Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g01 8/8 bl. 26-27
  • Die dagboek—’n Betroubare vriend

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die dagboek—’n Betroubare vriend
  • Ontwaak!—2001
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Wat is die aantrekkingskrag van die dagboek?
  • Hoe begin ek?
  • Van ons lesers
    Ontwaak!—2002
  • Preek jy vir alle soorte mense?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe)—2017
  • Inhoudsopgawe
    Ontwaak!—2001
  • Ontwaak! help om ’n ongebore kind te red
    Ontwaak!—2010
Sien nog
Ontwaak!—2001
g01 8/8 bl. 26-27

Die dagboek—’n Betroubare vriend

’N DAGBOEK kan ’n vertroude metgesel en ’n simpatieke vriend in ’n onsimpatieke wêreld wees. ’n Dagboek “laat ons toe om ’n versameling stillewes agter te laat wat ons persoonlike reise op skrif stel”, sê die skryfster Christina Baldwin. Soos ’n fotoalbum wat ’n visuele geskiedenis van ons verlede is, voorsien ’n dagboek ons van geskrewe “kiekies” wat die verloop van ons lewe openbaar en bewaar.

In Bybeltye het regerings dikwels rekord gehou van belangrike gebeure. Die Bybel self verwys na verskeie van hierdie amptelike verslae (Numeri 21:14, 15; Josua 10:12, 13). Die Grieke het ’n soort almanak ontwikkel wat ephemeridesa genoem word, waarop hulle die daaglikse bewegings van die sterre en die planete aangeteken het. Die Romeine, wat Griekeland verower het, het die gebruik van hierdie joernale oorgeneem, maar met hulle kenmerkende praktiese geaardheid het hulle die waarde daarvan verhoog deur daaglikse gebeure in te sluit wat in die gemeenskap of publiek se belang was. Hulle het dit diarium genoem, wat kom van die Latynse dies, wat “dag” beteken.

Dit was egter eers in die 17de eeu, toe die joernaal van die Engelsman Samuel Pepys geskryf is, dat die dagboek in Westerse lande gewild geword het as ’n bewaarplek van private alledaagse gebeure. Pepys se dagboek, wat ’n ongewone vermenging van vroomheid en wêreldsheid bevat, het geskiedkundiges een van die insigrykste beskrywings van lewe onder die Engelse koning Karel II gegee.

Om ’n joernaal te hou, het sedertdien al hoe gewilder geword. Baie dagboeke het selfs waardevolle geskiedkundige dokumente geword. ’n Besonderse geval is die joernaal van ’n jong Joodse meisie wat vir die Nazi’s weggekruip het. Anne Frank se Diary of a Young Girl is ’n pynlike bewys van hoe wreed mense teenoor hulle medemens kan wees.

Wat is die aantrekkingskrag van die dagboek?

Om in ’n joernaal te skryf, voorsien blykbaar in ’n basiese menslike behoefte—om uitdrukking te gee aan ’n mens se innerlike gevoelens. Hetsy ons skryf oor ons vreugde wanneer ’n baba sy eerste woorde sê of die ontwikkeling van ’n liefdevolle verhouding, ’n dagboek gee ons die geleentheid om na te dink oor die gebeure wat ons lewe vorm. Wanneer ons die inskrywings later lees, kan ons daardie kosbare oomblikke en die gevoelens wat dit gewek het, herleef.

Een van die dagboek se grootste voordele is dat dit ons kan help om onsself te leer ken. Die skryfster Tristine Rainer noem dit “’n praktiese sielkundige hulpmiddel om jou gevoelens sonder enige inhibisie uit te druk”.

Die Bybel sê in Spreuke 12:25: “Bekommernis in die hart van ’n mens druk dit neer.” As ’n persoon huiwer om met iemand oor sy “bekommernis” te praat, kan ’n alternatief wees om dit neer te skryf. Om in ’n joernaal te skryf, word dus dikwels aanbeveel as ’n nuttige hulpmiddel om emosionele pyn te verwerk. ’n Dagboek kan gebruik word om oor jou lewe na te dink, nuwe doelwitte te stel en miskien oplossings vir probleme te vind. Wanneer ’n mens oor jou probleme en gevoelens skryf, kan dit jou help om jou gedagtes op die werklike kwessies gerig te hou en dit nugter te beskou.

Die hou van ’n dagboek kan ook ’n opvoedkundige hulpmiddel wees. Die Amerikaanse Federasie van Onderwysers gee hierdie raad aan ouers: “Moedig julle kinders aan om ’n dagboek te hou. Om in ’n joernaal te skryf, ontwikkel skryfvaardighede en skeppingsvermoë.”

Hoe begin ek?

Vind eerstens ’n stil plek, asook ’n joernaal of notaboekie waarvan jy hou. ’n Leë bladsy wat wag om gevul te word, kan weliswaar nogal afskrikwekkend wees. Maar die sleutel is om eerlik en spontaan te wees en dit eenvoudig te hou. Jy kan jou vrae vra soos: ‘Wat het ek vandag gedoen? Hoe het dit my geraak? Wat het ek geëet? Wie het ek gesien? Wat gebeur in die lewens van diegene vir wie ek omgee?’ Of jy kan met die hede begin en vra: ‘Waar is ek op hierdie tydstip in my lewe? Wat is my doelwitte? My drome?’ Skryf dan vryelik sonder om krities te wees.

Skryf soveel of so min soos jy wil. Skryf so dikwels of so selde soos jy wil. Wees openhartig en eerlik. Moet jou nie oor grammatika of spelling bekommer nie. Niemand anders sal jou werk sien nie. Jy kan miskien probeer om foto’s, koerantuitknipsels of enigiets anders wat vir jou belangrik is, daarin te plak. Dit is jou boek. Dit kan netjies of slordig, klein of groot wees. En jy hoef net te skryf wanneer jy wil. As dit ’n dwingende plig word om ’n dagboek te hou, sal jy misluk en teleurgesteld wees.—Sien venster.

Net soos ’n wetenskaplike ’n joernaal kan gebruik om veranderinge in ’n organisme wat hy bestudeer, waar te neem en aan te teken, kan ’n dagboek jou help om jou eie gedragspatrone en neigings in jou lewe waar te neem en te bestudeer. Jou joernaal sal jou vreugdes, jou hartseer, jou swakhede en jou sterk punte openbaar. Dit sal jou vermoë verbeter om jou gevoelens uit te druk. Dit verg weliswaar toegewydheid om ’n dagboek te hou, maar sulke toegewydheid kan ryk belonings meebring.—Bygedra.

[Voetnoot]

a Van die Grieks ephemeros, wat “hou vir een dag” beteken.

[Venster op bladsy 27]

Wenke om te begin

◆ Kies ’n joernaal wat duursaam is en miskien ook maklik is om te dra.

◆ Vind ’n stil tyd en ’n plek waar jy alleen kan wees. Skryf die datum by elke inskrywing.

◆ Moenie bekommerd wees as jy ’n paar dae oorslaan nie; gaan net aan waar jy opgehou het.

◆ Moenie jou werk kritiseer nie. Skryf wat jy wil en laat die woorde natuurlik kom. Skryf besonderhede neer—moenie net veralgemeen nie.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel