Antwoord jy wanneer iemand roep?
SOOS VERTEL DEUR SJINITSJI TOHARA
GEDURENDE die eerste deel van my lewe het ek God nie aangeroep nie, en ek het my ook nie tot hom gewend vir leiding nie. My grootouers het van Japan na Hawaii geëmigreer, en my ouers was Boeddhiste. Hulle was nie baie bedrywig in hulle geloof nie, en daarom het die idee van ’n godheid nie ’n belangrike plek in my gedagtes ingeneem terwyl ek grootgeword het nie.
Toe het ek van evolusie geleer en begin dink dat dit dwaas is om in God te glo. Maar namate my formele onderwys gevorder het, het ek in wetenskapklasse met sterrekunde, fisika en biologie kennis gemaak. Snags het ek na die hemel gestaar en gewonder hoe al die sterre daar gekom het. ’n Klein stemmetjie binne-in my het begin vra: ‘Kan daar ’n God wees wat al hierdie dinge beheer?’ Ek het begin dink dat daar Iemand daar bo moet wees. My hart het begin uitroep: ‘Wie is hierdie God?’
Nadat ek my hoërskoolloopbaan voltooi het, het ek gevind dat my werk as ’n werktuigkundige by ’n rysbierbrouery my beperk het, en ek het geen tyd gehad om oor die kwessie van God na te dink nie. Kort voor lank het ek Masako ontmoet wat in 1937 my vrou geword het, en ons is later met drie kinders geseën. Wat ’n getroue metgesel en hardwerkende moeder is Masako tog!
Noudat ek ’n gesin gehad het, het ek ernstig oor ons toekoms gedink. Ek het weer begin om buitentoe te gaan en na die sterre te staar. Ek was oortuig dat daar ’n God is. Ek het nie geweet wie daardie God is nie, maar ek het hom in elk geval begin aanroep. Herhaaldelik het ek gesmeek: ‘As u iewers daar bo is, help my gesin asseblief om ’n weg te vind om in geluk te wandel.’
My gebed word eindelik verhoor
Ons het sedert ons troue by my ouers gewoon, maar in 1941 het ons ons eie woonplek in Hilo, Hawaii, gekry. Kort nadat ons in ons nuwe huis ingetrek het, het die Japannese Pearl Harbor op 7 Desember 1941 aangeval. Dit was ’n gespanne tyd en almal was bekommerd oor die toekoms.
’n Maand ná die aanval op Pearl Harbor was ek besig om my motor op te vryf toe ’n man my nader en ’n boek met die titel Kinders aanbied. Hy het hom as Ralph Garoutte, ’n bedienaar van Jehovah se Getuies, voorgestel. Ek het nie verstaan wat hy sê nie, maar ek het in God belanggestel, en daarom het ek die boek aanvaar. Die week daarna het Ralph my weer besoek en my ’n tuisbybelstudie aangebied. Hoewel ek al van die Bybel gehoor het, was dit die heel eerste keer dat ek een gesien het. Ek het die Bybelstudie aanvaar en my vrou en haar jonger suster het by ons aangesluit.
Die waarheid dat die Bybel God se Woord is, het my werklik beïndruk (2 Timotheüs 3:16, 17). Die feit dat Jehovah ’n doel het, was vir my nog wonderliker. Hy was die Skepper na wie ek gesoek het! (Jesaja 45:18). Ons was verheug toe ons geleer het dat die oorspronklike Paradys wat verloor is hier op aarde herstel gaan word en dat ons daar kan wees (Openbaring 21:1-4). Hier was die antwoord op my gebed tot God!
Ons het met almal oor dié nuutgevonde waarhede gepraat. My ouers het gedink ons is gek, maar dit het ons nie ontmoedig nie. Ná drie maande van intensiewe Bybelstudie is ek en my vrou op 19 April 1942 gedoop as simbool van ons toewyding aan ons God, Jehovah. Masako se jonger suster, Josji, en haar man, Jerry, wat teen dié tyd by ons Bybelstudie aangesluit het, is saam met ons gedoop. Ons het net ’n beperkte kennis van die Heilige Geskrifte gehad, maar dit was genoeg om ons aan te spoor om God te wil dien.
Terwyl die Tweede Wêreldoorlog nog gewoed het, het ek gedink dat die einde van hierdie stelsel net om die draai is, en ek en my vrou het besef dat dit nodig is om mense hiervan te vertel. Die Garoutte’s was in hierdie opsig ons voorbeeld. Ralph en sy vrou het albei as pioniers, voltydse bedienaars van Jehovah se Getuies, gedien. Ek het ons omstandighede met Ralph s’n vergelyk. Hy het ’n vrou en vier kinders gehad. Ek het ’n vrou en net drie kinders gehad. As hy dit kon doen, sou ek dit ook kon doen. Die maand ná ons gedoop is, het ons dus aansoek gedoen om pioniers te word.
Nog voordat ek as ’n pionier aanvaar is, het ek van alle onnodige dinge ontslae geraak, my Hawaise ghitaar, saxofoon en viool inkluis. Ek was vroeër ’n groot musiekliefhebber, maar ek het van alles behalwe my mondfluitjie ontslae geraak. My werk by die rysbierbrouery was buitendien nie meer vir my aantreklik nie (Filippense 3:8). Ek het ’n woonwa gebou en gewag om te sien of Jehovah my smekinge om gebruik te word, sou beantwoord. Ek het nie lank gewag nie. Met ingang van 1 Junie 1942 is ons as pioniers aanvaar. Ons het Jehovah dadelik voltyds begin dien en was nog nooit spyt oor daardie besluit nie.
Pionierdiens in Hawaii
Saam met die Garoutte’s het ons Hawaii, die Groot Eiland, met inbegrip van Kona, die beroemde koffiestreek, sowel as Kau, gedek. Destyds het ons met die grammofoon gewerk. Dit was redelik swaar, maar ons was nog jonk en sterk. Ons het dus, met die grammofoon in die een hand en ’n sak boeke in die ander, voetpaadjies gevolg wat ons na horende ore in die koffielande, plantasies en enige ander plek kon lei. Toe, nadat ons die hele eiland deurgewerk het, is ons na Kohala op die Groot Eiland gestuur. Kohala was ’n klein suikerrietplantasie wat deur blankes, Filippyners, Chinese, Hawaiërs, Japannese en Portugese bewoon is. Elke groep het sy eie kultuur, sieninge, voorkeure en godsdiens gehad.
Toe ek eers die pionierdiens betree het, het ek nooit weer sekulêr gaan werk nie. Ons het ’n tyd lank van my spaargeld gelewe, en wanneer dit nodig was, het ek gaan spieshengel. Ek het, verbasend genoeg, altyd met ’n paar visse huis toe gekom. Ons het wilde groente en kruie wat langs die pad groei, gepluk en dit saans geëet. Ek het vir Masako ’n oond van sinkplaat gemaak, en sy het geleer om brood te bak. Dit was die lekkerste brood wat ek nog geëet het.
Toe ons in 1943 Honolulu toe gegaan het vir ’n Christelike byeenkoms het Donald Haslett, wat destyds die takopsiener in Hawaii was, ons genooi om daarheen te trek en in ’n klein woonstelletjie te woon wat bo-op die Wagtoringgenootskap se garage gebou is. Ek is as die opsigter van die tak se eiendom aangestel en het gedurende die daaropvolgende vyf jaar van pionierdiens van daar af gewerk.
’n Onverwagte oproep
In 1943 het ons gehoor dat die Genootskap ’n skool gestig het om sendelinge vir buitelandse diens op te lei. Hoe graag sou ons dit tog nie wou bywoon nie! Gesinne met kinders is egter nie genooi nie en ons het derhalwe nie weer daaraan gedink nie. Maar in 1947 het broer Haslett ons vertel dat die Genootskap wou weet of daar enige Hawaiërs is wat bereid sou wees om buitelandse diens in Japan aan te pak. Hy het ons gevra wat ons dink en ek het, soos Jesaja, gesê: “Stuur my” (Jesaja 6:8). My vrou was van dieselfde mening. Ons het glad nie gehuiwer om Jehovah se oproep te beantwoord nie.
Ons is dus na die Wagtoring-Bybelskool Gilead genooi om as sendelinge opgelei te word. Die uitnodiging het ons drie jong kinders ingesluit. Vyf ander, Donald en Mabel Haslett, Jerry en Josji Toma en Elsie Tanigawa, is ook genooi, en ons het in die winter van 1948 saam New York toe gegaan.
Ons het die vasteland per bus oorgesteek. Ná drie dae op die bus was ons almal moeg, en broer Haslett het voorgestel dat ons rus en in ’n hotel oornag. Toe ons van die bus afklim, het ’n man ons genader en geskree: “Japannese! Ek gaan my geweer by die huis haal om hulle te kom skiet!”
“Hulle is nie Japannese nie”, het broer Haslett gesê. “Hulle is Hawaiërs. Kan jy nie die verskil sien nie?” Sy skerpsinnige woorde het ons gered.
Was ons werklik deel van die 11de Gileadklas? Dit was soos ’n wonderlike droom. Maar ons het sommer gou besef dat dit ’n werklikheid was. In ons klas is 25 studente deur die destydse president van die Wagtoringgenootskap, Nathan H. Knorr, uitgekies om vir moontlike sendingwerk in Japan opgelei te word. Aangesien ek van Japannese afkoms was en ’n bietjie Japannees kon praat, is ek aangewys om die taal aan dié groep studente te leer. Aangesien ek nie goed was in die taal nie, was dit nie maklik nie; maar op die een of ander manier het ons almal reggekom!
Destyds was ons seun, Loi, tien jaar oud en ons dogters, Thelma en Sally, was agt en ses. Wat het met hulle gebeur terwyl ons op skool was? Hulle het ook skoolgegaan! Die bus het hulle soggens opgelaai en later in die dag weer huis toe gebring. Wanneer die kinders van die skool af gekom het, het Loi saam met die broers op die Genootskap se plaas gewerk, en Thelma en Sally het in die wassery sakdoeke gevou.
Verstandelike voorbereiding vir die onbekende
Toe ons op 1 Augustus 1948 aan Gilead gegradueer het, was ons gretig om in ons toewysing te kom. Broer Haslett het voor ons uit gegaan om ’n plek te vind waar die sendelinge kon woon. Eindelik het hy ’n tweeverdiepinghuis in Tokio gevind, en op 20 Augustus 1949 het ons gesin na ons nuwe tuiste vertrek.
Voordat ons in Japan aangekom het, het ek baie oor dié Oosterse land gedink. Ek het nagedink oor hoe lojaal die Japannese aan hulle menslike here en die keiser was. Baie Japannese het hulle lewe vir hierdie menslike heersers gegee. Tydens die Tweede Wêreldoorlog het kamikasevlieëniers vir die keiser gesterf deur met hulle vliegtuie in die skoorstene van vyandige oorlogskepe vas te vlieg. Ek onthou dat ek gewonder het hoe die Japannese sou reageer as hulle die ware Heer, Jehovah, leer ken, aangesien hulle so getrou is aan menslike here.
Toe ons in Japan aangekom het, was daar net sewe sendelinge en ’n handjie vol verkondigers in die hele land. Ons het almal aan die werk gespring, en ek het probeer om my kennis van die taal uit te brei en kon Bybelstudies begin met baie wat God in hulle hart aangeroep het. ’n Klomp van daardie vroeë Bybelstudente is vandag nog getrou.
Sendingwerk met ons kinders
Hoe sou ons in die sendingwerk regkom met drie klein kindertjies om voor te sorg? Wel, Jehovah was die krag daaragter. Ons het ’n klein terugbetaling van die Genootskap ontvang en Masako het vir die kinders klere gemaak. Ons het ook van my ouers hulp ontvang.
Nadat Loi die junior hoërskool verlaat het, het hy ’n tyd lank by die Japannese tak van die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap gedien. Maar hy het weens gesondheidsprobleme besluit om na Hawaii terug te keer vir behandeling. Hy en sy vrou dien Jehovah nou getrou in Kalifornië. Sy huwelik het tot gevolg gehad dat ons met vier getroue kleinkinders geseën is. Hulle is almal gedoop en een dien Jehovah saam met sy vrou by Brooklyn-Bethel, die wêreldhoofkwartier van Jehovah se Getuies.
Toe my dogters, Thelma en Sally, grootgeword het, is hulle as sendelinge aangestel. Thelma dien tans in die stad Tojama as ’n sendeling. Sally is met ’n sendelingbroer, Ron Trost, getroud en hulle dien nou al meer as 25 jaar as reisende sendelinge.
Van Noord na Suid
Nadat ons twee jaar in Tokio deurgebring het, is ons vir twee jaar Osaka toe gestuur. Ons volgende toewysing was noord daarvan, in Sendai, waar ons ses jaar lank gedien het. Daardie jare in Sendai het ons vir toewysings in die noordelikste eiland van Japan, Hokkaido, voorberei. Dit is in Hokkaido dat ons dogters as sendelinge aangestel is. Dit is ook daar dat ons gewoond moes raak aan wintertemperature wat soms tot onder vriespunt gedaal het. Ná tropiese Hawaii was dit nogal ’n groot verandering!
Toe hoor ek op ’n dag ’n nuwe oproep in die vorm van ’n brief van die Genootskap. Daarin het hulle gevra dat ek ’n tak in Okinawa moes stig, wat toe nog onder Amerikaanse beheer was. Die trek van die koue noordpunt van Japan na wat vandag bekend staan as die suidelikste prefektuur van Japan het ’n groot uitdaging ingehou. Wat sou ek doen? Al het ek nie daarvoor opgewasse gevoel nie, het ek in November 1965, in Okinawa aangekom, soos altyd deur my getroue vrou vergesel. Sou die lewe in Okinawa dieselfde wees as die lewe in Japan? Wat van die kultuur? Sou mense op Jehovah se boodskap van redding reageer?
Toe ons daar aangekom het, was daar minder as 200 verkondigers in Okinawa. Nou is daar oor die 2 000. Aanvanklik was ek deeltyds kringopsiener en deeltyds takopsiener. Om so deur die eilande te reis, het my gehelp om hegte verhoudings met die broers daar te bou, en ek beskou dit as ’n voorreg om hulle te kon dien.
Sonder probleme?
Ons loopbaan as sendelinge was geensins sonder probleme nie. Terwyl ons in 1968 in die Verenigde State vakansie gehou het, het Masako siek geword, en sy moes ’n operasie ondergaan. ’n Gewas is van haar ingewande verwyder, en sy het merkwaardig herstel. Ons het nie mediese versekering gehad nie en was bekommerd dat ons dalk nie na ons toewysing sou kon terugkeer nie. Maar tot ons verbasing het vriende in die geloof na alles omgesien.
Wat my betref, ek ervaar nou die probleme waaraan diabete gewoonlik ly. Ek is nie blind nie, maar my oë is baie swak. Deur Jehovah se liefderyke goedhartigheid kan ek egter gereeld geestelike voedsel inneem deur na bandopnames van Die Wagtoring en die Ontwaak! te luister. Broers en susters in die geloof help ook deur ’n verskeidenheid van materiaal vir my te lees.
Hoe kon ek aanhou om met my swak oë openbare toesprake te hou? Eers het ek my toesprake op band opgeneem en dit oor die klanktoerusting gespeel terwyl ek die woorde met my mond gevorm het. Maar na ’n wenk van my dogter het ek hierop verbeter. Nou neem ek my toesprake met ’n klein bandopnemertjie op en hou dit terwyl ek met oorfone na my voorafopgeneemde toespraak luister.
Wanneer ons voor groot probleme te staan gekom het, het ons Jehovah altyd aangeroep. Die uiteinde van die saak was altyd dat die seëninge wat gekom het wanneer Jehovah die probleme opgelos het, groter gelyk het as wat die probleme self gelyk het. Die enigste manier om ons dankbaarheid te toon is om hom aan te hou dien.
Na 23 jaar in Okinawa is ons weer na dieselfde plek gestuur waar ons gedien het toe ons eers Japan toe gekom het. Die Genootskap se hoofkantoor en sy grootste sendinghuis staan op die oorspronklike terrein van die tweeverdiepinggebou in Tokio wat soveel jare gelede deur broer Haslett gekoop is.
Buiten my en Masako dien 11 van ons familielede nou as sendelinge in Japan. Hulle beskou dit almal as ’n groot voorreg om te kon sien watter groei Jehovah na dié land met oorwegend Boeddhistiese en Sjintoïstiese kultuur gebring het. Die werk in Japan het klein begin, maar Jehovah se krag het ’n “nasie” van meer as 167 000 verkondigers van die goeie nuus tot stand gebring.—Jesaja 60:22.
Toe ek God aangeroep het, het hy my geantwoord. Toe hy my genooi het, het ek positief geantwoord. Ek en my vrou glo dat ons net gedoen het wat ons moes doen. Wat van jou? Antwoord jy wanneer jou Skepper roep?
[Prent op bladsy 28]
Die Toharas met party lede van hulle pioniergroep in Hawaii, 1942
[Prent op bladsy 29]
Die Tohara-kinders in 1948 by Gilead
[Prent op bladsy 31]
Sjinitsji en Masako Tohara het al 43 jaar in die sendingwerk voltooi en is bly dat hulle die oproep beantwoord het