Die aantrekkingskrag van syfers
STEL jou ’n wêreld sonder syfers voor. Daar sou geen geld wees nie. Ruilhandel van aangesig tot aangesig sou die enigste manier wees om sake te doen. En wat van sport? Sonder syfers sou dit nie net onmoontlik wees om telling te hou nie, maar ons sou nie eers kon bepaal hoeveel spelers daar in elke span moet wees nie!
Maar behalwe vir die praktiese waarde van syfers word dit ook in geheimsinnigheid gehul. Dit is omdat syfers abstrak is. Jy kan nie syfers sien, voel of daaraan raak nie. Ter toeligting: ’n Appel het ’n definitiewe kleur, tekstuur, grootte, vorm, reuk en smaak. Jy kan elkeen van hierdie eienskappe nagaan om te sien of ’n sekere voorwerp wel ’n appel, ’n suurlemoen, ’n bal of iets anders is. Maar ’n syfer is anders. Een versameling van sewe items het dalk niks in gemeen met ’n ander versameling van sewe items nie—behalwe die feit dat daar sewe van albei is. As ’n mens dus die betekenis van syfers verstaan—byvoorbeeld hoe ses en sewe van mekaar verskil—het jy inderdaad iets baie abstraks begryp. En dit is hier waar mense ’n mistieke betekenis aan syfers begin heg.
Van Pitagoras tot skynwetenskap
Onder antieke gemeenskappe was dit ’n algemene gebruik om spesiale betekenis aan syfers te heg. Pitagoras, ’n Griekse filosoof en wiskundige wat gedurende die sesde eeu v.G.J. gelewe het, het geleer dat alles in numeriese patrone uitgedruk kan word. Hy en sy volgelinge het geredeneer dat die ganse heelal ’n toonbeeld van orde en volmaakte proporsies is. Is dit dan nie moontlik dat wiskundige verhoudings ’n inherente deel van alle stoflike dinge is nie?
Sedert Pitagoras se tyd is die interpretasie van syfers gebruik om voorspellings te maak, drome uit te lê en om as geheuehulpe te dien. Dit is deur die Grieke, Moslems en lede van die Christendom gebruik. Joodse Kabbaliste het ’n numerologiese stelsel gehad wat gematria genoem word, waarvolgens hulle ’n numeriese waarde aan elk van die 22 letters van die Hebreeuse alfabet toegewys het en op hierdie manier glo verskuilde betekenisse in die Hebreeuse Geskrifte gevind het.
Hedendaagse numerologie is soortgelyk hieraan. Jou naam en geboortedatum sal dikwels die beginpunt wees. ’n Numeriese waarde word aan elke letter in jou naam toegewys. Deur dit bymekaar te tel—saam met die syfers van jou geboortemaand en -dag—bepaal ’n numeroloog jou sleutelsyfers. Hy gee dan spesiale betekenis aan hierdie syfers, wat hy meen ’n volledige beskrywing van jou is—insluitende jou persoonlikheid, jou onbewuste begeertes en jou lot.
Dalk lê die eintlike aantrekkingskrag van numerologie in die skynbare akkuraatheid van die afleidings wat met behulp daarvan gemaak word. “Baie mense glo in numerologie omdat hulle gesien het hoe goed die syfers pas by die persone op wie dit toegepas word”, skryf Edward Albertson in sy boek Prophecy for the Millions. Maar numerologie is ook al ’n skynwetenskap genoem. Waarom? Het jy rede om die bewerings wat dit maak, te bevraagteken?
[Venster/Prente op bladsy 5]
Verskuilde Boodskappe In Die Bybel?
In sy boek The Bible Code het die joernalis Michael Drosnin beweer dat hy verskuilde boodskappe ontdek het deur rekenaarontleding van die Hebreeuse Geskrifte. Volgens Drosnin se bewerings het die “kode” die woorde “sluipmoordenaar wat ’n sluipmoord sal pleeg” saam met die naam Yitzhak Rabin opgelewer—en dit is ’n jaar voor die moord op Rabin, Israel se eerste minister, gevind.
Soos verwag is, het The Bible Code heelwat reaksie uitgelok. Dave Thomas, ’n wiskundige en fisikus, het bewys dat rekenaarontleding van enige teks boodskappe met skynbaar verborge betekenisse sal vind. Thomas het Drosnin se eie teks ontleed en die woorde “kode”, “dom” en “kullery” gevind. “Verskuilde boodskappe kan oral gevind word”, sê Thomas, “as jy bereid is om die tyd te neem en moeite te doen om deur al die moontlikhede vir boodskappe te soek.”
Aangesien ’n rekenaar die vermoë het om ’n onbeperkte aantal berekeninge te doen, sal dit waarskynlik sekere kombinasies van letters vind wat as een of ander voorspelling gebruik kan word. Maar dit is blote toeval en bewys nie dat die Bybel verskuilde boodskappe bevat nie.a
[Voetnoot]
a Sien Die Wagtoring van 1 April 2000, bladsye 29-31, vir meer inligting.
[Prent op bladsy 4]
Pitagoras het geleer dat daar numeriese patrone in alles is
[Erkenning]
Courtesy National Library of Medicine