Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w00 6/1 bl. 29-31
  • Waar kan ’n mens goeie raad kry?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Waar kan ’n mens goeie raad kry?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2000
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die bron van onfeilbare leiding
  • Die Bybel voorsien in ons behoeftes . . . 
  • Vind baat by God se Woord
  • Die Bybel en jy
    Die Bybel—God se woord of die mens s’n?
  • Hoe kan jy stry teen negatiewe gevoelens?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2010
  • Hoe jou lewe sinvoller kan wees
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2000
  • God se Woord is die waarheid
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2000
w00 6/1 bl. 29-31

Waar kan ’n mens goeie raad kry?

Die “raadgewingsbedryf” het nou ’n onderneming met ’n jaarlikse omset van miljarde rande geword. Mense soek hulp. Die geestesgesondheidsdeskundige Heinz Lehmann sê: “[In vandag se samelewing] is daar opvoedkundige en maatskaplike agterstande. Godsdienswaardes is nie meer dieselfde nie. Gesinne is baie minder bestendig . . . , en gevolglik raak mense verward.” Die skrywer Eric Maisel sê: “Diegene wat voorheen na hulle stam se sjamaan, pastoor of gesinsdokter gegaan het om hulle met verstandelike, geestelike en fisiese probleme te help, maak nou staat op selfhelpboeke om die antwoorde te gee.”

DIE Amerikaanse Sielkundige Vereniging het ’n taakspan op die been gebring om ondersoek in te stel na hierdie florerende bedryf. Hoewel daar volgens hulle “groot potensiaal is om mense te help om hulleself en ander te verstaan . . . , is die bewerings wat in die advertensies van hierdie programme gemaak word sowel as hulle titels al hoe meer oordrewe en sensasioneel”. ’n Skrywer vir die Toronto Star sê: “Pas op vir al die godsdienstige of geestelike bedrieërs. . . . Pas veral op vir alle selfhelpboeke, bandopnames of seminare wat veels te veel aanbied, in veels te min tyd, vir veels te min inspanning of selfdissipline.” Daar is weliswaar baie mense wat werklik graag diegene wil help wat hulp nodig het. Maar die droewige werklikheid is dat talle gewetenlose individue munt slaan uit mense se eensaamheid en lyding en hulle geen ware hulp of oplossings bied nie.

Wat is dan, in die lig hiervan, die vernaamste bron van hulp wat ons kan vertrou? Waar kan ons praktiese raad kry wat altyd sal werk?

Die bron van onfeilbare leiding

Die 19de-eeuse Amerikaanse prediker Henry Ward Beecher het gesê: “Die Bybel is God se kaart waarvolgens jy jou moet rig, wat voorkom dat jy sink en jou wys waar die hawe is en hoe jy dit kan bereik sonder om op die rotse of sandbanke te beland.” Iemand anders het van die Bybel gesê: “Niemand ontgroei ooit die Skrif nie; die boek word groter en dieper namate ons ouer word.” Waarom moet ons hierdie bron in alle erns ondersoek?

Die Bybel beveel homself aan deur te sê: “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig om te onderrig, om tereg te wys, om dinge reg te stel, om in regverdigheid te dissiplineer, sodat die mens van God volkome bevoeg kan wees, ten volle toegerus vir elke goeie werk” (2 Timoteus 3:16, 17). Die Bybel se inhoud kom van die Bron van die lewe self, Jehovah God (Psalm 36:9, NW). Hy ken dus ons samestelling baie goed, soos Psalm 103:14 ons herinner: “Hy weet watter maaksel ons is, gedagtig dat ons stof is.” Ons kan derhalwe volle vertroue in die waarde van die Bybel stel.

Trouens, die Bybel bevat ’n menigte beginsels en riglyne wat met vrug toegepas kan word in enige situasie waarin jy jou dalk bevind. Daarin sê God vir ons: “Dit is die weg, wandel daarop!” (Jesaja 30:21). Kan die Bybel werklik vandag in die behoeftes van mense voorsien? Kom ons kyk.

Die Bybel voorsien in ons behoeftes . . . 

Om ontstellende emosies te verwerk. Die Bybel sê vir ons: “Moet oor niks besorg wees nie, maar laat julle versoeke in alles deur gebed en smeking tesame met danksegging by God bekend word; en die vrede van God wat alle denke te bowe gaan, sal julle harte en julle verstandelike vermoëns deur middel van Christus Jesus bewaak” (Filippense 4:6, 7). Het gebed mense al gehelp om die verskriklike emosies te verwerk wat met ekonomiese ontberings, seksuele molestering, smaad of die dood van ’n geliefde gepaardgaan? Kyk na die volgende ondervinding.

Jackie vertel hoe sy gevoel het nadat sy uitgevind het dat haar dogter seksueel gemolesteer is: “Die skuldgevoel wat ek gehad het omdat ek nie my kind kon beskerm nie, kan nie beskryf word nie. Ek moes stry teen gevoelens van bitterheid, gegriefdheid en woede. Hierdie gevoelens het my lewe begin verwoes. Ek het Jehovah se hulp dringend nodig gehad om my hart te bewaak.” Nadat sy Filippense 4:6, 7 oor en oor gelees het, het sy hard probeer om daardie raad toe te pas. “Ek bid elke dag, en ek vra herhaaldelik dat ek nie moet toelaat dat negatiewe gevoelens my verwoes nie, en Jehovah het my gehelp om ’n kalm en gelukkige hart te ontwikkel. Ek ervaar waarlik innerlike vrede”, sê Jackie.

Jy bevind jou dalk ook in ’n situasie wat jy nie kan beheer of oplos nie en wat met ontstellende emosies gepaardgaan. As jy die Bybel se raad volg om te bid, kan jy dit verwerk. Die psalmis moedig ons met hierdie woorde aan: “Laat jou weg aan die HERE oor en vertrou op Hom, en Hý sal dit uitvoer.”—Psalm 37:5.

Aan aanmoediging. Die psalmis het hierdie woorde van waardering uitgespreek: “HERE, ek het lief die woning van u huis en die woonplek van u heerlikheid. My voet staan op gelyk grond; ek sal die HERE loof in die vergaderings” (Psalm 26:8, 12). Ons word in die Bybel aangemoedig om gereeld te vergader om Jehovah te aanbid. Hoe kan hierdie assosiasie in ons behoeftes voorsien? Wat het ander gevind?

Becky vertel: “My ouers dien nie Jehovah nie, en daarom maak hulle die lewe vir my moeilik wanneer ek ook al iets probeer doen in my diens aan God. Ek moet my werklik inspan om die vergaderinge by te woon.” Becky voel dat sy baie seëninge ontvang het omdat sy haar inspan om Christelike vergaderinge gereeld by te woon. “Die vergaderinge versterk my geloof sodat ek opgewasse kan wees teen die daaglikse druk wat ek as ’n skolier, dogter en kneg van Jehovah ondervind. Die mense by die Koninkryksaal is heeltemal anders as die kinders by die skool! Hulle is liefdevol en behulpsaam, en ons gesprekke is altyd bemoedigend. Hulle is ware vriende.”

Ja, as ons die Bybel se raad volg om gereeld byeen te kom, kan Jehovah in ons behoefte aan aanmoediging voorsien. Dit is wanneer ons die waaragtigheid van die psalmis se woorde ondervind: “God is vir ons ’n toevlug en sterkte, ’n hulp wat gedurende benoudhede maklik gevind kan word.”—Psalm 46:1, NW.

Aan bevredigende en lonende werk. “Word standvastig, onbeweeglik, terwyl julle altyd volop het om in die werk van die Here te doen, in die wete dat julle arbeid nie tevergeefs is in verband met die Here nie”, beveel die Bybel aan (1 Korintiërs 15:58). Is “die werk van die Here” werklik bevredigend? Lewer die Christelike bediening lonende resultate op?

Amelia druk haar gevoelens so uit: “Ek het die Bybel met ’n egpaar gestudeer wat op die punt was om te skei. Ek het ook ’n vrou gehelp wie se dogter op ’n gewelddadige wyse doodgemaak is. Onsekerheid oor die toestand van die dooies het die vrou baie gekwel. In albei hierdie gevalle het die toepassing van Bybelbeginsels hulle lewe met vrede en hoop gevul. Dit laat my baie goed en baie bly voel dat ek ’n aandeel daaraan gehad het om hulle te help.” Scott sê: “As jy ’n goeie ondervinding in die veldbediening het, ’n nuwe Bybelstudie begin het of ’n mate van sukses in die informele getuieniswerk gehad het, sal jy nog jare later daaroor praat. Jy het dieselfde gevoelens en opwinding elke keer as jy dit vertel! ’n Mens ervaar die grootste en blywendste vreugde in die bediening.”

Dit is duidelik dat daar in hierdie persone se behoefte aan bevredigende en lonende werk voorsien is toe hulle die Bybel se raad toegepas het om bedrywige bedienaars te word. Jy word ook genooi om deel te neem aan hierdie werk om ander te leer oor God se weë en beginsels, en daardeur sal jy jouself bevoordeel.—Jesaja 48:17, vgl. NW; Matteus 28:19, 20.

Vind baat by God se Woord

Die Bybel is sonder enige twyfel ’n betroubare bron van praktiese riglyne in vandag se wêreld. As ons daarby baat wil vind, verg dit volgehoue inspanning. Ons moet dit gereeld lees, dit bestudeer en daaroor peins. Paulus het ons aangespoor: “Bepeins hierdie dinge; wees verdiep daarin, sodat jou vooruitgang vir almal duidelik kan wees” (1 Timoteus 4:15; Deuteronomium 11:18-21). God gee jou die waarborg dat jy suksesvol sal wees as jy jou inspan om sy raad in die Bybel toe te pas. Hy beloof: “Vertrou op die HERE . . . Ken Hom in al jou weë, dan sal Hý jou paaie gelykmaak.”—Spreuke 3:5, 6.

[Prente op bladsy 31]

Die toepassing van Bybelraad lei tot ’n bevredigende, sinvolle lewe

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel