Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w04 1/1 bl. 22-27
  • Ryklik geseën omdat ons die sendinggees behou het

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ryklik geseën omdat ons die sendinggees behou het
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2004
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • My ouers se moedige voorbeeld
  • Ann kom in aanraking met die waarheid
  • Dieselfde doelwitte—ander omstandighede
  • Ons diens as ’n gesin in die buiteland
  • Die verbod—’n toets van geloof en vindingrykheid
  • Na Nieu-Guinee
  • Veranderde omstandighede
  • Ons dien op die “Gelukkige eilande”
  • Soveel om voor dankbaar te wees
  • Jehovah het ‘my paaie gelykgemaak’
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan(Studie-uitgawe) — 2021
  • Klein opofferings het vir ons groot seëninge meegebring
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2004
  • Vasbeslote om Jehovah te dien
    ie Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2006
  • Deel 4—Getuies tot aan die uiterste van die aarde
    Jehovah se Getuies—Verkondigers van God se Koninkryk
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2004
w04 1/1 bl. 22-27

Lewensverhaal

Ryklik geseën omdat ons die sendinggees behou het

SOOS VERTEL DEUR TOM COOKE

Die geluid van geweervuur het skielik die rustigheid van die middag verbreek. Koeëls het deur die bome in ons tuin gefluit. Wat was aan die gang? Ons het spoedig uitgevind dat daar ’n staatsgreep was en dat Uganda nou onder die beheer van generaal Idi Amin was. Dit was 1971.

WAAROM het ek en my vrou, Ann, van die redelik vreedsame Engeland na hierdie onbestendige deel van Afrika getrek? Wel, ek is seker van nature ’n bietjie avontuurlustig, maar dit was hoofsaaklik my ouers se voorbeeld van ywerige Koninkryksdiens wat die sendinggees in my aangewakker het.

Ek onthou die warm Augustusdag in 1946 toe my ouers Jehovah se Getuies die eerste keer ontmoet het. Hulle het by die voordeur gestaan en, wat vir my na ure gevoel het, met die twee besoekers gesels. Hierdie besoekers, Fraser Bradbury en Mamie Shreve, het herhaaldelik teruggekom, en in die daaropvolgende maande het ons gesin se lewe aansienlik verander.

My ouers se moedige voorbeeld

My ouers was by baie gemeenskapsbedrywighede betrokke. Byvoorbeeld, kort voordat hulle die Bybel begin studeer het, het plakkate van Winston Churchill ons huis versier. Gedurende die naoorlogse nasionale verkiesing is ons huis gebruik as die plaaslike sentrum vir die Konserwatiewe Party se komitee. Ons gesin het ook bande met vername persone in godsdiens- en sosiale kringe gehad. Hoewel ek destyds maar net nege was, kon ek die skok van ons familielede aanvoel toe hulle uitvind dat ons Jehovah se Getuies wou word.

Die heelhartige en vreeslose voorbeeld van die Getuies met wie ons geassosieer het, het my ouers gemotiveer om in die predikingswerk bedrywig te raak. Kort voor lank het my pa in die sentrale sakegebied van Spondon, ons tuisdorp, opelugtoesprake met behulp van ’n klankversterker gehou terwyl ons kinders op strategiese plekke gestaan en Die Wagtoring en Ontwaak! opgehou het. Ek moet erken dat ek gewens het die aarde kon my insluk wanneer kinders van my skool verbygekom het.

My ouers se voorbeeld het my ouer suster, Daphne, aangespoor om te begin pionier. In 1955 het sy die Wagtoring-Bybelskool Gilead bygewoon en is sy as ’n sendeling na Japan gestuur.a My jonger suster, Zoe, het egter opgehou om Jehovah te dien.

Nadat ek klaar was met skool, het ek ’n kursus in grafiese en illustrasiekuns gevolg. In daardie dae was nasionale diensplig ’n brandende kwessie onder my medestudente. Toe ek vir hulle sê dat ek ’n gewetensbeswaarde is, het hulle gedink dat ek ’n grap maak. Hierdie kwessie het my ’n kans gegee om heelwat Bybelbesprekings met van die studente te hê. Nie lank daarna nie is ek 12 maande tronkstraf opgelê omdat ek geweier het om militêre diens te doen. Een van die studente by die kunskollege wat belangstelling in die Bybelboodskap getoon het, het later my vrou geword. Maar ek sal dat Ann vertel hoe sy die waarheid leer ken het.

Ann kom in aanraking met die waarheid

“Ons gesin was nie godsdienstig nie, en ek was nie in enige godsdiens gedoop nie. Maar ek het in godsdiens belanggestel en na enige kerk gegaan waarheen my vriende gegaan het. My belangstelling in die Bybel is gewek toe ek na die lewendige besprekings geluister het wat Tom en nog ’n Getuie met ander studente by die kollege gehad het. Toe Tom en die ander Getuie tronk toe gestuur is omdat hulle militêre diens geweier het, was ek geskok.

“Ek het met Tom gekorrespondeer terwyl hy in die tronk was, en my belangstelling in die Bybel het al hoe groter geword. Toe ek na Londen is om my sekulêre studies voort te sit, het ek ingestem om ’n Bybelstudie met Muriel Albrecht te hê. Muriel het as ’n sendeling in Estland gedien, en sy en haar ma was albei ’n groot aanmoediging vir my. Binne ’n paar weke het ek vergaderinge bygewoon en buite Victoria-stasie Die Wagtoring en Ontwaak! aangebied.

“Ek het met die Southwark-gemeente in die suide van Londen geassosieer. Die gemeente het bestaan uit geestelike broers en susters van uiteenlopende nasionaliteite, waarvan baie materieel maar min gehad het. Al was ek ’n vreemdeling, het hulle my soos een van hulle behandel. Dit was die liefde in daardie gemeente wat my werklik oortuig het dat dít die waarheid is, en ek is in 1960 gedoop.”

Dieselfde doelwitte—ander omstandighede

Ek en Ann is later in 1960 getroud, en ons doelwit was om sendelinge te word. Ons omstandighede het egter verander toe ons uitvind dat ons ’n baba gaan hê. Nadat ons dogter Sara gebore is, het ek en Ann nog steeds die begeerte gehad om in ’n land te dien waar meer Koninkryksverkondigers nodig was. Ek het aansoek gedoen vir werk in verskeie lande, en uiteindelik, in Mei 1966, het ek ’n brief van die Onderwysdepartement in Uganda ontvang waarin hulle bevestig het dat hulle vir my ’n pos het. Maar teen hierdie tyd was Ann swanger met ons tweede kind. Sommige het getwyfel of dit verstandig is om so ’n stap selfs net te oorweeg. Ons het ons dokter gaan spreek, wat gesê het: “As julle wil gaan, moet julle vlieg voordat jou vrou sewe maande swanger is.” Ons het dus onmiddellik na Uganda vertrek. Gevolglik het ons ouers nie ons tweede dogter, Rachel, gesien voordat sy twee jaar oud was nie. Noudat ons self kleinkinders het, kan ons werklik die selfopofferende gees van ons dierbare ouers waardeer.

Dit was opwindend sowel as oorweldigend om in 1966 in Uganda aan te kom. Toe ons van die vliegtuig afklim, is ons onmiddellik getref deur die kleure. Dit was so helder. Ons eerste huis was naby die dorpie Iganga, wat omtrent 50 kilometer van Jinja af was, ’n dorp by die oorsprong van die Nylrivier. Die naaste Getuies was ’n afgesonderde groepie in Jinja. Die sendelinge Gilbert en Joan Walters en Stephen en Barbara Hardy het na die groep omgesien. Ek het ’n oorplasing na Jinja gevra sodat ons van groter hulp vir hierdie groep kon wees. Kort na Rachel se geboorte het ons na Jinja verhuis. Daar het ons die vreugde gehad om saam met die klein groepie getroue Getuies te dien en te sien hoe dit groei en later die tweede gemeente in Uganda word.

Ons diens as ’n gesin in die buiteland

Ek en Ann voel dat ons nie ’n beter omgewing kon gekies het om ons gesin groot te maak nie. Dit was wonderlik om saam met sendelinge van verskillende lande te werk en die jong gemeentetjie te help groei. Ons het die assosiasie met ons Ugandese broers en susters, wat ons dikwels tuis kom besoek het, baie geniet. Stanley en Esinala Makumba was veral ’n groot bron van aanmoediging vir ons.

Maar die broers was nie ons enigste besoekers nie, aangesien ons omring was deur ’n ongelooflike verskeidenheid wild. Seekoeie het snags uit die Nylrivier gekom en tot by ons huis geloop. Ek onthou nog baie goed toe daar ’n ses meter lange luislang in ons tuin was. Soms het ons die wildtuine besoek, waar ons leeus en ander wilde diere vry kon sien rondloop.

In die bediening was ons ’n vreemde gesig vir die plaaslike mense, wat nog nooit vantevore ’n stootwaentjie gesien het nie. Terwyl ons van huis tot huis gegaan het, is ons gewoonlik deur ’n string kindertjies gevolg. Mense het met respek na ons gekyk en dan aan die wit baba geraak. Die predikingswerk was ’n vreugde omdat die mense so beleefd was. Ons het gedink dat almal in die waarheid sou kom, omdat dit so maklik was om Bybelstudies te begin. Maar baie het dit moeilik gevind om weg te breek van onskriftuurlike tradisies. ’n Hele paar het egter die Bybel se hoë sedelike standaarde aangeneem, en die gemeente se getalle het toegeneem. Ons eerste kringbyeenkoms in Jinja in 1968 was ’n mylpaal. Ons het aangename herinneringe van hoe sommige met wie ons die Bybel gestudeer het, in die Nylrivier gedoop is. Maar ons vrede sou kort daarna verbreek word.

Die verbod—’n toets van geloof en vindingrykheid

In 1971 het generaal Idi Amin die bewind oorgeneem. Daar was groot verwarring in Jinja, en die toneel wat aan die begin beskryf is, het plaasgevind terwyl ons ’n koppie tee in ons tuin geniet het. Gedurende die volgende twee jaar is die groot Asiatiese gemeenskap uit die land gesit. Die meeste buitelanders het besluit om die land te verlaat, en skole en mediese fasiliteite het erg daaronder gely. Toe is die skokkende aankondiging gemaak dat die werk van Jehovah se Getuies verbied is. Weens besorgdheid oor ons veiligheid het die Onderwysdepartement ons na die hoofstad, Kampala, verskuif. Hierdie stap was op twee maniere voordelig. Nie baie mense in Kampala het ons geken nie, en ons het dus groter vryheid gehad. Daar was ook baie werk in die gemeente en in die veldbediening.

Brian en Marion Wallace en hulle twee kinders was in dieselfde posisie as ons, en hulle het ook besluit om in Uganda te bly. Ons het hulle vriendskap gedurende daardie moeilike tye baie waardeer terwyl ons saam in die Kampala-gemeente gedien het. Die ondervindinge wat ons gelees het van ons broers wat in ander lande onder ’n verbod moes dien, het ons nou veral bemoedig. Ons het in klein groepies bymekaargekom, en een keer per maand het ons in groter groepe in die Entebbe- Botaniese Tuin vergader en gemaak asof ons partytjie hou. Ons dogters het gedink dat dit ’n wonderlike idee is.

Ons moes baie versigtig wees terwyl ons die predikingswerk doen. Wit mense wat Ugandese huise besoek, sou te veel aandag trek. Daarom het winkels, woonstelle en sommige kampusse ons gebied geword. Een metode wat ek in winkels gebruik het, was om vir ’n verbruiksartikel te vra wat ek geweet het nie meer beskikbaar was nie, soos suiker of rys. As die winkelier sy spyt uitgespreek het oor wat besig was om in die land te gebeur, het ek oor die Koninkryksboodskap begin praat. Hierdie benadering het goed gewerk. Soms is ek by die winkel weg met nie net ’n reëling vir ’n herbesoek nie, maar ook ’n klein bietjie van ’n skaars verbruiksartikel.

Intussen het geweld oral om ons uitgebreek. Omdat die betrekkinge tussen Uganda en Brittanje verder agteruitgaan het, het die owerheid nie my kontrak hernieu nie. Ons was dus baie hartseer toe dit in 1974 ons beurt was om, ná agt jaar in Uganda, van ons broers afskeid te neem. Maar ons sendinggees het nie verflou nie.

Na Nieu-Guinee

In Januarie 1975 het ons die geleentheid aangegryp om in Papoea-Nieu-Guinee te gaan werk. So het agt jaar van vreugdevolle diens in hierdie deel van die Stille Oseaan begin. Ons lewe saam met die broers en in die bediening was ryk en lonend.

Ons gesin onthou ons verblyf in Papoea-Nieu-Guinee as die tyd van dramas—Bybeldramas. Ons was elke jaar betrokke by die voorbereiding van dramas vir die streekbyeenkoms, en watter pret het ons tog nie gehad nie! Ons het die assosiasie met talle geestelikgesinde gesinne geniet, en hulle het ’n positiewe invloed op ons dogters gehad. Ons oudste dogter, Sara, het met ’n spesiale pionier, Ray Smith, getrou, en saam het hulle as spesiale pioniers naby die grens van Irian Jaya (nou Papoea, ’n Indonesiese provinsie) gedien. Hulle huis was ’n grashut in die plaaslike dorpie, en volgens Sara was die tyd wat sy in daardie toewysing deurgebring het, uitstekende opleiding vir haar.

Veranderde omstandighede

Teen dié tyd het my ouers ekstra sorg nodig gehad. Hulle het ingestem om eerder by ons te kom bly as dat ons terugkeer Engeland toe, en in 1983 het ons almal Australië toe getrek. Hulle het ook ’n rukkie by my suster Daphne deurgebring, wat nog in Japan was. Ná my ouers se dood het ek en Ann besluit om aan die gewone pionierdiens deel te neem, en dit het tot ’n voorreg gelei waarvoor ek glad nie opgewasse gevoel het nie.

Ons het pas begin pionier toe ons genooi is om kringwerk te doen. Sedert my kinderdae was die kringopsiener se besoek vir my ’n spesiale geleentheid. Nou was ék ’n kringopsiener. Dit was die moeilikste toewysing wat ons tot op daardie stadium van ons lewe gehad het, maar keer op keer het Jehovah ons gehelp op maniere wat ons nie vantevore ervaar het nie.

Gedurende broer Theodore Jaracz se sonebesoek aan Australië in 1990 het ons hom gevra of ons te oud is vir voltydse diens in die buiteland. Hy het gesê: “Wat van die Salomon-eilande?” Toe ek en Ann albei in ons vyftigerjare was, was ons dus uiteindelik op pad na wat ons eerste amptelike sendingtoewysing sou word.

Ons dien op die “Gelukkige eilande”

Die Salomon-eilande staan bekend as die Gelukkige eilande, en ons diens hier die afgelope dekade was inderdaad ’n gelukkige tyd. Ek en Ann het die vriendelike goedhartigheid van die broers en susters op die Salomon-eilande ondervind terwyl ek as ’n streekopsiener gedien het. Die gasvryheid wat teenoor ons betoon is, het ons harte geraak, en almal was so geduldig terwyl ek probeer het om dinge te verduidelik in wat ek gedink het goeie Salomon-eilandse Pidgin was—’n taal met ’n woordeskat wat sekerlik een van die kleinste ter wêreld is.

Kort nadat ons op die Salomon-eilande aangekom het, het teenstanders probeer keer dat ons ons Byeenkomssaal gebruik. Die Anglikaanse kerk het ’n klag teen Jehovah se Getuies ingedien en beweer dat ons nuwe Byeenkomssaal in Honiara op ’n deel van hulle grond gebou is. Die regering het hulle bewering gesteun, en ons het gevolglik appèl aangeteken by die hoër hof. Die uitslag van die appèl sou bepaal of ons ons nuwe Byeenkomssaal met sy 1 200 sitplekke moes afbreek.

Die hofsaak het ’n hele week geduur. Die staatsaanklaer het ’n selfvoldane uitdrukking gehad terwyl die saak teen ons gestel is. Toe, met die een kragtige argument ná die ander, het ons regsgeleerde, broer Warren Cathcart van Nieu-Seeland, elke deel van hulle saak betwis en ongeldig bewys. Teen Vrydag het nuus oor die hofdrama wyd versprei, en die hof was stampvol hooggeplaaste geestelikes, regeringsamptenare en ons Christenbroers. Ek onthou die fout op die amptelike hofkennisgewing. Dit het gelui: “Die regering van die Salomon-eilande en die Kerk van Melanesië vs. Jehovah.” Ons het gewen.

Die betreklike rustigheid van die Gelukkige eilande sou egter nie voortduur nie. Weer eens het ek en Ann ons te midde van die onrus en geweld van ’n militêre staatsgreep bevind. Etniese botsings het tot burgeroorlog gelei. Op 5 Junie 2000 is die regering omvergewerp, en die hoofstad het onder die beheer van gewapende magte gekom. Ons Byeenkomssaal het weke lank gedien as ’n sentrum vir ons broers wat sonder heenkome was. Die owerheid was verstom dat ons Christenbroers uit verskillende etniese groepe soos een vreedsame familie saamgewoon het in die Byeenkomssaal. Wat ’n wonderlike getuienis was dit tog nie!

Selfs die soldate het die neutraliteit van Jehovah se Getuies gerespekteer. Dit het ons in staat gestel om een van die bevelvoerders te oorreed om ’n vragmotor met lektuur en ander voorraad na ’n klein groepie broers deur te laat wat agter die vyandelike linies van ons afgesny was. Toe ons die families vind wat al ’n paar maande van ons geskei was, kon niemand die trane keer nie.

Soveel om voor dankbaar te wees

As ons terugkyk op ons lewe in Jehovah se diens, het ons soveel om voor dankbaar te wees. As ouers was ons geseën om te sien hoe albei ons dogters en hulle mans, Ray en John, voortgaan om Jehovah getrou te dien. Hulle was ’n ware steun vir ons in ons sendingtoewysing.

Die afgelope 12 jaar het ek en Ann die voorreg gehad om by die takkantoor van die Salomon-eilande te dien, en gedurende hierdie tyd het ons gesien hoe die getal Koninkryksverkondigers op die Salomon-eilande verdubbel tot meer as 1 800. Onlangs het ek die verdere voorreg ontvang om die Skool vir Takkomiteelede in Patterson, New York, by te woon. Ons het waarlik ’n ryk lewe met talle seëninge geniet omdat ons die sendinggees behou het.

[Voetnoot]

a Sien die artikel “We Did Not Procrastinate” in The Watchtower, 15 Januarie 1977.

[Prent op bladsy 23]

Op ons troudag, 1960

[Prent op bladsy 24]

In Uganda, Stanley en Esinala Makumba was ’n bron van aanmoediging vir ons gesin

[Prent op bladsy 24]

Sara loop by bure se hut in

[Prent op bladsy 25]

Ek het prente geteken om mense op die Salomon-eilande te leer

[Prent op bladsy 25]

Saam met ’n afgesonderde gemeente op die Salomon-eilande

[Prent op bladsy 26]

Ons gesin vandag

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel