Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g 1/08 bl. 11-14
  • Van vissersdorpie tot wêreldstad

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Van vissersdorpie tot wêreldstad
  • Ontwaak!—2008
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Van vissersdorpie tot stad van die sjogoen
  • Van die swaard tot die abakus
  • Van Edo tot Tokio
  • Die stad verrys uit die as
  • Die Tokio-gesindheid leef voort
  • Waarom moet jy ontvanklik wees vir nuwe idees?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
  • “Die stad wat vol mense was”
    Ontwaak!—1994
  • ’N Besoek aan Japan se warmbronne
    Ontwaak!—2004
  • Van keiseraanbidding tot ware aanbidding
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
Sien nog
Ontwaak!—2008
g 1/08 bl. 11-14

Van vissersdorpie tot wêreldstad

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN JAPAN

OP ’N pragtige somersdag in Augustus 1590 het Iejasoe Tokoegawa (regs), wat later die eerste Tokoegawa-sjogoena geword het, in die vissersdorpie Edo in die oostelike deel van Japan aangekom. Op daardie stadium het “Edo slegs ’n paar honderd armsalige huisies gehad, wat aan kleinboere en vissermanne behoort het”, sê die boek The Shogun’s City—A History of Tokyo. Nie ver van daar af nie het ’n verwaarloosde vesting gestaan wat meer as ’n eeu vroeër gebou is.

Hierdie dorpie, wat eeue lank vir die res van die wêreld onbekend was, sou nie net Tokio, die hoofstad van Japan, word nie, maar ook groei tot ’n bedrywige megastad—meer as 12 miljoen mense woon in Tokio se metropolitaanse prefektuur. Tokio sou mettertyd ’n wêreldmag op die gebied van tegnologie, kommunikasie, vervoer en die handel word, sowel as die tuiste van vooraanstaande finansiële instellings. Hoe het hierdie verstommende transformasie plaasgevind?

Van vissersdorpie tot stad van die sjogoen

Ná 1467 het oorloë tussen feodale landhere Japan meer as ’n eeu lank in ’n aantal feodale gebiede verdeel. Uiteindelik het Hidejosji Tojotomi, ’n feodale landheer van nederige herkoms, die nasie gedeeltelik herenig en in 1585 die keiserregent geword. Iejasoe het aanvanklik teen die magtige Hidejosji geveg, maar later het hulle hulle kragte saamgesnoer. Hulle het saam die kasteel by Odawara, die vesting van die magtige Hōjō-stamgroep, beleër en ingeneem en het sodoende die Kanto-streek in die oostelike deel van Japan verower.

Hidejosji het vir Iejasoe agt provinsies in Kanto gegee, ’n uitgestrekte gebied wat voorheen hoofsaaklik Hōjō-gebied was, en het Iejasoe dus ooswaarts van sy oorspronklike gebied verplaas. Dit was blykbaar ’n strategiese skuif om Iejasoe ver van Kioto af te hou, waar die keiser—die nominale heerser van Japan—gewoon het. Iejasoe het nietemin ingestem en in Edo aangekom, soos aan die begin beskryf is. Hy het begin om hierdie nederige vissersdorpie in die hoofstad van sy gebied te omskep.

Ná Hidejosji se dood het Iejasoe ’n gesamentlike leërmag, meestal van die oostelike deel van Japan, teen magte van die westelike deel aangevoer, en in 1600 het hy binne een dag die oorwinning behaal. Iejasoe is in 1603 as sjogoen aangestel en het die de facto-heerser van die nasie geword. Edo het toe die nuwe administratiewe sentrum van Japan geword.

Iejasoe het feodale landhere beveel om mannekrag en materiaal te voorsien om ’n ontsaglike kasteel te voltooi. Op een stadium is sowat 3 000 vaartuie gebruik om die enorme blokke graniet te vervoer wat uit die kranse van die Izoe-skiereiland, omtrent 100 kilometer suidwaarts, gekap is. Toe die graniet in die hawe afgelaai is, moes ’n span van honderd man of meer die blokke na die bouterrein sleep.

Die kasteel, by verre die grootste in Japan, is 50 jaar later voltooi, gedurende die heerskappy van die derde sjogoen, en was ’n indrukwekkende simbool van die oorweldigende Tokoegawa-bewind. Die samoerai, of krygsmanne, wat die sjogoen gedien het, het hulle om die kasteel gevestig. Die sjogoen het vereis dat die feodale landhere herehuise in Edo onderhou, bo en behalwe die kastele in hulle eie gebied.

Om in die behoeftes van die kernbevolking van samoerai te voorsien, het florerende groepe handelaars en vakmanne van regoor die land na Edo getrek. Teen 1695—ongeveer ’n eeu nadat Iejasoe in die gebied aangekom het—het Edo se bevolking gegroei tot eenmiljoen! Dit het die wêreld se grootste stad van daardie tyd geword.

Van die swaard tot die abakus

Die sjogoen-regering het die vrede so doeltreffend bewaar dat die krygsmansklas nie juis veel gehad het om te doen nie. Die samoerai was natuurlik nog steeds trots op hulle beroep, maar die mag van die swaard is geleidelik vervang deur dié van die abakus, die telraam wat in die Ooste gewild was. ’n Tydperk van vrede het meer as 250 jaar lank voortgeduur. Burgerlikes oor die algemeen, veral die handelaars, was materieel voorspoedig en het groter onafhanklikheid geniet. ’n Unieke kultuur het ontwikkel.

Die bevolking het die beroemde Kaboeki-opvoerings (historiese dramas), Boenrakoe (poppeteater) en rakoego (komiese vertellings) na hartelus geniet. Gedurende die warm somersaande het mense bymekaargekom op die oewers van die koel Soemidarivier, waar Edo geleë was. Hulle het ook na vuurwerkvertonings gekyk, ’n gewilde tradisie wat tot vandag toe nog bestaan.

Edo het egter vir die res van die wêreld onbekend gebly. Die nasie is meer as 200 jaar lank verbied om kontak met uitlanders te hê, met die uitsondering van—en in ’n baie beperkte mate—die Nederlanders, die Chinese en die Koreane. Toe, op ’n dag, het ’n onverwagte gebeurtenis die stad en die nasie verander.

Van Edo tot Tokio

Vreemde vaartuie waaruit swart rook uitborrel, het skielik naby die kus van Edo verskyn. Verbysterde vissermanne het gedink dat dit drywende vulkane is! Vergesogte gerugte het deur Edo versprei en het ’n massa-uittog tot gevolg gehad.

Daardie vaartuie, ’n vloot van vier skepe onder leiding van kommodoor Matthew C. Perry van die Amerikaanse Vloot, het op 8 Julie 1853 in Edo-baai anker gegooi (links). Perry het die sjogoen-regering versoek om Japan oop te stel vir handel met sy land. Met Perry se besoek het die Japannese gesien hoe ver Japan agter die res van die wêreld was in terme van militêre en tegnologiese ontwikkeling.

Dit het ’n reeks gebeure aan die gang gesit wat gelei het tot die val van die Tokoegawa-bewind en die herstel van keiserlike heerskappy. Edo is in 1868 hernoem tot Tokio, wat “Oostelike Hoofstad” beteken en dui op die stad se ligging in verhouding tot Kioto. Die keiser het verhuis van die paleis in Kioto na die Edo-kasteel, wat later in die nuwe Keiserlike Paleis omskep is.

Die nuwe regering het Japan onder die invloed van Westerse kultuur begin moderniseer. Daar was ’n groot agterstand om in te haal. Party verwys na hierdie tydperk as wonderbaarlik. In 1869 is ’n telegraafdiens tussen Tokio en Jokohama ingestel. Kort hierna is die eerste spoorweg gelê om die twee stede te verbind. Baksteengeboue het vinnig tussen die houthuise opgegaan. Banke, hotelle, afdelingswinkels en restaurante is gebou. Die eerste universiteite is gestig. Geplaveide strate het grondpaaie vervang. Wielstoombote het op en af met die Soemidarivier langs gevaar.

Selfs die mense het anders gelyk. Die meeste het tradisionele kimono’s gedra, maar al hoe meer Japannese het Westerse klere begin dra. Mans met snorre het keile opgesit en wandelstokke gebruik, terwyl party van die vroue, in elegante rokke, geleer het om te wals.

Bier het net so gewild soos saki geword, en bofbal het met soemo-stoei begin meeding as die nasie se gunstelingsport. Tokio het, soos ’n reusespons, die kulturele en politieke idees van die dag geabsorbeer en dit sy eie gemaak. Die stad het bly groei—totdat ’n ramp dit eendag getref het.

Die stad verrys uit die as

Op 1 September 1923, terwyl baie hulle middagete voorberei het, het ’n geweldige aardbewing die Kanto-gebied geskud, gevolg deur honderde kleiner naskokke, insluitende ’n hewige skudding 24 uur later. Hoewel die skade weens die aardbewing verwoestend was, was die brande wat daardeur veroorsaak is, selfs meer vernietigend en het dit groot dele van Tokio afgebrand. Altesaam het meer as 100 000 mense gesterf, waarvan 60 000 in Tokio was.

Die inwoners van Tokio het die enorme taak aangepak om hulle stad te herbou. Nadat die stad tot ’n mate herstel het, moes dit verdere groot aanslae verduur—lugaanvalle gedurende die Tweede Wêreldoorlog. Wat veral verwoestend was, was die nagenoeg 700 000 bomme wat op die nag van 9/10 Maart 1945, van middernag tot ongeveer drie-uur in die oggend, geval het. Die geboue was meestal van hout, en die bomme—napalmbomme en nuwe soorte brandbomme wat magnesium en petrol in jelvorm bevat het—het die oorbevolkte middestad aan die brand laat slaan en meer as 77 000 mense om die lewe gebring. Dit was die vernietigendste bomaanval met niekernwapens in die geskiedenis.

Ten spyte van hierdie vreeslike gebeurtenis het Tokio ná die oorlog op ’n ongeëwenaarde wyse uit die as verrys en is dit herbou. Teen 1964, minder as 20 jaar later, het die stad in so ’n mate herstel dat die Olimpiese Somerspele daar aangebied kon word. Die afgelope vier dekades is gekenmerk deur voortdurende konstruksie namate die betonoerwoud sy tentakels sywaarts en opwaarts uitgestoot het.

Die Tokio-gesindheid leef voort

Die stad wat nou as Tokio bekend staan, is op 400-jarige ouderdom geensins oud wanneer dit met ander groot stede van die wêreld vergelyk word nie. Hoewel die atmosfeer in party dele van die stad ’n mens aan vervloë dae laat dink, het daar oor die algemeen baie min geboue en strukture oorgebly wat ’n weerspieëling van die verlede is. ’n Nadere kykie na die stad onthul egter ’n patroon wat sy oorsprong in die dae van eertydse Edo het.

In die middel van hierdie wêreldstad is ’n groot parkgebied. Die Keiserlike Paleis en die omliggende terrein is nou op presies dieselfde plek waar die oorspronklike Edo-kasteel was. Hiervandaan loop die hoofpaaie in ’n straalpatroon uit die stad uit, soos die drade van ’n spinnekop se web, wat die basiese patroon van Edo weerspieël. Selfs die wanordelike uitleg van die strate wat ’n doolhof regdeur die stad vorm, herinner aan tonele uit die ou Edo. Trouens, die meeste strate het nie eens name nie! In plaas van die skaakbordpatroon waarvolgens blokke in ander groot stede van die wêreld gerangskik is, het Tokio genommerde erwe van verskillende vorme en groottes.

Maar bowenal is dit die Tokio-gesindheid wat behoue gebly het—die vermoë om die nuwe, veral die vreemde, te absorbeer, en die veerkragtigheid en vasbeslotenheid om vooruit te beweeg ten spyte van aardbewings, ’n uitgerekte ekonomiese resessie en die uitdagings wat oorbevolking meebring. Kom en ervaar self die polsende atmosfeer van Tokio—die klein vissersdorpie wat uit onbekendheid verrys het en ’n belangrike internasionale stad geword het.

[Voetnoot]

a Die sjogoen was volgens erfreg die bevelvoerder van die Japannese leër en het onder leiding van die keiser absolute gesag uitgeoefen.

[Kaart op bladsy 11]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

JAPAN

TOKIO (Edo)

Jokohama

Kioto

Osaka

[Prent op bladsy 12, 13]

Tokio vandag

[Erkenning]

Ken Usami/photodisc/age fotostock

[Foto-erkenning op bladsy 11]

© The Bridgeman Art Library

[Foto-erkenning op bladsy 13]

The Mainichi Newspapers

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel