeding op die een of ander manier die “brein se struktuur verander” om te voorkom dat verstandelike vaardighede met die ouderdom afneem. Daarbenewens word daar vermoed dat liggaamlike bedrywigheid dalk die bloedtoevoer na die brein verbeter en dit van meer suurstof voorsien. Dr. Albert stel dus voor: “Stap daagliks, lees ten minste een nuwe boek per maand en as jy rook, moet jy jou longe (en brein) ’n blaaskans gee deur op te hou.”

Buffelpokkies tref Indië

Volgens ’n berig in The Times of India is buffelpokkies, wat veroorsaak word deur ‘’n virus wat tot dieselfde groep as die pokke-virus behoort’, in die Beed-streek in die weste van Indië ontdek. Hoewel dié pokkies nie so ernstig soos pokke is nie, is wetenskaplikes nietemin besorgd oor die verspreiding daarvan. “Die virus moet baie fyn dopgehou word”, sê dr. Kalyan Banerjee, direkteur van die Nasionale Instituut vir Virologie. “Ons weet nie hoe ernstig dit is nie.” ’n Groot bekommernis is die moontlikheid dat die pokkies in afgeleë plattelandse gebiede sal versprei waar daar min mediese fasiliteite is. By mense veroorsaak buffelpokkies hoë koors, swelling van die limfkliere, veelvuldige pokmerke op die liggaam en algemene swakheid.

Nog ’n vals alarm

“Daar is verlede jaar ’n groot deurbraak gemaak wat die soektog na buiteaardse wesens betref”, het die tydskrif New Scientist berig. Navorsers wat vir die SETI-instituut, in Mountain View, Kalifornië, werk, “het gereelde seine opgevang wat onweerlegbare bewyse van intelligente lewe voorsien het”. Ná verdere ondersoek het die span egter gevind dat die radioseine “nie van buiteaardse wesens gekom het nie, maar van die mikrogolfoond op die onderste verdieping”. Dit is nie die eerste keer dat die SETI-instituut teleurgestel is nie, sê New Scientist. Navorsers wat die lug in Australië bespied, het gevind dat “die meeste van die vals alarms seine vanaf satelliete was”. ’n Woordvoerder vir die SETI-instituut het onlangs aan die Amerikaanse Sterrekundige Vereniging erken dat al die radioseine wat in 1995 deur SETI opgevang is “van ons eie tegnologie afkomstig” was.

Nuwe waterweg

’n Nuwe waterweg wat meer as 3450 kilometer suidwaarts van die Brasiliaanse stad Caceres af tot by die Rio de la Plata in Argentinië sal strek, word beoog. Dit sal die Parana- en Paraguayrivier met mekaar verbind. Die waterweg, of hidrovia, sal slegte paaie van duisende kilometers vermy en sal dit makliker maak om sojabone, katoen, graan, ystererts, kalk, mangaan en ander vragte na buitelandse markte te vervoer. Die hidrovia is ’n gesamentlike projek waarby Argentinië, Brasilië, Paraguay, Uruguay en Bolivia, wat deur land omring word, betrokke is. Volgens The Economist “beskou ontwikkelaars dit as ’n Suid-Amerikaanse Mississippi, wat goedere vervoer na en van die hartland van ’n halfvasteland wat gereed is om te floreer”.

Die waarde van pi

Pi, soos baie van ons op skool geleer het, is die verhouding tussen die omtrek en die middellyn van ’n sirkel. Die meeste mense is tevrede om met pi se benaderde waarde van 3,14159 te werk, maar pi is nie ’n presiese getal nie, en daarom is die desimale waarde daarvan oneindig. In die 18de eeu is ’n waarde bepaal wat tot 100 desimale noukeurig was, en in 1973 het twee Franse wiskundiges ’n miljoen desimale behaal. Nou het Jasoemasa Kanada, van die Universiteit van Tokio in Japan, die waarde, met behulp van ’n rekenaar, tot meer as sesmiljard desimale uitgewerk. Die syfer het geen denkbare nut nie, aangesien “slegs 39 desimale voldoende is om die omtrek van ’n sirkel wat die bekende heelal omring tot binne die straal van die waterstofatoom uit te werk”, sê The Times van Londen. Professor Kanada het gesê hy geniet dit om pi uit te werk “omdat dit daar is”. Maar moenie sy resultaat probeer opsê nie. “Teen een syfer per sekonde, sonder om op te hou, sal dit ongeveer 200 jaar duur”, sê The Times.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel