‘Ek het met trane gesaai en met gejubel gemaai’
Soos vertel deur Mijo Idei
“Ek gaan dood! Ek gaan dood! Help my!” My pa het dit met groot inspanning uitgeroep. Sy stem het deur die lug weergalm toe ek by die huis uitgestorm het. Dit was middernag, en my pa was besig om ’n hartaanval te kry. Ek het na my oom wat daar naby gewoon het, gehardloop, maar toe ons terugkom, kon Pa se polsslag nie meer gevoel word nie.
DIT het op 14 Desember 1918 gebeur. Ek was op 13 ouerloos. My ma is dood toe ek sewe jaar oud was. Omdat ek my ouers so vroeg in my lewe verloor het, het ek begin wonder: ‘Waarom sterf mense? Wat gebeur ná die dood?’
Nadat ek my diploma aan ’n onderwyskollege verwerf het, het ek ’n onderwyseres in Tokio geword en by die Sjinagawa-Laerskool skoolgehou. ’n Kennis het my later aan ’n jong man, Motohiro, voorgestel met wie ek op 22 getroud is. Ons het die afgelope 64 jaar die soet en die suur van die lewe gedeel. Kort ná ons troue het ons na Taiwan verhuis, wat toe onder Japannese bewind was. Ek het op daardie tydstip geen idee gehad dat ek in daardie land rede sou vind om te jubel nie.
Ons leer die waarheid
In die lente van 1932, terwyl ons in die buitewyke van Tsjiai in die sentrale deel van Taiwan gewoon het, het ’n man genaamd Saboero Otsjiai ons besoek. Hy het daarop gewys dat Bybelprofesieë die belofte van ’n opstanding van die dooies insluit (Johannes 5:28, 29). Wat ’n wonderlike vooruitsig! Ek wou my ma en pa so graag weer sien. Die logiese redenasies, billike verduidelikings en gegronde Bybelse bewyse het sy woorde na die waarheid laat klink. Die tyd het gevlieg terwyl ons die hele dag aan ’n bespreking van die Bybel bestee het. Dit het skielik vir my ’n aantreklike boek geword.
Mnr. Otsjiai is kort daarna weg na ’n ander plek en het boeke by ons gelaat soos Creation, Die harp van God, Government, Prophecy, Lig en Reconciliation, wat almal deur die Watch Tower Bible and Tract Society uitgegee is. Ek het in hulle verdiep geraak, en terwyl ek hulle gelees het, het ek die drang ondervind om ander te vertel wat ek gelees het. Aangesien Jesus sy bediening in sy tuisdorp Nasaret begin het, kon ek mos maar begin waar ek woon. Ek het my naaste bure besoek. Niemand het my geleer hoe om te preek nie, en ek het dus met my Bybel en die boeke wat ek gelees het van huis tot huis gegaan en so goed as wat ek kon, gepreek. Die mense het gunstig gereageer en tydskrifte geneem. Ek het Todaisja, soos die Wagtoringgenootskap destyds in Japan genoem is, gevra om vir my 150 eksemplare van die boekie Die Koninkryk, die hoop van die wêreld te stuur en ek het hulle versprei.
Eendag het iemand wat lektuur geneem het vir my gesê dat die polisie daar opgedaag het net nadat ek weg is en die boeke gekonfiskeer het. Kort daarna het vier speurders na my huis toe gekom en al my boeke en tydskrifte gekonfiskeer. Hulle het net die Bybel agtergelaat. Ek het vyf jaar lank nie een van Jehovah se mense teëgekom nie, maar die vlam van die waarheid het steeds in my hart gebrand.
Toe breek Desember 1937 aan! Twee kolporteurs uit Japan het ons besoek. Ek het verbaas gevra: “Hoe het julle van ons te hore gekom?” Hulle het gesê: “Ons het julle name hier op ons lys.” Jehovah het ons onthou! Die twee Getuies, Joriitsji Oe en Josjioetsji Kosaka, het sowat 240 kilometer van Taipei na Tsjiai met ou fietse gery met hulle besittings hoog agterop gestapel. Terwyl hulle met ons gepraat het, het ek gevoel soos die Ethiopiese hofdienaar wat gesê het: “Wat verhinder my om gedoop te word?” (Handelinge 8:36). Ek en my man is daardie selfde aand wat hulle daar aangekom het, gedoop.
Ons sien om na broers in die gevangenis
Jehovah se Getuies in Japan is in 1939 skielik op groot skaal gearresteer. Die vlaag van vervolging het Taiwan gou bereik. Broer Oe en broer Kosaka is albei in April gearresteer. Ons is twee maande later ook gearresteer. Aangesien ek ’n onderwyseres was, is ek die volgende dag vrygelaat, maar my man is vier maande lank gevange gehou. Nadat my man vrygelaat is, het ons na Taipei verhuis. Dit het goed uitgewerk, want ons was nou nader aan die gevangenis waar die twee broers gevange gehou is.
Die Taipei-gevangenis was ’n gevangenis met streng veiligheidsmaatreëls. Ek het klere en kos geneem en die broers gaan besoek. Broer Kosaka, asook ’n bewaarder en ’n speurder, het eerste agter ’n maasdraadvenster van 30 vierkante sentimeter verskyn. Hy was bleek en sy lippe was so rooi soos vars aarbeie. Hy het tering opgedoen.
Daarna het broer Oe met ’n glimlag op sy gesig uitgekom en vrolik herhaal: “Dis wonderlik dat jy kon kom.” Omdat sy gesig geel en geswel was, het ek hom gevra hoe dit met sy gesondheid gaan. “Dit gaan baie goed met my!” het hy geantwoord. “Dit is ’n baie goeie plek. Hier is geen weeluise of luise nie. Ek kry selfs bokwietnoedels om te eet. Dit is net soos ’n villa”, het hy gesê. Die polisieman en die bewaarder kon hulle lag nie hou nie en het gesê: “Ons kan hierdie Oe-kêrel net nie onderkry nie.”
Weer in die gevangenis
Omstreeks middernag, 30 November 1941, ’n paar dae nadat ek die broers besoek het, was daar ’n gehamer aan die deur. Ek het die spitsvormige silhoeëtte van hoede deur die glasskuifdeur gesien. Ek het agt van hulle getel. Hulle was polisiemanne. Hulle het met geweld in die huis ingestorm en elke ding in die huis omgekeer—maar dit was alles tevergeefs. Nadat hulle die huis ’n uur lank gefynkam het, het hulle ’n paar foto-albums gekonfiskeer en vir ons gesê om saam met hulle te kom. Ek het onthou dat Jesus in die middel van die nag gearresteer is (Mattheüs 26:31, 55-57; Johannes 18:3-12). Die gedagte dat agt mans so ’n bohaai opskop oor die twee van ons was vir my baie amusant.
Ons is na ’n groot, donker, onbekende gebou geneem. Ons het later uitgevind dat dit die Taipei Hitsjisei-gevangenis was. Hulle het ons voor ’n groot lessenaar laat sit en die ondervraging het begin. Hulle het oor en oor gevra: “Wie ken julle?” en ons het albei geantwoord: “Ek ken niemand nie.” Hoe kon ons die broers op die Japannese vasteland ken? Ons het net broer Oe en broer Kosaka geken en ons het enige ander name wat ons terloops gehoor het, verswyg.
Dit was spoedig vyfuur die oggend en twee speurders het my na my sel geneem. Ek kon nie gou aan die nuwe omgewing gewoond raak nie. Vir die eerste keer in my lewe het ek met weeluise te doen gekry. Hierdie klein insekte, vasbeslote om aan nuwelinge te smul, het my onophoudelik verpes en die ander twee vroue in die sel uitgelos—ten spyte daarvan dat ek dié doodgedruk het wat in my rigting gekom het. Ek het uiteindelik tou opgegooi en hulle aan my laat smul.
Ons kos was ’n koppie halfgaar, waterige rys, maar my mond het bly dink dat dit rou rys is. Ons het daarmee saam ’n paar gesoute daikon-blare (Japannese radysblare) gekry, waaraan daar nog sandkorreltjies was. Ek kon die kos aanvanklik nie inkry nie omdat dit sleg geruik het en vuil was, en die ander gevangenes het dit kom eet. Ek het my natuurlik geleidelik daarby aangepas sodat ek aan die lewe kon bly.
Die lewe in die gevangenis was vreeslik. Ek het eenkeer ’n man wat van spioenasie verdink is dag na dag hoor skreeu omdat hy gemartel is. Ek het ook iemand in die sel langsaan ’n pynlike dood sien sterf. Met al hierdie dinge wat voor my oë gebeur het, het ek sterk gevoel dat hierdie ou stelsel moet eindig, en my hoop op God se beloftes het sterker as ooit geword.
Ondervraging
Ek was omtrent ’n jaar lank in die gevangenis en is vyf keer ondervra. Op ’n dag het ’n aanklaer vir die eerste keer daar aangekom, en ek is na ’n beknopte ondervragingskamer gelei. Die eerste ding wat hy gesê het, was: “Wie is die grootste, Amaterasoe Omikami [die songodin] of Jehovah? Sê vir my!” Ek het ’n rukkie nagedink oor hoe om hom te antwoord.
“Sê vir my wie is die grootste of ek slaan jou!” Hy het my aangegluur.
Ek het kalm geantwoord: “Heel voor in die Bybel staan daar geskryf: ‘In die begin het God die hemel en die aarde geskape.’” Ek het nie gedink dat dit nodig was om enigiets by te voeg nie. Hy het my sonder ’n woord aangestaar en toe oor iets anders gepraat.
Waarom was ek per slot van rekening in die gevangenis? Die ondersoekverslag het gesê: “Daar word gevrees dat sy die publiek met haar woorde en dade kan mislei.” Dit was waarom ek sonder ’n verhoor in die gevangenis was.
Jehovah was altyd by my terwyl ek al hierdie dinge deurstaan het. Deur Jehovah se goedhartigheid het ek ’n sakbybeltjie van die Christelike Griekse Geskrifte gekry. ’n Speurder het dit eendag by my sel ingegooi en gesê: “Jy kan dit kry.” Ek het dit elke dag gelees totdat ek kon memoriseer wat ek gelees het. Die moedige voorbeelde van die eerste-eeuse Christene in die boek Handelinge was ’n groot bron van bemoediging. Die 14 briewe van Paulus het my ook versterk. Paulus is kwaai vervolg, maar die heilige gees het hom altyd onderskraag. Sulke verslae het my versterk.
Ek het baie maer en swak geword, maar Jehovah het my altyd bygestaan, dikwels op onverwagte maniere. Een Sondag het daar ’n speurder gekom wat ek nog nie ontmoet het nie, en hy het ’n pakkie gehad wat in ’n doek toegedraai was. Hy het die seldeur oopgemaak en my na die binneplein uitgeneem. Toe ons by ’n groot kanferboom kom, het hy die pakkie oopgemaak. En kyk net! Dit het piesangs en bolletjies ingehad. Hy het vir my gesê om dit daar te eet. Die speurder het opgemerk: “Julle is almal baie goeie mense. Nogtans moet ons julle so sleg behandel. Ek wil graag binnekort ander werk hê.” Die bewaarders en speurders het my daarna vriendelik begin behandel. Hulle het my vertrou en my toegelaat om hulle kamers skoon te maak, en hulle het my allerhande werk gegee wat slegs bevoorregte gevangenes gedoen het.
Ek is aan die einde van 1942 deur een van die speurders wat ons gearresteer het, laat roep. “Hoewel jy die doodsvonnis verdien, sal jy vandag vrygelaat word”, het hy gesê. My man is ongeveer ’n maand voor my vrylating terug huis toe.
Ons gaan weer met die Getuies om
Terwyl ons in die gevangenis was, het Japan tot die Tweede Wêreldoorlog toegetree. Toe, in 1945, het ons gehoor dat Japan die oorlog verloor het, en ons het in die koerante gelees dat politieke gevangenes vrygelaat sou word. Ons het geweet dat broer Kosaka in die gevangenis aan siekte dood is, maar ek het onmiddellik briewe aan die gevangenisse in Taipei, Hsintsjoe en ander stede gestuur en gevra waar broer Oe hom bevind. Ek het egter geen antwoord ontvang nie. Ek het later uitgevind dat broer Oe voor ’n vuurpeloton tereggestel is.
In 1948 het ons ’n onverwagte brief uit Sjanghai ontvang. Dit was van broer Stanley Jones wat van Gilead, ’n nuut gestigte sendingskool van Jehovah se Getuies, na China gestuur is. Jehovah het ons weer onthou! Ek was oorstelp van vreugde om hierdie kontak met Jehovah se organisasie te hê. Sewe jaar het verloop sedert ons broer Oe gesien het. Hoewel ek al daardie tyd heeltemal afgesonder was, het ek ander van die goeie nuus vertel.
Dit was ’n tyd van blydskap toe broer Jones ons die eerste keer besoek het. Hy was baie vriendelik. Al het ons hom nooit tevore ontmoet nie, het dit gevoel asof ons ’n naasbestaande in ons huis verwelkom. Broer Jones het kort daarna met my man as sy tolk oor die berge na T’ai-toen vertrek. Hulle het ná omtrent ’n week teruggekeer en het in daardie tyd ’n eendagbyeenkoms gehou en sowat 300 lede van die ooskus se Amis-stam gedoop.
Broer Jones se besoek was in ’n ander opsig vir my belangrik. Ek het tot op daardie tydstip alleen gepreek. En ’n paartjie, waarvan die man ons huisheer was, is toe tydens broer Jones se besoek gedoop. Benewens die vreugde om die Koninkryk te verkondig, het ek sedertdien baie maal die vreugde gesmaak om dissipels te maak. Ons het later na Hsintsjoe verhuis waar broer Jones ons drie keer besoek het, elke keer twee weke lank. Ek het die heilsame omgang terdeë geniet. By die laaste geleentheid het hy gesê: “Ek sal my maat Harold King volgende keer saambring.” Maar daardie “volgende keer” het nooit aangebreek nie, want hulle is albei kort daarna in China gevange geneem.
Joseph McGrath en Cyril Charles, sendelinge van die 11de Gileadklas, het in 1949 in Taiwan aangekom. Hulle het die werk in Taiwan uitgebrei en ons huis as hulle basis gebruik. Hulle voorbeelde het my werklik aangemoedig. Die politieke situasie het hulle egter genoodsaak om na Hongkong toe te gaan. Ek kon my trane nie keer toe hulle saam met ’n polisieman vertrek het nie. “Moenie huil nie, Mijo”, het Joe gesê. Hy het bygevoeg: “Dankie”, en my sy ou bolpuntpen as ’n aandenking gegee.
Ons pak kinderopvoeding aan
Ek en my man het nie kinders gehad nie en ons het dus my man se niggie aangeneem toe sy vier maande oud was. Haar ma se lewe is deur asma in gevaar gestel.
Broer Lloyd Barry, wat as ’n sendeling in Japan gedien het, het Taiwan in 1952 besoek om wetlike erkenning vir die bedrywighede van Jehovah se Getuies te probeer verkry. Hy het by ons gebly en ons baie aangemoedig. Ons dogter was toe al 18 maande oud. Hy het haar opgetel en haar gevra: “Wat is God se naam?” Ek het hom verbaas gevra: “Bedoel jy dat ons haar moet leer terwyl sy so jonk is?” “Ja”, het hy beslis geantwoord. Hy het toe met my gepraat oor hoe belangrik dit is om ’n kind van kleins af op te voed. Sy woorde: “Sy is ’n gawe van Jehovah vir jou vertroosting”, het my bygebly.
Ek het my dogter Akemi dadelik begin leer om Jehovah te ken en lief te hê en sy kneg te word. Ek het haar fonetiese simbole geleer en begin met die drie letters e, ho en ba, wat die woord “Ehoba”, of Jehovah, in Japannees uitmaak. Toe sy twee was, kon sy al verstaan wat ek vir haar sê. Ek het dus elke aand vir haar Bybelverhale vertel voor sy gaan slaap het. Sy het met belangstelling geluister en hulle onthou.
Toe sy drie en ’n half was, het broer Barry ons weer besoek en vir Akemi ’n Bybel gegee wat in die Japannese omgangstaal geskryf was. Sy het met die Bybel in die kamer rondgeloop en gesê: “Akemi se Bybel! Akemi se Bybel!” ’n Paar minute later het sy skielik gesê: “Akemi se Bybel het nie Jehovah in nie! Ek wil dit nie hê nie!” Sy het dit neergegooi. Ek het verbaas die inhoud nagegaan. Ek het eers by Jesaja hoofstuk 42 vers 8 oopgemaak. Die naam Jehovah was daar deur die woord “Here” vervang. Ek het ander tekste nageslaan, maar ek kon die goddelike naam Jehovah nie kry nie. Akemi het bedaar toe ek haar weer Jehovah se naam in my ou Bybel gewys het, wat in argaïese Japannees geskryf was.
Ons keer terug na Japan
Ons het in 1958 na Japan teruggekeer en met die Sannomija-gemeente in Kobe omgegaan. Omdat ek soveel rede tot dankbaarheid teenoor Jehovah gehad het, wou ek my dankbaarheid betoon deur ’n pionier—’n voltydse bedienaar van Jehovah se Getuies—te word. Ek het my op die pionierdiens toegelê. Ek kon gevolglik baie tuisbybelstudies hou en het die vreugde gesmaak om sowat 70 tot 80 mense te help om die waarheid aan te neem. Ek was selfs ’n tyd lank bevoorreg om as spesiale pionier te dien en meer as 150 uur per maand in die veld te werk, terwyl ek ook na my man en dogter omgesien het.
Aangesien ons meer as 30 jaar in Taiwan gewoon het, was die lewe in Japan ’n kultuurskok en het ek etlike beproewings deurgemaak. Net soos broer Barry jare tevore vir my gesê het, het Akemi in tye soos dié my vertroosting en steun geword. Wanneer ek terneergedruk was, het sy vir my gesê: “Ma, hou goeie moed. Jehovah sal vir ons ’n uitkoms gee.” “Ja, hy sal, nie waar nie?” het ek dan geantwoord en haar styf vasgedruk. Wat ’n bron van bemoediging was sy tog nie! Hoe kon ek anders as om Jehovah te dank!
Ek offer my dogter aan Jehovah
Akemi het ’n verkondiger geword toe sy 7 was en is in die somer van 1963 gedoop toe sy 12 was. Ek het probeer om soveel tyd as moontlik saam met haar deur te bring (Deuteronomium 6:6, 7). Daar was moeilike tye toe sy ’n adolessent was, maar met die goeie voorbeelde en aanmoediging van die spesiale pioniers wat na ons gemeente gestuur is, het Akemi haar dit uiteindelik ten doel gestel om in nuwe gebiede pionierdiens te gaan doen.
Sy het by die streekbyeenkoms in 1968 die rol van Jefta se dogter in die Bybeldrama vertolk. Terwyl ek na die drama gekyk het, het ek, soos Jefta, besluit om my enigste dogter, wat ek tot op daardie tydstip gekoester het, aan Jehovah vir die voltydse bediening te offer. Hoe sou die lewe wees sonder my dogter naby my? Dit was ’n uitdaging omdat ek al oor die 60 was.
In 1970 het die tyd aangebreek vir ons dogter om ons te verlaat. Sy het by my man toestemming gekry en na Kioto gegaan om as pionier te dien. Sy het verstaan hoe ons voel en dit het gelyk of haar hart bloei toe sy van ons weg is. Ek het Psalm 126:5, 6 as ’n afskeidsteks vir haar aangehaal: “Die wat met trane saai, sal met gejubel maai. Hy loop aldeur en ween en dra die saadkoring; hy sal sekerlik kom met gejubel en sy gerwe dra.” Hierdie woorde was vir my ook bemoedigend.
Akemi is later getroud en het saam met haar man in die spesiale pionierdiens gedien. Hulle dien sedert 1977, toe haar man as kringopsiener aangestel is, as reisende werkers. Ek sprei gereeld ’n kaart oop en “reis” saam met my dogter op die kaart. Dit is vir my ’n genot om hulle ondervindinge te hoor en baie susters deur my dogter te leer ken.
Ek is reeds 86. Die dae wat verby is, voel maar soos ’n nagwaak. Ek kan nie soveel werk doen soos tevore nie, maar dit is steeds vir my ’n vreugde om velddiens te doen. Wanneer ek nadink oor die 60 jaar wat verby is vandat ek die waarheid geleer het, wel God se gerusstellende belofte in my hart op. Ja, Jehovah wat met lojaliteit teenoor lojale mense sal optree, laat ons nou oorvloedige vreugde maai.—Psalm 18:25, NW.